PELLISSIER SHOPDAY VIR KOSBARE MENSE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Ek het vandag die voorreg gehad om vier kosbare mense te bedien by my geliefde Pellissier Gemeente se Shopday. Dit was terselfdertyd oorweldigend en sielsverrykend. Ek deel graag my journey met julle.

 

Francina is die 59-jarige ma van ‘n dogter wat self 5 kinders het tussen die ouderdomme van 5 en 16. Francina is die enigste een wat ‘n vaste inkomste verdien en sy bid elke dag getrou dat haar dogter en die pa’s van haar kleinkinders werk kan bekom. Francina eet net die helfte van haar Russian dog en bêre die ander helfte versigtig in ‘n apteeksakkie vanuit haar handsak. Ek vermoed sterk dat daardie stukkie kos saam met haar teruggaan en in ‘n minderjarige magie gaan beland. Sy is gretig om by die klere uit te kom en daar aangekom, is sy soos ‘n kind in ‘n lekkergoedwinkel en ek sal hier en nou bieg dat ek nie net vir daardie duidelik-hardwerkende vrou die ruimte gegee het om elke bloesie waarvan sy gehou het vir haar te verpak nie, maar ook dat ek haar ‘n paar stukkies klere vir 3 van haar 5 afwesige kleinkinders laat uitkies het. Die glinster in haar oë om skoene uit te kies en aan te pas, laat my hart warm klop. Ek verpak haar nuwe sandale en pumps, ons tel ‘n paar toiletware-items en ‘n groot kombers op en dan loop ons om die kerk na die sielsgesprekarea. Daar, onder die bome op die stoele, gee ek vir haar ‘n Sesotho Bybeltjie (Nuwe Testament met Psalms en Spreuke). Sy vertel vir my hoe sy vir Jesus bid vir werk vir haar kind en die manne, maar dat dit moeilik gaan. Ek verseker haar dat Jesus die enigste Oplossing is, dat Hy alles weet en dat sy Hom kan vertrou, want Hy is baie lief vir haar. Die trane in haar oë laat my stilsmeek dat sy Jesus vandag hier voel.

 

Matthews is ‘n tenger 66-jarige man met groot hartseer in sy oë en verleë desperaatheid wat soos ‘n onsigbare magneetveld aan hom vaskleef. In sy mond is daar net hier en daar ‘n tand en dis hartseer-maklik om ‘n sintuiglik-akkurate afleiding te maak dat hierdie man baie lanklaas seep en tandepasta gebruik het. Alleen, sonder ‘n familie en sonder ‘n werk. Sy klere is gatvol-gehawend op die meeste plekke en op die ander plekke, so dun dat ‘n mens ertjies sou kon sif daardeur. Aan sy voete is daar goete wat sekerlik omtrent 1,000km gelede kon klassifiseer as skoene, maar nou net flarde-op-sole is. Terwyl hy gretig weglê aan sy Russian dog probeer ek die stukkies in my brose hart bymekaarskraap, want ek het geen idee hoe ek nie heeltemal uitmekaar gaan val in ‘n onbeheerbare snot sob nie. My ou hartsponsie wat ander se swaarkry opsuig, is gevaarlik versadig. Here Jesus, help my om hierdie man getrou te bedien ASSEBLIEF? Matthews eet klaar en ons beweeg aan, eers verby die badkamer en dan na die afdakklerewinkel. Terwyl ek buitekant die badkamer vir hom wag, besef ek dat ek nooit ‘n tweede sak geneem het vir klere nie. Twee gewillige mede-vrywilligers help uit om ‘n tweede sak te gaan haal en uiteindelik oop te maak (want in my emosie-stupor fumble ek ‘n bietjie met die sak) terwyl ek op Matthews gewag het. By die afdakwinkel kies Matthews met groot opgewondenheid vir hom ‘n paar hemde en my keel trek effe toe met die gedagte daaraan dat sy verklaring dat hy ‘n size28 broek dra, ‘n oorskatting is en dat selfs die kleinste broeke in die beskikbare voorraad, nêrens naby aan ‘n 28 is nie. Gelukkig is daar ‘n sweetpakbroek met ‘n stywe rek wat my angs laat wegsmelt en ek verpak dit vir hom. By die skoene kies hy dadelik ‘n paar tekkies en terwyl hy dit aanpas, verpak ek ook sommer die enigste ander paar tekkies ook vir hom. Hy kies verder ‘n pet en ons tel ‘n sakkie toilet-ware op voordat ons om die kerk loop tot by die sielsgespreksarea. Ek kies vir hom ook ‘n Sesotho Bybeltjie (Nuwe Testament met Psalms en Spreuke), want hy kan nie Engels lees nie. Onder die bome op die stoele, oorhandig ek die Bybel aan hom. Hy huil en vertel my dat hy by sy suster naby Freedom Square woon en dat hulle baie swaarkry. Hy jok nie, sy pyn en lyding is eg. “Matthews, Jesus is hartverskeurend lief vir jou, Hy sien jou swaarkry en Hy voel jy pyn. Net Hy kan jou met alles help en wanneer ek nou nou vir jou by daardie hek gaan groet, bly ek en Pellissier agter, maar Jesus sal jou nooit los of agterlaat nie. Maak Hom jou Koning en Heer.”

