**Oordenking # 9 : Jesus leef! Hy het opgestaan!**
AGTERGROND:
Die graf is leeg en die engel verklaar: Hy is nie hier nie, Hy het opgestaan!
In ‘n wêreld waar vroue as minderwaardig teenoor mans geag was, was ook hulle getuienis beskou as onbelangrik en liggewig. Jesus verskyn eerste aan die vroue en hulle word die eerste getuies van Sy opstanding uit die dood. Dit bevestig dat Sy hart nog altyd was vir hulle om ingesluit te wees en dit beklemtoon Sy bediening waar Hy hulle waardigheid herstel het as gelyke van mans.
Jesus het die dood vir ewig oorwin, maar Hy het dit nie weggevat nie. In al sy vele vorme, sal dood altyd deel van die lewe aan hierdie stukkende kant van die ewigheid wees en dit sal altyd verlies meebring. Sy oorwinning oor die dood beteken dat Hy ook, nadat Hy die mensdom vrygekoop het van sonde en ewige dood, vir elkeen wat Hom aanneem, die weg gebaan het na toegang tot ‘n ewige lewe aan die volmaakte kant van die ewigheid na die dood.
“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Johannes 3:16 AFR20
BELEEF DIT:
Hierdie deel hoef jy nie te betree nie, jy leef klaar in dit. JESUS LEEF! Ons lewe nou in ‘n tyd tussen Jesus se opstanding en Sy wederkoms. Die wêreld om ons is steeds stukkend en ons is nie kwytgeskeld van pyn en lyding nie. Ons gaan verliese ly deur geliefdes af te staan aan die dood en ons gaan verliese ly deur klein stukkies dood in dele van ons lewens. Maar ons eie dood is nou die oorstap vanaf die stukkende kant van die ewigheid met pyn en lyding na die volmaakte kant van die ewigheid waar geen pyn en lyding is nie. Jesus het nie net vir ons HOOP gebring nie, Hy IS ons HOOP.
“Jesus sê vir hom: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Johannes 14:6 AFR20
Nou kan ons met heelhartige oorgawe glo:
“Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins;”
Filippense 1:21 AFR20
Jesus is na Sy Vader toe om vir ons plek te gaan voorberei en Hy het die Heilige Gees gestuur om by ons te wees tot aan die einde van tyd, aan hierdie stukkende kant van die ewigheid. Sy laaste opdrag aan almal van ons (gelowiges), word die GROOT OPDRAG genoem:
“‘Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.’”
Matteus 28:19-20 AFR20
Dis Sy GROOT OPDRAG, nie ons KLEIN AFTREK of AFKNYP of AFKNOU of AFSKEEP of AFKEUR nie.
Jesus het, te midde van Sy afgryslike lyding, daar aan die kruis vir ons, as gelowiges, aan mekaar toevertrou in geloofsfamilies waar ons mekaar moet liefhê soos wat Hy liefhet. Om Sy bediening te kan voortsit, moet ons doen wat Hy gedoen het. Dit is so EENVOUDIG dat ongeleerdes dit regkry, maar tog so MOEILIK dat hoogsgeleerdes daarmee sukkel.
- Sy liefde is onvoorwaardelik vir ALMAL, selfs die randfigure, siekes, gestremdes, armes en vroue.
- Hy het mense bedien met ‘n gebruikte, gevlekte voorskoot aan, sonder die blinkskoon van ‘n goue kroon van verhewe status op Sy kop.
Ek het in 2023 besef dat om Jesus se kruis te besoek, nie iets is wat ek slegs gedurende Paasfees wil doen nie. Die onbegrensde wreedheid en die gevolglike rousmart versmoor my siel, maar hoe dieper ek die duisternis voel, hoe blinker word die onuitdoofbare Lig van HOOP. Ek wil graag hierdie Lydensweek-reeks afsluit met iets wat my steeds aangryp elke keer wanneer ek daarna kyk. Dit is ‘n video-greep uit die reeks The Chosen (Seisoen 1 Episode 8) waar Jesus ‘n gesprek voer met die Samaritaanse vrou by die put in Sigar. In Afrikaans vertaal:
Vrou (in ‘n breekstem vol stukkendseer) : Ek word deur ander mense verwerp…
Jesus (in ‘n sagte stem vol aanvoelbare deernis) : Ek weet…maar nie deur die Messias nie!
Baie dankie dat jy hierdie Lydensweek-reis saam met my onderneem het!






Lulu, mag hierdie boom wat jy vanjaar in die Naam van die HERE geplant en versorg het, dikwels in die nagtelike ure wanneer ons ander slaap, nog jare en jare lank vrugte dra… baie vrugte wat sal hou. Jou toewyding en volharding is ‘n voorbeeld en inspirasie. En mag elkeen wat hier lees, vyf, ses keer kyk, totdat dit lig word in sy/haar siel: ”Ek word deur ander mense verwerp…” Jesus: ”Ek weet… maar nie deur die Messias nie.”
Baie dankie vir jou waardering en die diepte van jou deelname aan hierdie reis, Maretha! ❤️