VADERSDAG : DIE VRESE EN DIE VREUGDES

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Vanaand om 17:00 gaan al 13 en ‘n half lede van die AssieTribe saam met Tannie Let, Makkie en OupaBroodjie rondom ‘n groot tafel by die Spur sit vir ‘n feestelike saamkuier. Vier geslagte. Een oupagrootjie. Twee oupas. Vyf pappas. Marno is een van die vyf. Met ‘n Adamsgeslag-aantreklikheid selfs beter as die van sonbruin Italiaanse supermodelle in glanstydskrifte tesame met sy welig-woeste baard en indrukwekkende marmerstandbeeld-lengte wat net-net onder twee meter vasgeskop het, troon hy bo almal uit en geen nugter mens soek sommer skoor met hom nie. Die ideale dogtertjie-pappa wat met sy taai en intimiderende buitekant ‘n kristalhelder boodskap uitstuur. EK IS DIE SKUTMUUR RONDOM MY DOGTERS, NIEMAND KOM BY HULLE UIT SONDER OM DEUR MY TE GAAN NIE! Aan die binnekant van die skutmuur, beskerm hy ook die kosbare teerheid van sy sagte hart wat hom instaat stel om te kan connect met die ingewikkelde samestelling van die vroulike gemoedere van sy geliefde vrou en dogters. Marno het verlede jaar op VADERSDAG, 18 Junie 2023, vir ‘n tweede keer pappa geword, maar daar was geen feestelike familie-saamkuier nie. Die VREUGDE van die geboorte van een mensie is onverwags-wreed vervang met ‘n VREES vir die waarskynlikheid dat twee mense moonlik kan sterf en Marno was vierkantig in die oog van die lewensbedreigende hoogspanning-storm. Vandag is weer VADERSDAG, ons gaan dit met VREUGDE vier en ek dra hierdie gedagtestukkie op aan verlede jaar se dapper VADERSDAGheld, my geliefde son-in-love Marno Henry Hay.

 

Die groot donkerkopman, volledig uitgerus in teaterdrag, staan bewegingloos in die hospitaalgang. Sy aandag is sekuur gevestig op die gebeure rondom hom en sy gesigmasker doen weinig min om die verslaentheid van sy groeiende kommer weg te steek. Net ‘n kort rukkie gelede nog, was hy ‘n integrale deel van die dringende opgewondenheid van ‘n hoogswaarskynlike keisersnit. Met sy aankoms by die hospitaal, moes hy blitsvinnig gaan verklee sodat hy gereed kan wees om aan sy vrou se sy te staan in die teater wanneer die ginekoloog sy jongste dogtertjie chirurgies verlos. Oppad hospitaal toe het hy nog hard geoefen aan sy toespraak om mediese rekenskap te vereis vir die keisersnitbesluit aangesien nie hy of sy vrou hoegenaamd ten gunste daarvan was nie. Met hulle oudste dogtertjie het sy vrou normaal gekraam en selfs nadat daardie ginekoloog ‘n induksie gedoen het, het dit steeds vele ure geneem voordat hulle eersteling uiteindelik gebore is. Weens die destydse COVID grendelregulasies, kon hy nie heeltyd langs sy vrou se sy wees nie, maar die vriendelike personeel het hom op die regte tyd ontbied en hy was betyds daar vir die pylvak en die vreugdevolle eindstreep. Nou staan hy hier, in dieselfde kraamsaal van dieselfde hospitaal, want die ginekoloog aan diens het hom dringend ontbied vir ‘n hoogswaarskynlike keisersnit. Dit wat nou hier voor hom afspeel, is ‘n skrikwekkende scenario waarvoor nie hy of enige van die ander mense kon oefen nie. Hoogswaarskynlike keisersnit is met noodkeisersnit vervang. Gerusstellende glimlagte word eensklaps vervang met kommerfronsende erns op die gesigte van mense wat al hoe vinniger en al hoe harder praat totdat dit vir hom klink asof iemand ‘n onsigbare fast forward knoppie gedruk het en chipmunks vir mekaar skreeu. Waar almal minute tevore nog geloop het, hardloop almal skielik. Sy geliefde vrou was nog een oomblik hier by hom en toe word sy skielik haastig weggestoot deur die groot swaaideure, binne-in ‘n ruimte van oorweldig-onheilspellende onsekerheid in. In die minute wat volg, hoor hy haar gille, ruik hy geskroeide hare, sien hy hoe hardloop nog mense met vreemde gereedskapstassies deur die groot swaaideure en proe hy die benoudheid van sy krampende derms in sy mond. Pappa is all dressed up, but he has nowhere to go. Marno is Pappa.