 

Tankiso is ‘n kleinerig-geboude jongman wat op 4 Desember vanjaar 25 jaar oud word en in Fase5 woon. Hy vra sommer van meet af vra dat ek Engels met hom praat en ek doen graag so. Hy het nie ‘n vaste werk nie, maar sal baie graag ‘n soldaat wil wees. Terwyl hy sy Russian dog eet, vra hy uit oor Shopday en of enigeen welkom is om dienste by Pellissier by te woon. Ek vertel hom dat ons dit eenmaal per jaar hou en dat vanjaar se geleentheid die derde agtereenvolgende is. Ek verseker hom ook dat enigiemand welkom is om ons eredienste by te woon, dat die meeste dienste in Afrikaans aangebied word en dat ons gedurende die skoolkwartaal ook op Sondagaande ‘n Engelse erediens aanbied. Dit lyk vir my asof hy ernstig oorweeg om ‘n diens te kom bywoon. By die afdakklerewinkel kies Tankiso flink en vinnig sy klere-items en hy wys al die aanbiedinge om aan te pas, van die hand. Hy is gelukkig met sy aankope en ons stap om die kerk na die sielsgespreksarea. Hoewel hierdie jongman bevoeg is om Engels te praat en lees, hoop ek eintlik so in my eie stilligheid terwyl ons om die kerk loop, dat ek vir hom ‘n volledige Sesotho Bybel kan gee. Daar gekom en, sowaar, daar is nog net een volledige Sesotho Bybel oor, asof dit spesiaal net vir Tankiso agtergebly het. Onder die boom op die stoele herinner ek hom aan hoe ongelooflik innig Jesus hom liefhet en dan verduidelik ek dat indien hy sy nuwe Bybel soveel as moontlik lees, dit die Woord van God in sy hart sal vestig. Ek sluit af met die woorde I have hidden Your Word in my heart, that I might not sin against You, maar ek bieg dat ek nie kan onthou waar die skrifgedeelte is nie. Ek het intussen gaan soek, dis “In my hart koester ek U woord, sodat ek nie teen U sondig nie.”

