EK IS SO JAMMER… is die enigste woorde wat sy lees wanneer sy die briefie uiteindelik oopvou, maar dan oorval die blinde woede haar weer en sy frommel die briefie binne-in haar gebalde vuis op en gooi die papierballetjie met mening van haar af weg. Dit val tussen die agterkant van die swaar laaikas en die muur in en land op die stowwerige stukkie mat.
Dis vroegoggend, maar die aanvoeltemperatuur as gevolg van die heersende hittegolf in die middel van die Lente het sekerlik reeds die kwik verby 30 laat styg. By die voordeur groet Kellie elkeen van haar kinders met ‘n soentjie op die voorkop en ‘n drukkie. Sy bly binne in die koeligheid van hulle herehuis se knap lugversorging en kyk deur die venster hoe haar kinders in Flicka se bussie spring oppad skooltoe. Sy, Flicka en twee ander buurvrouens het verlede jaar met die skoolsaamryklub begin en dit werk soos ‘n droom, want elkeen hoef net elke vierde week kinders rond te ry vir ‘n week lank. Hulle woon almal taamlik naby aan mekaar op ‘n eksklusiewe landgoed en hulle kinders is almal ingeskryf by dieselfde vooraanstaande privaatskool, aangrensend tot die landgoed. Gus is op ‘n sakereis in Londen tot aan die einde van die week en sy het ‘n lang lysie van take om te verrig voordat hy terugkeer. Daar is die afhandeling van reisreëlings, die afhaal van visums en toepaslik-noodsaaklike inkopies waarna sy eintlik uitsien, want hulle jaareinde ski-vakansies in die Alpe, net soos hulle Afrika-wildtuin-wintervakansies, is altyd ‘n opwindende hoogtepunt vir hulle gesin van vier. Maar dis ook hoogtyd dat sy aandag skenk aan daardie vervlakste boks in die garage en sy sien glad nie uit daarna nie. Die een wat reeds 7 keer, onoopgemaak, saam met haar en Gus getrek het. Dis ook die enigste boks wat saam met haar destyds uit haar ouerhuis uitgetrek het en selfs daar ‘n trek meegemaak het sonder dat dit ooit oopgemaak is. Kellie het dit egter baie duidelik gemerk as haar privaat- en vertroulike eiendom en dit is sedertdien as sodanig hanteer. Die inhoud daarbinne het ten minste 20 jaar gelede laas lig gesien en as sy eerlik met haarself is, kan sy nie regtig onthou presies watter herinneringe daarbinne weggebêre is nie en sy is nie seker of sy regtig wil uitvind nie. Hoewel die boks vir die grootste gedeelte van haar huwelik met Gus bloot, heeltemal vergete, stof opgegaar het in verskeie garages, was daar wel tye waar sy dit raakgesien het en dan oorweeg het om dit net so te verbrand. Maar sy kon haarself nog nooit kry om daardie drastiese gedagte deur te voer nie en nadat Gus verlede naweek ‘n geringe besering opgedoen het as gevolg van die simpel boks, het sy besluit dat sy dit hierdie week gaan oopmaak en uitsorteer. Met die wegry, gooi Flicka vir Kellie die afgespreekte handsein vir hulle weeklikse middagete-afspraak, drie vingers wat ‘n W vorm. Dit verwys na Woolies, hulle gunsteling uithangplek vir goeie, gesonde kos. Dit beteken dat Kai en Jordan vandag langer by die skool agterbly, wat vir haar nog meer alleentyd gaan verseker en sy besluit daar en dan, dat vandag simpelboksdag is en sy loop sommer direk garage toe om te begin.