 

Die draaiboek van Noodkeisersnit is ongenaakbaar. Dit sluit net beperkte rolspelers in en Pappa is uitgesluit vir hierdie deel van die ontwikkelende drama. Soos ‘n passasiersvliegtuig wat in internasionale lugruimte onsigbare grense oorsteek van een land af in ‘n ander land in, raak hy iewers bewus daarvan dat hy, amptelik, die pappa van nog ‘n dogtertjie word, maar in plaas van vreugdevolle opgewondenheid, heers daar net ‘n raserige chaos. Dit voel dit vir hom of al sy asem uit sy borskas uitgesuig word deur ‘n reuse onsigbare suigpomp, net soos wat NASA gebruik om ‘n lugleegte te bewerkstellig. Hy voel ook asof hy, terselfdertyd, in ‘n soort vomit comet vasgevang is wat swaartekrag flous gedurende ruimtevaartopleiding. En net soos die ruimtevaarders tydens opleiding, voel hy nou ook asof hy bloot float met niks wat hom terugtrek aarde toe nie. Hy dink aan sy oudste, die driejarige Emmie, wat reeds haar denkbeeldige spogbalkie van Uitvoerende Ousus met trots dra. Emmie is saam met Nana en OupaAssie op ‘n bederfafspraak in ‘n winkelsentrum waar hulle inkopies doen vir twee dogtertjies en al die pappas, terwyl hulle wag op goeie nuus van Baba Addie se geboorte. Die winkelsentrum is net ‘n paar kilometer van die hospitaal af, maar dit kon net sowel in ‘n ander sterrestelsel gewees het. Dan trek die swaartekrag van werklikheid hom met geweld terug na die hospitaalgang waar hy steeds staan. In sy gees en gedagtes voel dit asof hy ligjare vêr gereis het teen tyd-omseilende Star Trek warp speed. Maar hy is die enigste een wat steeds staan presies waar hy begin het. Addie, sy pasgebore jongste dogtertjie, met ‘n bleekblou gelaat, lê nou broos en bykans leweloos op ‘n yspak gekoppel aan veelvuldige lewensonderhoudende masjiene in die neonatale intensiewe sorgeenheid (NICU). Mamma, sy geliefde livewire-lewenslustige vrou, haar gelaat nou ‘n grillerige gryskleur, lê stil net enkele meters weg van die NICU, in die kraamsaal. Sy is vasgekluister aan ‘n hospitaalbed met ‘n kateter steeds intak en verskeie moniteringstoestelle aan haar gekoppel. Haar trane lê vlak en sy poog moedig om dit weg te sluk terwyl sy probeer verstaan wat gebeur het. Sy is tydelik blind, haar polsslag en bloeddruk is hemelhoog, haar lyf geswel en die verskeie teer kneusplekke is nie net fisies van aard nie. Volgehoue vlae van naarheid word afgewissel met braking waartydens beduidende druk op haar buiksnit geplaas moet word om te verhoed dat dit weer oopskeur. Pappa kan homself nie in twee skeur om by Mamma en Addie gelyktydig te wees nie. Albei van hulle is teruggeruk van die randjie van die dood af en albei verkeer steeds in lewensgevaar. Hoe kies hy? Selfs deur haar pynmedikasiebeswyming deur, smeek Mamma om haar mommy, Nana, by haar te hê. Met dankbaarheid in sy hart vir die enigste oplossing om nie een van sy twee geliefdes alleen te los nie, ontbied Pappa vir Nana na die hospitaal toe terwyl OupaAssie (verreweg die gunsteling grootouer tussen die twee) voortgaan om Emmie te vermaak en versorg. Divide and conquer word ‘n suksesvolle taktiek om die nodige ondersteuning aan albei sy geliefdes te lewer. Pappa in die NICU by Addie. Nana by Mamma. OupaAssie by Emmie. In die NICU hou Pappa al die lesings op Addie se moniteringstoestelle fyn dop. Buite is dit ‘n tipiese bitterkoue, bevrore Bloemfonteinse wintersdag en ander mense se babatjies is sekerlik snoesig toegewikkel in warm kombersies terwyl sy dogtertjie, met net ‘n weggooidoek aan, op ys lê, bewegingloos soos ‘n babalykie. In die kraamsaal, let Nana op hoe, ondanks die IV toediening van ‘n paar eenhede bloed, Mamma se post-operatiewe bloeding toeneem met verskeie reuse klonte gestolde bloed wat gereeld skoongemaak moet word. Mamma is rusteloos-angstig en dit kom voor asof haar diep slaapsiklusse eerder ‘n geval van slipping in and out of consciousness is. Sy raak weg in ‘n diep slapende beswyming in net om gou weer gewelddadig, met roggelende asemhaling, wakker te skrik en die woorde “Mommy, I’m dying!” uit te roep. Daar is ‘n yskoud-stewige monstervreesgreep rondom Nana se hart en sy weet beslis dat ylende Mamma haarself, met helder bewustheid, in die teenwoordigheid is van die grens tussen lewe en dood bevind. Nana is in twee aktiewe gesprekke gelyktydig gewikkel. Aan die een kant, stel sy elke keer vir Mamma gerus en aan die ander kant, smeek sy Almagtige God om haar dogter en kleindogter se lewens te spaar.

