Ek: “Babe, die kosvrou is by die hek.”
Assie: “Sy was alreeds hier vroeër die week.”
Ek: “Ja, ek weet, maar sy staan weer by die hek. Om honger te wees, maak dat ‘n mens bakhand teruggaan na die vriendelike, goedhartige mense wat hulle harte oopmaak en die nood verlig met ietsie om te eet.”
Hierbo is ‘n gesprek wat ek vroeër vanmiddag met my geliefde Assie gehad het toe ek, deur my kantoorvenster, die “bekende” vrou by ons hek sien staan het. Assie was eerste om met haar te connect toe sy maande gelede die eerste keer kom vra het vir ietsie te ete. Ek het doelbewus ‘n backseat geneem, want ek moet leer om my teer, onbegrensde hart te beskerm. My hart het mos die vermoë om die egte noodbehoeftigheid van die behoeftigstes onder ons soos ‘n spons op te suig. Ek ken nie haar naam nie, ek het nog nie ‘n enkele woord met haar gepraat nie, maar haar egte noodbehoefte laat my hart kramp. Assie het al vertel dat verskeie mense in ons buurt haar gereeld wegjaag soos ‘n sleg hond en dit breek my hart. Ek het geweet dat my geliefde, goedhartige man haar nie met leë hande sou wegstuur nie en hy het nie. Inteendeel, hy koop elke week ekstra nie-bederfbare kosprodukte net vir haar.
Op een of ander onverklaarbare wyse, vereenselwig ek vandag ekstra erg met haar. Die kosvrou. Ek is skaam dat ek haar so genoem het. Sy is ‘n dapper vrou in ‘n uitmergelende oorlewingstryd gewikkel. Haar menswaardigheid is waarskynlik reeds lankal papgeslaan. Ek vermoed dat sy nie angstig is oor hoe laat die Bokke Saterdag speel nie. OF angstig oor die ongerief van ‘n simpel plaasvervangings-huurmotortjie terwyl die Jeep herstel word nie. OF angstig oor SARS se terugbetaling as deposito op ‘n seevakansie nie. OF angstig oor wie die naweek na die troeteldiere gaan omsien vir ‘n uitstedige familietroue op ‘n luukse landgoed nie. Ek WEET dat sy angstig is oor waar sy haar volgende kos gaan kry. Sy is gevaarlik-brandmaer en ek kan nie help om die nare gevoel te kry dat indien sy vandag hier weggeloop het met leë hande, dit dalk hartverskeurend-noodlottig kon eindig vir haar.
Wie is die dapper vrou? Net nog ‘n onbekende randfiguur? Ek wil jou gou herinner aan die verwoestingsmoontlikhede veroorsaak deur goete soos wêreldpandemies en die onstabiliteit van die invloedrykste wêreldgeldmarkte wat in ‘n oogwink kan verongeluk. Verder, neem ook in ag dat dit amper altyd ontstaan by die selfsug en gierigheid van manipulatiewe boosdoeners aan die bopunt van die wêreld se magspiramiedes. Waar dink jy gaan jy jouself bevind as die maatskappy waarvoor jy werk in die hek duik, die wanbelegging van jou pensioengeld dit soos mis voor die son laat verdwyn en jy uiteindelik al jou besittings verkoop en al jou voorsieningsgeleenthede uitgeput het? Kom ek help jou uit….as dit met my gebeur, dan IS ek mos sy!
Ek VOEL haar verwerping. Ek VOEL haar verlatenheid. Ek VOEL haar minderwaardigheid. Ek VOEL haar seer en stukkend. My hartspons het reeds ‘n rukkie gelede die pylvak van versadigheid bereik en ek vermoed dat dit na Sondag se kosbare spreekgeleentheid die wenstreep met oortuiging oorgesteek het. Ek kan nie die mense daar vergeet nie, ek kan nie die mense rondom my wat verskriklik swaarkry, vergeet nie. Kanker. Dood. Verlies. Geweld. Misbruik. My ou lekkende hartsponsie het ‘n kortsluiting in my verstand veroorsaak wat gelei het tot verskeie flaters die afgelope paar dae. Op die vooraand van my geliefde Pellissier Gemeente se gemeenskapsbeleggende Shopday, het ek óf ‘n nuwe hartspons óf ‘n groot emmer nodig. Jesus het verseker ‘n spesiaal-sagte plekkie vir mense soos die dapper vrou gehad toe Hy op aarde was. Die geringstes onder ons. Hy het Homself selfs in hulle plek gesit toe Hy gesê het dat watookal ons aan die geringstes doen (hulp of skade), ons aan Hom doen. Die dapper vrou is een van ons. Sy is nie ‘n hond nie en sy is kosbaar vir Jesus.
Here Jesus, help my asseblief met ‘n nuwe spons of groot emmer of albei sodat ek die kosbare dapper mense kan behandel soos wat ek U sal behandel?
VrygekoopteBaanbreker signing off vir noodsaaklike sielsonderhoud….






O, ek hou van jou tydelike afteken-besluit vir noodsaaklike sielsonderhoud, Lulu! Hoe wys, want ons het skrywers nodig wat oor ”kosvroue” en die verstotelinge van die samelewing skryf. Ons het suiwer siele met hulle vingers op die pols van die samelewing en op die sleutelbord van hulle rekenaars nodig. Jy praat Christustaal in ‘n dikwels swyende sameleweing. DANKIE vir ‘n tydige, nodige en diep deurleefde stuk werk. Mag die HERE hierdie woorde, nou waarskynlik onuitwisbaar in die kuberruim, ook onuitwisbaar in talle harte maak.
Dankie Maretha.