Kellie se gedagtes gaan terug na haar tienerjare en sy kan daardie laaste trek van haar gesin nog taamlik goed onthou. Na urelange gewoel en gewerskaf, was die simpelboks en die groot laaikas teen die muur die laaste twee items wat nog rondgestaan het in Kellie se kamer. Sy was uiters bewus daarvan dat haar ma en stiefpa gespanne en opgewerk in die kar vir haar gewag het en dat haar kleinboetie saggies gehuil het, maar sy moes net eers daardie laaste item in haar boks gaan sit voordat dit in die trektrok gelaai kon word. Sy was angstig toe sy nie die kleefband kon opspoor om haar boks mee toe te plak nie, maar haar verligting was groot toe een van die vriendelike laaimanne van die trekmaatskappy haar verseker dat hy die boks sal toeplak voordat hy dit in die trektrok laai. Sy het hom vertrou en kon by haar gesin aansluit sodat hulle in die pad kon val. Dit was ‘n 700 kilometer reis, weg van die dorp af waar haar ouboet sy lewe verloor het, en hulle sou waarskynlik eers diep in die nag aankom op die dorp waar haar ma uiteindelik haar stiefpa sou uitskop. Die herinnering aan daardie tyd laat haar derms knoop en haar keel toetrek, maar sy besef ook dat sy seker weer iewers haar ma sal moet bel. Dit is al Oktober en die laaste keer wat hulle gepraat het, was verlede Kersfees. Dan is daar ook die laaste twee weke se knaende teksboodskappe en onbeantwoorde oproepe van haar ma en broer af wat sy summier geïgnoreer het en sekerlik ook iewers sal moet hanteer. Kellie het dit so mooi reggekry om haar familie op ‘n stewige afstand te hou met groot elektroniese inbetalings en luukse geskenke wat sy aanlyn kon koop en laat aflewer. Hulle het oor die jare heen goed daarby aangepas, maar vir een of ander rede, het hulle die afgelope twee weke al haar privaatheidsgrense oorskry. Na haar broer se eerste BEL MY ASSEBLIEF DRINGEND het sy hom gemute net soos sy reeds jare gelede met haar ma gemaak het. Nog voordat sy die kleefband van die boks kan oopsny, lui haar foon en sien sy Gus se profielfoto as identiteitsaanduiding van die persoon aan die anderkant van die inkomende oproep. Sy antwoord opgeruimd en speels, maar dit neem minder as drie sekondes van die hele 22-sekonde-oproep, om ‘n verlammende skokgolf deur haar hele lyf te stuur.
EK WIL NOOIT SOOS JY WEES NIE! Dis die woorde wat Kellie haar ma een aand toegesnou het tydens hulle laaste kuier. Dit was ongeveer ‘n jaar nadat Gus se maatskappy hom bevorder het tot uitvoerende direkteur en hy, Kellie en klein Kai Gauteng toe moes verhuis. Kellie se ma het vir ‘n paar dae by hulle gekuier om na Kai om te sien terwyl Kellie in die hospitaal was met Jordan se geboorte en ook uit te help vir die eerste paar dae na hulle ontslag uit die hospitaal. Kellie se kinderoppasser het skielik ‘n groot krisis oorgekom en haar ma was hulle enigste hulpverleningsopsie. Nog voordat Kellie en Jordan uit die hospitaal ontslaan is, het Kellie reeds begin foutvind met alles wat haar ma doen en/of nie doen nie. Hoewel Gus sy skoonma waardeer en bedank het, was hy, weens werksverpligtinge, skaars tuis en was sy uitgelewer aan Kellie se toenemend-aanvoelbare afkeur van haar doen en late. Soos wat Kellie se afkeur gegroei het, het haar ma se selfversekering weggesmelt en uiteindelik was selfs haar regmaakpogings volslae mislukkings in Kellie se oë. Op die voorlaaste aand het Kai op sy ouers se bed aan die slaap geraak terwyl hy TV gekyk en Kellie vir Jordan gevoed het. Kellie se ma wou help deur slapende Kai na sy bedjie toe te dra en sy het dit reggekry om hom op te tel sonder dat hy wakkerword en te dra tot by sy bed. Maar die ongeluk wat hierna gevolg het, was die laaste hooi wat onmiddellik Kellie se frustrasie-kameel se rug gebreek. Met die oorbuk om Kai neer te lê, het Kellie se ma haar balans verloor en vorentoe geval. Kai het wakkergeskrik en begin huil toe sy ouma gedeeltelik bo-op hom geval het. Die veiligheidsreëling was onherstelbaar flenters, Kai was ontroosbaar en sy ouma het met moeite opgestaan. Dit was op hierdie punt dat Kellie losgetrek het met ‘n woordebraaksel-uitbarsting wat diep in haar hart aangevuur is deur opgeboude woede en haat. Kai het nie daardie aand seergekry nie, maar sy ouma se lyf en siel het wel baie seergekry en sy het die volgende oggend vertrek terug huistoe. Kellie het sekergemaak dat daar nooit weer besoeke sou wees nie.