 

Pre-eclampsia. Hypertensive Crisis. Placental AbruptionStillbirth (blue, limp, lifeless neonate, zero pulse). Hypoxia.

 

In die laatmiddag van VADERSDAG 2023 kom sit Dr Jaco Smith, die verloskundige/ginekoloog, langs Mamma se bed om met haar en Nana te gesels. Vanuit die woordkeuses in sy gesprekstaal, is dit duidelik dat hy ‘n gelowige en nederige man is. Koponderstebo vertel hy, met verstaanbare beskrywings, die besonderhede van die oggend se gebeure. Sy stem is sag, maar duidelik hoorbaar en wanneer hy opkyk, is daar ook ‘n brose deernis in beide sy stem en gesigsuitdrukking, amper asof hy van sy eie vrou en kind praat. Daar bestaan geen twyfel dat die gebeure hom ook diep geraak het nie en vir ‘n man wat homself waarskynlik nog in die veertigerjare van die Millennial Generation bevind, lyk sy oë, in daardie oomblik, beduidend ouer. Hy vertel dat daar met sy aankoms, aanvanklik, vir ‘n kort rukkie ‘n skaflike ritme op die Doppler waarneembaar was, maar dat dit skielik in ‘n oogwink verander het. Die bedryfsroepsein het verander van ERNSTIG na KRITIEK toe. DEFCON 3 het DEFCON 1 geword en krisis was onafwendbaar. Met flink, vinnige dringendheid in sy optrede, kon hy daarin slaag om binne minute ‘n noodkeisersnit uit te voer. Dit het onmiddellik ernstige inwendige bloeding, as gevolg van ‘n geskeurde plasenta, aan die lig gebring. Hy kon daarin slaag om die bloeding onder beheer te bring en sodoende, Mamma se lewe te red terwyl hy terselfdertyd ook vir Addie verlos het. Maar Addie was blou, pap en sonder ‘n waarneembare naelstringpolsslag (Stillbirth). Die held wat Mamma se lewe gered het, het nederig erken dat hy op daardie stadium gevul was met die vrees en teleurstelling dat Addie sy eerste stilgeboorte in privaatpraktyk was. Die vermoede dat Mamma baie skielik ‘n lewensbedreigende toestand van gevaarlik-hoë bloeddruk wat met swangerskap gepaardgaan (Pre-eclampsia) ontwikkel het, is bevestig. ‘n Bykomend-skielike verdere styging in Mamma se reeds gevaarlik-hoë bloeddruk (Hypertensive Crisis) het waarskynlik veroorsaak dat die plasenta geskeur het (Placental Abruption). Met die skeur van die plasenta, is Addie se suurstoftoevoer dadelik afgesny (Hypoxia) en dit was onmoontlik om te bepaal presies hoe lank sy suurstofnood ervaar het.

 

Resuscitation. Therapeutic Hypothermia. Respiratory & Metabolic Acidosis. Hypoxic Ischemic Cardiomyopathy. Hypoxic Ischemic Encephalopathy.

 

