Eina! Vrek! Ek kan dit VOEL! Lilo se vriendin, Kristen, het haar enkel geswik toe sy ‘n lastige aap uit die tuin uit wou wegjaag. Kristen woon 800 kilometer vêr in ‘n kusdorp en sy het haar ervaring met Lilo gedeel tydens ‘n telefoonoproep. Lilo het dit nie gesien gebeur nie en sy was nie eers naby aan Kristen toe dit gebeur het nie. Maar Lilo VOEL Kristen se pyn aan haar eie lyf. Vier-en-twintig jaar gelede het Kristen ook vir Lilo tydens ‘n telefoonoproep vertel hoe ‘n groot blik appelkooskonfyt vanuit die boonste rak van haar spenskas op haar groottoon geval het en die oorweldigende skietpyn haar haar bewussyn oombliklik laat verloor het. Net met die aanhoor daarvan, het Lilo gevoel of haar wind uitgeslaan was terwyl die “pyn” haar laat sterretjies sien het en die donkerte van flouword haar sig van onder af begin inkleur het.
In Februarie het Lilo spesifieke navorsing gedoen en afgekom op die term spieël-aanrakingsinestesie (mirror touch synesthesia). Dit was eintlik die heel eerste keer dat Lilo gaan soek het vir ‘n beskrywing van ‘n toestand/verskynsel wat sy haar hele lank al ondervind. Lilo, as ‘n uiters bedrewe empaat, is beduidend vaardig daarin om ander mense se emosionele pyn te voel asof dit haar eie is en daar is reeds omvattende navorsing daaroor gedoen en neergeskryf. Maar Lilo VOEL ook ander mense se fisiese pyn en dit is, wesenlik, wat spieël-aanrakingsinestesie is. Die lawwe seerkry-videos (van mense wat in toe glasdeure vashardloop, ens.) wat die meeste mense as vermaaklike tydverdryf beskou, is ‘n marteling vir Lilo. Dis nie vir haar snaaks nie, sy kan nie daarvoor lag nie, want sy VOEL die pyn van die onvrywillige hoofkarakters. Net soos wat Wynand, Lilo se geliefde sielsgenoot, se Vagus-senuwee soms oorgaan tot ‘n onwillekeurige state of crazy overdrive, gebeur bykans dieselfde in die uitvoerende beheersentrum van Lilo se sentrale senuweestelsel. In 1985 toe Ivan Drago vir Apollo Creed doodgeslaan het in die bokskryt in die fliek Rocky IV, het ‘n nare pyn in Lilo se kop ontplof. In 1987 toe die skurke die polisiebeampte-wat-uiteindelik-Robocop-word se hand wreed weggeskiet het, kon Lilo die skokgolf VOEL beweeg deur haar eie lyf. In 1995 was daar die lief en leed van William Wallace in Braveheart en in 2000 het Lilo Maximus Decimus Meridius se fisiese pyn as Gladiator asook sy emosionele pyn toe hy op die hangende, verkoolde lyke van sy vrou en kind afkom, geVOEL. In 2015 VOEL Lilo die pynlike mishandelingsmarteling van Louis Zamperini, krygsgevangene in Japan elke keer wanneer hy papgeslaan word in die fliek Unbroken. Lilo kan steeds nog nie die trauma van 2004 se Passion of The Christ verdienstelik verwoord nie. Hoewel Lilo al vir Sylvester Stallone (Rocky Balboa) en Mel Gibson (vervaardiger van Passion of The Christ) persoonlik ontmoet het, ken sy regtig niemand wat hierdie bogenoemde karakters (of selfs die werklike mense agter die karakters) gespeel het nie. Sy het geen verhouding met hulle nie, maar sy het hulle pyn geVOEL.
Onreg, oorlog, oordeel, ongeregtigheid en onderdrukking gebeur nie net in flieks nie en het ‘n manier om Lilo se derms in ‘n verstrengel-styfgespande koek te knoop en toe Tim, twee jaar gelede, vir haar die Griekse woord SPLAGCHNIZOMAI* geleer het, kon sy vir hom vertel presies hoe dit VOEL. Hoe nader mense aan Lilo is en hoe meer geliefd hulle vir haar is, hoe meer intens VOEL sy hulle pyn aan haar eie lyf en hoe meer onbeheersd vloei haar trane. Daar was Katey se kranksinnigmakende kankerpyn en verterend-vretende naarheid, maar daar was ook hulle familie se toenemende verliese, vernederende verleenthede, verwerping, vereensaming, verlatenheid en vroom-veroordelende vervolging. Lilo het ALLES diep geVOEL. Lilo VOEL alles DIEP. Die pyn en seer van haar geliefde Wynand, VenTribe, familie, Kristen by die see, Janey in Amerika, Tim, Bennie, Cassie en haar almal in haar LifeTribe (die geliefde leraars van haar geloofsfamilie). Vir ‘n verlammende-lang tyd was Lilo, verkeerdelik, oortuig daarvan dat hierdie “vermoë” van haar ‘n swakheid is en dat dit voortspruit vanuit diep innerlike onsekerheid. Die oorweldigende egtheid van die liefde wat Lilo se huidige lewensreisgenote (spesifiek Wynand, Tim, Bennie & Cassie) egter vir haar het, laat selfs die geringste onsekerheid wegsmelt soos mis voor die son. Saam met hierdie kosbare reisgenote ontdek Lilo nou die unieke gawe waarmee die Heer haar geseën het – om DIEP te VOEL vir mense wie Hy innig liefhet. Lilo wil hierdie gawe so graag getrou eerbiedig, maar soms kyk sy grootoog deur die trane in haar mense-oë daarna en dan lyk dit bietjie soos om ‘n reuse sirkustent in ‘n koevert te probeer bêre of die Stille Oseaan met bakhande te probeer leegskep. Dan onthou sy Tim se aanmoediging om deur geloofsoë te kyk en haar wanhoop verander in hoop. Net soos wat sy nie water in haar hande kan vashou nie, kan sy nie hierdie gawe vasvat en inperk nie. Haar hoop is in die Gewer van haar gawe. Die Een wat AL haar pyn en seer ken en eerste geVOEL het. Die Een wat elke liewe een van haar trane versamel en nie verlore laat gaan nie.
Pyn en seer RAAK nie bloot net vir Lilo aan nie, dit GRYP haar hart en hele wese aan en daarom wil sy graag spieël-aanrakingsinestesie verander na AangrypingSpieëlbeeldSinestesie. Dis nie ‘n swakheid nie, dis die superpower-voorreg om ‘n klein voorsmakie te verkry van hoe die Verlosser van die hele mensdom VOEL oor elke mens wat al ooit geleef het, nou leef en nog in die toekoms gaan leef.






Liewe Lulu, hoe meer ek lees, hoe meer weet ek: ”U het my [en ek bedoel LULU] kunstig geweef in die skoot van my [haar] moeder. Hoe wonderbaar is u werke!” O, ek dank die HERE dat dié vir wie Hy in aansyn geroep het, nie almal die klank van doedelsakke en die beperkte gevoeligheid van duisendpote het nie… Ernstig, nou: hoe swaar rus die verantwoordelikheid om in te tree vir diegene wat so swaar kry dat jy dit voel, nie op mense soos jy nie! Ek is so bly ek mag iemand soos jy — so uniek— leer ken! Dankie vir hierdie gesprek. Mag elkeen van ons ook inwaarts kyk, sodat ons kan weet WAAROM die Here ons gemaak het soos ons is. DANKIE!
Dankie liewe Maretha.