Welma se slaapkamer is so goed ingerig dat sy vanuit haar bed die heel beste aansig op elke sonsopkoms het en net buite die venster is daar ‘n blombak met die helderste blommetjies wat sy heeltyd kan sien. Oorkant haar bed, aan die teenoorstaande kant van die kamer staan ‘n muureenheid waarop ‘n groot veertigduim-4K slimTV staan en opsigtelik-weggebêre in die onderste rakke, is daar ‘n iPad en ‘n Mac met ‘n iPhone bo-op die bedkassie langs haar bed. Al die indrukwekkende tegnologie was kersgeskenke van Welma se dogter af en sy kon dit alles tog so uitstekend benut gedurende die maande sedert Kersfees en veral gedurende die laaste weke en dae. Klein Riley, Welma se 20-maande-oue kleindogter, het haar ouma noukeurig opgevoed in die fyner besonderhede van kindervermaak en die twee het gereeld Disney musiekvideos of ‘n episode van Bluey saam op die slimTV gekyk. Met die Mac en iPad kon sy haar gedagtes op haar eie lewensreis begin vaspen en sy kon ook briewe begin skryf aan haar geliefdes. Maar selfs die heel beste iPhone met 5G connectivity kon nie die stukkende connection tussen haar en haar dogter herstel nie. Welma het aanhou probeer, maar haar boodskappe en oproepe het onbeantwoord gebly.
Twee weke gelede het Welma in haar kamer ingetrek nadat die dierbare personeel by Hospice ‘n erewag gevorm het om haar soos ‘n held te ontvang en verwelkom. Hulle het sekergemaak dat sy elke dag Woolies se vleibessiesap kry en saam met elke middag- en aandete was daar ook ‘n bakkie rooi kersie-jellie en ‘n klein boksie Ultramel vla. Gedurende die eerste week het almal gehelp dat Welma nog van haar skryfstukke kon afrond asook die Passiespel wat sy vir aanstaande Paasfees geskryf het, kon voltooi. Sy en Riley kon ook nog een episode van Bluey saamkyk op die tweede middag. Die indrukwekkende versameling van sterk pynverligtingskelkies het reeds lankal weinig min gedoen om Welma se weefselvretende kankerpyn te bedaar, maar sy het altyd haar beste poging aangewend om te glimlag. Sedert die afgelope naweek het haar glimlaggies begin verflou en verdwyn, haar bessiesap, jellie en vla onaangeraak gebly en het sy meer en dieper begin slaap. Haar slimTV speel net YouTube videos van die see met kalmerende musiek in die agtergrond. Vanoggend het die Hospice bestuurder gebel om al Welma se geliefdes te ontbied en hulle staan met swaar harte rondom haar bed. Ryno en Hannelie is daar, maar Riley is by haar dagsorgskooltjie. Daar is ook ‘n groepie boesemvriende en saamreisgenote asook die Hospice personeel. Kellie, Gus, Kai en Jordan is nie daar nie. Net voordat die dominee sy hartroerende gebed kan begin, skiet Welma se oë skielik oop. Daar is ‘n skitterblink in haar oë wat haar hele gesig verhelder en met ‘n deurdringende glimlag maak sy oogkontak met elkeen om haar bed voordat sy opkyk en begin praat. DIE LIG IS SO ONGELOOFLIK MOOI, KAN JULLE DIT SIEN? KYK, DAAR IS SCHALK EN DRIES! EK KOM, JULLE! En dan sluit Welma haar oë vir die heel laaste keer.
Kellie sou die simpelboks eers na haar ma se gedenkdiens oopmaak en die eerste item wat dadelik haar oog gevang het, was ‘n opgefrommelde papierballetjie. Die opgefrommelde briefie in haar ma se eie handskrif wat sy nooit klaargelees het nie. Die briefie wat sy weggegooi het. Die vriendelike laaiman van destyds het dit waarskynlik agter die laaikas opgetel en in haar boks gegooi voordat hy dit toegeplak het. Kellie maak dit versigtig oop en sy lees die keer alles.
“EK IS SO JAMMER…
My liefste mooiste Klappertjie
Ek is so jammer oor al die seerkry wat ek vir jou veroorsaak! Ek wens dat ek dit kan uitvee, maar dis nie moontlik nie. Ek weet dat jy dit verafsku wanneer ek sê dat dood ‘n mens vir altyd verander, maar dis die waarheid. Ek weet dat jy dink dat dit my skuld is dat Schalk dood is en ek stem saam met jou, ek voel ook so. Ek moes mooier geluister het, ek moes fyner gekyk het en ek moes van beter geweet het, want Pappa se ongeluk lank terug het ons almal so hard geslaan. Ek weet dat jy dink dat dit my skuld is dat jy so seerkry en ook daarmee stem ek saam met jou. Elke keer wat ek ure lank verdwyn het agter ‘n toe deur om te verdrink in my eie trane en drank, het ek vir jou en Ryno afgesny om my eie seer te probeer betermaak. Dit het vir niemand gewerk nie en ek is so jammer! Ek belowe jou dat ek hulp gaan kry.
Kan ek en jy asseblief ‘n nuwe begin maak op ‘n nuwe reis?
