Sy is loshande die vriendelikste babadogtertjie en sy kraai sy van genot terwyl sy smul aan ‘n piesang. Piesangs is net die lekkerste lekker en wat kan dan beter wees as een in elke hand?! Met treffende blou ogies, donkerblonde donshaartjes en ‘n lagkuiltjie op elke wangetjie, is Addie die perfekte prentjie van blakende gesondwees. Sy het ‘n babasagte lyfie met handjies en voetjies wat lyk asof dit noukeurig aan die oulikste armpies en beentjies aangeskroef is. Haar duidelike skrilstemmetjie is vermaaklik wanneer sy sing en dit dwing respek af wanneer sy huil. Haar drie grootste helde is haar ousus Emmie, mamma en pappa en sy het reeds op verskeie geleenthede MAMMA en NANA gesê. Met haar volmaakte, gereelde glimlaggies en haar opgewondenheid om nuwe speelgoed, mense en kos te ontdek, kon daar nog nie met oortuigende sekerheid bepaal word waarvan sy NIE hou nie!
Net meer as ses maande gelede het die prentjie heeltemal teenoorgesteld en pikdonker gelyk. Addie is blou, bewegingloos en sonder ‘n polsslag deur middel van ‘n noodkeisersnit gebore nadat haar mamma, Annie, se plasenta skielik geskeur het en dit onmiddellik Addie se suurstoftoevoer afgesny het. Die blitsvinnige optrede van ‘n kundige kindertraumaspan kon daarin slaag om die doodgebore Addie se hartjie weer aan die klop te kry en die bekwame, beskeie verloskundige moes met koorsagtige noukeurigheid die bykans-onmoontlike aandurf om uiteindelik ook Annie se lewe te red. Na afloop van Addie se traumatiese geboorte, was die eerste klompie dae ‘n onbeskryflike proses wat selfs met die beste poging steeds slegs deur ‘n middelmatige beskrywing verwoord kan word. Iets soos om met onwrikbare-spierwitkneukel-geloof die meedoënlose-zombiedoodsdans te dans tot die dood toe. Onbeheerbare post-operasionele bloeding het lewenslustige Annie se natuurlike sonbruingelaat eensklaps verander na ‘n deurskynende doodsgrys toe en haar eens rotsvasgreep op die lewe amper heeltemal uitgewis. Klein Addie met suurstoftekortskade aan haar hart, brein en ander inwendige organe was onder sterk verdowing op ‘n ysmatras geplaas terwyl elke denkbare masjien haar aan die lewe moes hou. Sy het, in die middel van ‘n bitterkoue Bloemfonteinse winter, soos ‘n blouerige, wit babalykie doodstil op ys gelê in ‘n deurskynende plastiekboks terwyl pypies en buise, gekoppel aan moniteringstoestelle met bloedstollende alarms, uit natuurlike en mensgemaakte openinge uitgesteek het. Dreigende dood het die slimste dokters met hulle rûe teen die muur gedwing, maar dood het NIE die keer gewen nie. Annie is na 7 dae uit die hospitaal ontslaan met nuwe lewenslus en meer natuurlike kleur in haar gelaat. Nadat die spesialiste aanvanklik bespiegel het dat Addie ten minste 6 weke in die neonatale intensiewesorgeenheid sou deurbring, is sy na 15 dae ontslaan met ‘n skoon gesondheidsrekord. Finale skanderings kon geen teken van enige skade aan haar brein, hart of ander inwendige organe vind nie. Die derde Julie 2023 was die helderste, warmste, mooiste dag en dit was heeltemal onafhanklik van die flouerige wintersonnetjie wat heldhaftig buite geskyn het. Niks is so helder soos ‘n WONDERWERK nie. Niks is so warm soos vaarwelroep van ‘n hospitaal-ondersteuningsnetwerk wat saamgebid, saamgehuil en saam die WONDERWERK aanskou het nie. Niks is so mooi soos ‘n driejarige ousus wat haar babasussie self in die stootwaentjie uit die hospitaal uit na die kar toe stoot. Nana bestuur uiteindelik die kar wat vier vroue terugneem na die veiligheid van ‘n tuiste waar hulle uiteindelik herenig word met geliefdes en getroue traumareisgenote in hulle plaaslike- sowel as aanlyngemeenskappe.
Addie is my derde kleinkind en as Engelssprekende Afrikanervrou, is ek my kleinkinders se Engelse ouma, vandaar die naam Nana en ek is uitbundig trots op daardie naam. My hart loop steeds oor van innige dankbaarheid elke keer wanneer ek ons klein Addie sien en onthou waar alles begin het. Een van my kosbaarste vriende en leraar van my geliefde Pellissier Gemeente, Charles James, herinner my gereeld daaraan dat ons lewens hier op aarde soos tentwonings is. Almal van ons se tente gaan op een of ander tyd afgeslaan word vanwaar ons gaan verhuis na ons permanente wonings in die ewigheid. Oor drie weke, op 25 Januarie 2024 sal dit die tweede herdenking van ons geliefde Carli se afsterwe wees. Op hierdie dag in 2022 het die dood wel gewen en Carli se tentwoning is afgeslaan. Dieselfde onwrikbare geloof en doodsdans (soos met Annie en Addie) het nie gelei tot die helderste, warmste en mooiste dag vir ons nie. Inteendeel, dit was onbeskryflik pynlik, yskoud-innie-middel-van-die-Somer en pikswarthartseer. Ek het egter geen twyfel dat Carli se oorgang na die ewigheid wel die helderste, warmste en mooiste ervaring vir haar was en steeds is nie. Addie en Annie se tentwonings staan steeds vandag en die winterWONDERWERK van 2023 het ongetwyfeld daartoe bygedra. Indien moontlik, hoe sou Carli haar oorgang aan ons beskryf? Kanker het haar ongenaakbaar gemartel met verblindende pyn in ‘n wrede lyding wat die lewe uit haar uitgepers het. Die oomblik toe haar tentwoning afgeslaan is en sy die ewigheid ingestap het, was dit SONDER kanker. Ek wil dit waag om te sê dat sy dalk ook sou kon sê dat dit ‘n WONDERWERK was. Miskien het ons huidige definisie van WONDERWERK meer diepte nodig?






Opmerking, Lulu? Hoe skryf mens asemloosheid [nie die woord nie: die stil geluid daarvan] op ‘n skerm op papier? Hoe verwoord ‘n mens die soort ontsag vir die God van ons lewe wat hier ter sprake is? Hierdie getuienis gryp my aan die hart. Ek dank die HERE saam met julle. En ek gaan die skakel vir al ons Bybelstudie- en gebedsgroepies kopieer. Want ons gaan 2024 met hierdie getuienis… en met jou perspektief aangaande wonderwerke binne. Baie dankie hiervoor!
Dankie Maretha!