‘n Knap en kundige pediatriese intensiewe-sorg span gryp onmiddellik in nadat Addie verlos is, sy word suksesvol gerussusiteer en na die NICU toe gejaag. Daar is sy op ‘n yspak geplaas en aan bykans elke denkbare masjien gekoppel, onder andere ook ‘n EEG mussie op haar koppie wat elke breingolf noukeurig meet. Haar liggaamstemperatuur word verlaag na 33 grade Celsius (ongeveer dieselfde temperatuur as iemand wat reeds 3 ure lank dood is) en die behandeling word Therapeutic Hypothermia genoem. Die doelwit hiermee is om vir ‘n tydperk van 72 uur (3 dae) die druk om optimaal te funksioneer, af te haal van haar liggaampie af en selfs kans te gee vir moontlike spontane herstel. Genadiglik word geboorte op 37-weke-6-dae gestation beskou as vroeg voltermyn en bestaan daar geen ontwikkelingsuitdagings nie. Ongelukkig, weens die naby-noodlottige suurstoftekort in utero, maar ondanks suksesvolle resussitasie na geboorte, heers daar beduidende kommer oor Addie se gesondheid. Die pH wanbalans in haar bloed verhinder nie net gesonde bloedgaswisseling (suurstof/koolstofdioksied) nie, maar ook gesonde verwerking van voedingstowwe en algemene metabolisme. Dit word Respiratory & Metabolic Acidosis genoem. Die voorlopige uitslae van al die EEG monitering dui wel daarop dat gedurende die skoktoestand, Addie se liggaampie hard gewerk het in ‘n poging om ALLE beskikbare suurstof na haar brein te stuur, maar dis onbeslis ten opsigte van die aanvanklike neurologiese onreëlmatighede (Hypoxic Ischemic Encephalopathy) wat waargeneem is. Dr Hennie Snyman, Addie se pediater voer ‘n taamlik-onmoontlike stryd om haar kwynende bloeddruk bestendig te probeer hou. Aanvanklike behandeling met Dopamine was nie volhoubaar nie en dis aangevul met Dobitrex en selfs later toe steroïede ook bygevoeg word, het haar bloeddruk steeds gekwyn. Daar is uiteindelik bepaal dat die laaste Hail Mary behandelingsopsie sal wees om adrenalien by te voeg by die medikasieversameling, maar weens die inherente gevaar van verskeie ander gesondheidsbedreigings wat dit inhou, moet dit ‘n allerlaaste besluit wees. ‘n Pediatriese kardioloog word op Dr Snyman se versoek ingebring en hy bevestig dat, hoewel die tipiese aanduiding van ‘n vergrote hart afwesig is, Addie se hartspier wel beduidende skade opgedoen het en dat haar hartfunksie van 14% heeltemal onvoldoende is. Die toestand word Hypoxic Ischemic Cardiomyopathy genoem. Die vooruitsig is dat, selfs in geval van gunstige vordering, Addie ten minste ses weke in die NICU sou moes deurbring.

 

VADERSDAG 2023, met die gebeure soos hierbo vertel, het op ‘n angsbevange laagtepunt geëindig. Marno het inderdaad weer ‘n pappa geword op die einste dag waarop pappas herdenk word, maar die lewens van die helfte van die lede in sy nuwe viertalgesin, het ernstig in die weegskaal gelê teen die tyd dat sy kop die kussings op daardie aand getref het. In die eerste dae wat gevolg het, het dit eers slegter gegaan en adrenalien moes uiteindelik tog noodgedwonge bygevoeg word tot Addie se medisyneversameling. Verstommende ondersteuning en gebed van oral oor die wêreld heen, het Marno se arms omhoog gehou. Met die eerste waarneming van ‘n bestendige bloeddruk, het ‘n draai gekom wat beide Addie en mamma Annie op ‘n wonderwerkpad van herstel geplaas het. Annie is 7 dae later ontslaan met die kleur van nuwe lewe in haar gelaat en die gerusstelling dat haar steeds effe hoë ontslagbloeddruk met tyd sal herstel. Dit het inderdaad so gebeur. Addie is 15 dae oud toe sy met ‘n algehele skoon gesondheidsverslag uit die NICU ontslaan is, presies op haar 40-weke due date. GEEN skade aan haar hart, brein of ander organe kon meer waargeneem word nie.

 

Liewe Heer, Almagtige God, seën asseblief my geliefde son-in-love, Marno Hay met ongekende VREUGDE op VADERSDAG 2024! Baie dankie vir Annie en Addie se wonderbaarlike genesings en die seën wat hulle, saam met Emmie, vir Marno is!

 

Geseënde VADERSDAG, Marno!

 

Geseënde VADERSDAG ook aan my sielsgenoot-anderhelfte (Oupa)Assie, OupaBroodjie, Daniel en ons amper-nuweling-pappa Martin!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Lulu, ek het opgehou asemhaal terwyl ek hier gelees het. Hoe diep, diep, diep is alles rondom Annie en Addie se op-die-rand-van-die -dood krisis in jou gegraveer! Nooit sou ek so-iets so deeglik, so wetenskaplik/medies korrek en terselfdertyd so diep emosioneel kon weergee nie. Jy is ‘n meestelike skrywer. Innig dankie hiervoor! Ek hoop dat julle almal ‘n Vadersdag vol van die suiwerste vreugde beleef het. Ons prys die HERE saam met julle. vir sy ontferming oor julle hele familie. Want hierdie is onteenseglik ‘n wonderwerk deur die lewende God.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post