Met al my liefde van
Jou Mammalap
xoxoxo”
Kellie onthou baie goed hoe Kellie-Skoenlappertjie uiteindelik Klappertjie geword het, die troetelnaam wat haar ma haar gegee het omdat sy, as kleindogtertjie, so betower was deur skoenlappers. Klappertjie was die spesiaalste skoenlappertjie met brandweerwarooi en songeel vlerkies en hemelblou ogies. Sy onthou hoeveel stories sy en haar ma opgemaak het en dan in selfgemaakte boekies vasgevang het. Haar ma het die stories geskryf en sy het die prentjies geteken en ingekleur. Al die boekies is in hierdie boks, die simpelboks. Dan breek die damwal en Kellie kan haar trane nie meer keer nie. Soveel woede en soveel haat opgelos in ‘n stortvloed van snot en trane. Haar kleinboet, Ryno, moes vir Gus in Londen bel om te sê dat Welma gesterf het. Haar ma. Welma. Dood voor Kersfees. Dood voordat hulle weer gepraat het. In ‘n beswyming het sy daardie dag opgestaan en die onoopgemaakte simpelboks net so gelos. Behalwe vir die gedenkdiens, kan Kellie nie veel van die laaste dae onthou nie en voel sy steeds asof sy in ‘n beswyming vasgekeer is. Sy het aandagtig geluister na opsigtelik-dierbare mense wat met hartverskeurende liefde gepraat het van ‘n Welma wat sy nooit geken het nie. Die Welma wat nie regtig die skuld moes dra vir die gru-ongeluk waarin haar geliefde anderhelfte, Dries, gesterf het toe Ryno net ‘n baba was nie. Die Welma wat nie regtig die skuld moes dra vir 17-jarige Schalk se selfdood weens dodelike depressie nie al moes sy sy lewelose liggaam lossny van die balke af. Die Welma wat nie net pieperig-skynsieklik en vetgevreet was nie, maar teen ‘n onsigbare wrede vyand moes baklei wat nie eers die beste dokters aanvanklik kon vaspen voordat dit heeltemal te laat was nie. Die Welma wat haar briefiebelofte gestand gedoen het en hulp gekry het om met ‘n gesonde siel ander mense se lewe te kon verryk. Die Welma wat werklik jammer was, soos wat sy in daardie papierballetjie-briefie geskryf het en met woorde wat weer by die gedenkdiens weerklink het. Die papierballetjie-briefie wat sy weggegooi het. Welma IS haar ma en sy was nie die skurk wat Kellie van haar gemaak het nie. Nou is net sy en Ryno oor en hy is toe nie net die ruggraatlose mama’s boy wat sy hom uitgemaak het nie. Hy was daar vir Welma, want hy het saam met haar gereis tot aan die einde. Kellie voel onherstelbaar stukkend, uitmekaaruit geruk en sy het geen idee hoe om al die stukke weer bymekaar te maak nie. Welma was tog so heeltemal reg… dood verander ‘n mens vir altyd.
***
Jordan James, skryfskepper van die Mammalap-reeks kinderboeke wat reeds met verskeie gesogde pryse bekroon is en nuwe mamma van 7-maande-oue Welmé, kry gereed vir ‘n televisie-onderhoud nadat sy pas weer ‘n paar honderd aanhangers se harte warm laat klop het deur hulle kopieë van haar nuwe boek te onderteken. Op 24-jarige ouderdom is Jordan opvallend mooi met haar blonde krulle en helderblou oë, maar dis haar warm glimlag en innemende persoonlikheid wat mense en kameras na haar toe aantrek. “Jordan, vertel ons asseblief meer oor die karakters Mammalap en Klappertjie, is hulle gebasseer op werklike persone?” KLAPPERTJIE IS MY MA, KELLIE, EN MAMMALAP IS WELMA, MY OORLEDE OUMA, NA WIE EK MY DOGTERTJIE VERNOEM HET. DOOD EN NALATENSKAP HET EEN DING IN GEMEEN….DIT VERANDER ‘N MENS VIR ALTYD.






Lulu, hoe baie, baie temas raak jy in hierdie kortverhaal aan: dat depressie eintlik ‘n siekte is. Dat iemand op 17 aan hierdie siekte kan sterf. Dat daar tye is wanneer selfs ‘n moeder die verloop van dié siekte, net soos die verloop van sommige virale siektes, nie kan stuit of verhinder nie. Drie dinge wat diep tot my gespreek het, is a] dat elkeen van ons na verterende woede in onsself moet kyk. Is dit ooit geregverdig? b] Dat God inderdaad deur opgefrommelde papierballetjies kan werk. c] Dat spyt te dikwels te laat kom. Ag, baie dankie vir so ‘n evokatiewe storie!
Dankie vir jou beskrywende waardering, Maretha!