DIE NARE WAARHEID IN ‘N WARE NAGMERRIE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Riaan Harmse se storie speel af tydens ‘n glanstroue op ‘n luukse privaatwildreservaat. Hy het belê in ‘n splinternuwe pak klere vir die spoggeleentheid, want die dominee behoort mos nie uit te staan soos ‘n damduiker tussen deftiges nie.

 

Alles is vooraf haarfyn beplan, maar die oomblik toe dinge begin skeefdraai, word Riaan meegesleur in ‘n spreekwoordelike wegholtrein op ‘n stukkende spoor deur die damduikende duisternis van verleentheid. Daardie oomblik breek aan, na sy hardloopsessie, by die geslote deur van sy oornagkothuisie. Die sleutel was skoonveld. Met twee uitgedopte leë sakke van sy rooi hardloopbroekie, staar hy eers stom-verlangend deur die venster na sy pak klere en dan besef hy dat sy enigste uitweg is om langs die stofpad te gaan wag vir die eerste trougaste. Hy benodig ‘n saamrygeleentheid en deugsame klere.

 

Hy herken dadelik die goue Land Cruiser van die bruid se ouers en hy sluk die laaste bietjie van sy trots af toe hulle langs hom stilhou. Op die voorste sitplekke is Tannie Mindy en Oom Hendrik, stylvol uitgevat soos koninklikes en op die agterste sitplek, die sweterige dominee in hardloopklere. Danksy die ontfermende goedhartigheid van die “koninklikes”, help Stimorol, Shield en ‘n skoon stel gholfklere die dominee om darem beter as ‘n damduiker te lyk en hy neem betyds sy plek op die verhogie in. Oom Hendrik se leenbroek is hopeloos te groot vir Riaan, maar in die afwesigheid van ‘n gordel, is die ekstra materiaal van die rooi hardloopbroekie onderaan en die twee klein haakspeldjies wat die broek aan die hemp vasheg, sy beste kans om die broek bo te hou. Die haakspeldjies se integriteit bly behoue totdat die oorywerige klanktegnikus die batteryboksie van die wangplak-mikrofoon hardhandig aan sy leenbroek vasknip. Riaan staan bewegingloos, gereed vir die aanvang van die troue.

 

Mendelssohn se troumars laat almal opstaan en groot Oom Hendrik, glimlaggend-trots maar met ‘n sweterige wasbleek gelaat, vergesel sy beeldskone dogter tot heelvoor waar haar bruidegom, in afwagting, gapend na haar staar. Oom Hendrik verwyder die bruid se sluier, skud blad met sy nuwe skoonseun en loop vandaar oor na Dominee om ook sy blad te skud. Nog voor Riaan kan afbuk vir die bladskud, duik Oom Hendrik skielik vorentoe en gryp die broekspype van sy eie leenbroek om Riaan se bene vas terwyl hy ook ‘n verstommende boog braaksel uitwerp soos water uit ‘n oopgedraaide, hoogspanning-brandslang.

 

Daar staan Riaan, soos ‘n damduiker in ‘n rooi hardloopbroekie voor ‘n groot skare deftige gaste. Oom Hendrik kniel-sit op die vloer met sy arms steeds op die verhogie by Riaan se voete, sy braaksel oral versprei en sy leenbroek rondom Riaan se enkels. Daar is weer kleur in die ou man se gesig, want soos Riaan later sou uitvind, het Oom Hendrik “oorgekook” weens bedenklike vulstasie-sushi. Riaan sukkel om sy eie braak-refleks te beteuel en toe hy die rooi strepies op sy sokkies sien, val dit hom by dat hy nooit die kothuissleutel in sy sak gesit het nie.

 

Riaan se storie prut reeds jare lank in die drukkoker van Vader Tyd. Al die taai stukkies, soos skaamte, verleentheid en walg, het saggekook en uiteindelik snaaks geword, maar die snaakste van alles is dat die kothuissleutel heeltyd by Riaan was, binne-in die wegsteeksakkie wat sy vrou aan die binnekant van ‘n rooistrepiesokkie vasgewerk het. Groot Oom Hendrik het ook gehelp om die ergste van Riaan se rooibroekie-verleentheid te neutraliseer toe hy tydens sy onthaaltoespraak eers nederig verskoning gemaak het en toe die gaste laat skaterlag het oor sy eie selfs-groter verleentheid dekades tevore. Kort nadat hy, Tannie Mindy en die kinders stad toe getrek het, het hulle een naweek gaan uitspan by die vakansie-oord aan die buitewyke van die stad. Oom Hendrik en hulle groter kinders kon nie genoeg kry van die groot waterglyplanke nie. Tannie Mindy was taamlik besig met die kleiner kindertjies in die baba-swembad, maar sy het beslis gedeel in hulle opgewondenheid. Oom Hendrik kon nie uitgepraat raak oor hoe vriendelik die mense in die nuwe stad is nie, want almal groet hom met die grootste glimlagte. Dis eers toe hulle wegstap vir die laaste waterglyplankrit dat Tannie Mindy die yslike winkelhaak op Oom Hendrik se boud oplet. Niemand kon sê presies wanneer Oom Hendrik se swart-en-wit-blokkies-swembroek vasgehaak en geskeur het nie, maar dit was duidelik dat dit die bloedrooi onderbroek wat uitgeloer het was wat die grootste glimlagte tot gevolg gehad het.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Wat ‘n lekkerte om hierdie storie te lees! Iemand wat so ‘n menslike verhaal in so min woorde kan verpak, hoort nie as pakker in ‘n pakkamer nie, maar by ‘n tafel met gedrukte kopieë van haar eerste kortverhaalbundel daarop. Dankie hiervoor, Lulu!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post