‭‭Psalms‬ ‭119‬:‭11‬ ‭AFR20‬‬

 

Petros is ‘n 61-jarige man wat in ‘n nabygeleë buurt werk. Hy vertel my dat hy vir Jesus ken en dat Hy binne-in sy hart bly. Hy neem net twee happies van sy Russian dog en dan sê hy, met opvallende verleentheid, dat hy genoeg gehad het. Ek verseker hom dat ons nie haastig hoef te wees nie en dat hy rustig kan klaar eet, want binne-in my weet ek dat hy beslis nie versadig is nie. Hy erken dat hy sukkel om te eet aangesien sy tande pynlik en problematies is. Ek merk die waardering in sy oë toe ek voorstel dat ons sy kos verpak vir hom om saam te neem huistoe. By die afdakklerewinkel kies hy, met dankbare bevrediging, vir hom ‘n paar stukke goeie kwaliteit-items. Teen die tyd dat ons verby die skoene-afdeling loop, is dit dolleeg, maar ek onthou dat ek reeds vroeër opgelet het dat die skoene aan Petros se voete betreklik nuut en opgepas lyk. Ek is so dankbaar dat ek hom nie met ‘n dringende nood aan skoene hier hoef weg te stuur nie. Daar is ook net ‘n koekie seep oor by die toilet-ware en sy helder glimlag daaroor ontwaak binne-in my ‘n reuse ontnugtering. Sal ek so glimlag oor ‘n koekie seep? Verseker ‘n nuwe iPad, maar nie ‘n koekie seep nie….en net daar laat ek my kop in skaamte hang. Ek stap saam met Petros om die kerk na die sielsgespreksarea en ek kan beswaarlik my trane keer. Op die stoele onder die bome, oorhandig ek ‘n Sesotho Bybeltjie (Nuwe Testament met Psalms en Spreuke) en ek herinner hom aan Jesus se belofte om by ons te wees tot aan die einde van tyd. Ek kan nie Sesotho lees nie, maar ek kry gou Mt 28:20 en laat hom dit self lees. “….En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”

‭‭Matteus‬ ‭28‬:‭20‬ ‭AFR20‬‬

 

Eergister het ek geskryf oor die kosbare vrou wat gereeld by ons hek kom vra vir iets om te eet. Vandag het ek ‘n straatvol mense net soos sy gesien. Die geringstes van die gemeenskap, die einste mense vir wie Jesus ‘n besonder-spesiale sagte plekkie in Sy hart gehad het toe Hy op aarde was.

“Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’ Dan sal Hy hulle antwoord, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’”

‭‭Matteus‬ ‭25‬:‭40‬, ‭45‬ ‭AFR20‬‬

 

Ek sluit graag af met ‘n storietjie oor ‘n strand vol uitgespoelde seesterre. Op ‘n sandduin, ‘n entjie weg, hou ‘n man die strand dop en let op dat daar ‘n klein dogtertjie is wat die seesterre een-vir-een teruggooi in die see in. Hy stap nader en vra hoekom sy dit doen, want daar is hopeloos te veel vir haar om enige verskil te maak. Terwyl sy vir die man kyk, tel sy ‘n seester op en gooi dit terug, met die woorde “Ek maak ‘n verskil in hierdie een se lewe”. Sy herhaal die woorde met elke seester wat sy teruggooi. Ek kon net vier mense uit die honderde mense help vandag, maar as Jesus hulle kon aanraak deur my, dan is daar vier menselewens wat vandag verander het.

 

DANKIE JESUS! Dis weer tyd vir VrygekoopteBaanbreker om te sign off vir noodsaaklike sielsonderhoud…

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Hoe asemloos lees ‘n mens hierdie verhale uit die werklike lewe, uit die realiteit van Christenskap! Dankie, HERE, vir hierdie inisiatief vanuit Pelissier gemeente. En dankie vir die wonderlik ordelike struktuur van blye aankope, met sielsversorting daarna. Dankie vir die lig wat vandag aangesteek is in die vier mense vir wie Lulu bedien het. Laat daardie lig brandend bly… en laat Lulu en almal wat daar bedienaars van u Woord en genade was, u stem hoor: ”Mooi, so, goeie en getroue dienskneg/diensmaagd… ” Want u het alles gesien, die gehoorsaamheid en die erbarming. AMEN.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post