LIEWE LESER, KOM ONS KUIER ‘N BIETJIE SAAM

POSTED BY

Lulu van Aswegen

Ek wil jou graag vertel hoe ek God beleef

Eerskomende Sondag, 25 Januarie 2026, skop ons gemeente-tema, BELEEF GOD, af by my geliefde Pellissier Gemeente.  Dit is ook die vierde herdenking van die afsterwe van Carli, my geliefde kaalvoetkind, wie se brose aardse tentwoning om 04:04 op 25 Januarie 2022 afgebreek is.  Die 25e dag van elke maand lê besonder teer in my hart, maar in Januarie bereik dit die teerste punt.  Ek staan eers stil om te onthou en dan beweeg ek vorentoe om die prag van nuwe groei te omhels.

Ons Pellissier-reis het, vyf jaar gelede, ‘n jaar voor Carli se afsterwe begin.  Haar breinkankerlyding was onuitspreekbaar wreed, Covid19 het sy doodskloue in die nekke van geliefdes ingeslaan en die lewensvatbaarheid van ons sakeondernemings was, spreekwoordelik, met een voet op ‘n piesangskil en die ander voet wat oor ‘n diep, donker doodsgat gedangle het.  Op hierdie reis het ek vir God beleef — in die mooiste mooi en ook in die seerste seer.

Vandag staan ons met beide ons sakevoete op stewige vrugbare grond geplant — daar is nie nou piesangskille of doodsgate nie.  Ons koester kosbare herinneringe aan Carli en herdenk die nalatenskap wat sy agtergelaat het.  Ons is omring deur ‘n gemeenskap van omgeemense en ons vind voortdurend ons behoortenis in hulle midde.  Almal van ons is gewone en gewonde mense; ons is mede-reisigers, saamgebind in ‘n geloofsfamilie.  Ons erken dat ons aan die stukkende kant van die ewigheid met stukkende stelsels en stukkende mense bly en dat ons stukkend nie kan vryspring nie.  Ons is nie kwytgeskeld van kankerlyding, piesangskille of dood in die vorm van kloue of gate nie, maar ons is vrygekoop om aan die volmaakte kant van die ewigheid vir altyd sonder hierdie stukkend te lewe.  Deur die Heilige Gees is God by ons en ons kan Hom beleef ongeag van hoe stukkend dit rondom ons mag wees.

Ek nooi jou uit, liewe leser, om saam met my op my gedagtereis te gaan sodat ek met jou kan deel hoe ek vir GOD BELEEF op hierdie spesifieke gedeelte van my geloofsreis.  Stel jouself voor dat jy hier by my, in my nuwe skryfkantoor, kuier oor Coke of koffie sodat ons mekaar in die oë kan kyk terwyl ons gesels.  Sit gerus op die sagte leerbank en skop selfs die voetstuk uit vir ekstra gemak.  Ek gaan my hart blootlê en vanuit diep in my siel met jou gesels — eenvoudig, reguit, eerlik en deursigtig.

Ek het lank en nugter nagedink oor hoe ek my ervarings kan verwoord sodat dit in ‘n kuiertjie kan inpas.  Het jy al probeer om ‘n sirkustent in ‘n slaapsak in te stop?  Ek ook nie, maar ek gaan dit nou probeer doen….

Dit blyk asof ons die oomblikke in ons lewens op ons geloofsreise in twee groepe kan verdeel.  Daar is die deurslaggewende tye wat geskied wanneer ons aan lewensveranderende krisisse blootgestel word.  Dit speel waarskynlik af in die openbare arena waar dit voel asof ons in die kollig geplaas word en waar ander mense dit ook kan sien.  Daar is dikwels werklike bewysstukke soos skanderings, toetsuitslae, hospitaalopnamerekords, bankstate, regsbriewe en ander dokumentasie.  Ek kan verseker getuig daarvan dat ek God beleef het tydens die deurslaggewende tye gedurende die afgelope vyf jaar — in versoening, vervulling, herstel en gesondword.  Die diep insigte waartoe Hy my gebring het, het gekom vanuit verskeie invalshoeke wat ek nie noodwendig self gekies het nie.  Ek het besef dat ons, as gelowiges, tog so geneig is om gunstige uitkomste tydens hierdie tye te klassifiseer as WONDERWERKE en dat ons geneig is om met Photoshop-gedokterde before and after pics die reputasie van ons Lewende God se werke instand wil hou.  Die waarheid is dat Hy werk, ongeag van wat ons dit noem EN dat wanneer die uitkomste hartverskeurend is, dit geensins impliseer dat Hy nie werk nie.  Ek het geleer om Photoshop slegs in te span om detail uit te vee wanneer dit weerlose mense beskerm.

Dan is daar die oomblikke gedurende die deurlopende tye wat die res van ons lewenstyd inkleur.  Hierdie oomblikke speel af op die kantlyn, uit die kollig uit.  Daar is waarskynlik geen bewysstukke of pics nie en ander mense sien dit nie gewoonlik glad nie.  As jy mooi kyk, sal jy opmerk dat my oë nou tranerig raak wanneer ek jou die volgende vertel.

Ek BELEEF GOD elke keer wanneer ek Hagar se storie in Genesis lees.  Hierdie onbekende, onbelangrike, misbruikte en mishandelde vrou het nie net een keer nie, maar twee keer persoonlik met die Lewende God ontmoet.  Dit was werklike ontmoetings en sy het Hom beleef!  Sy was ‘n Egiptiese slawevrou en die enigste persoon in mensegeskiedenis aan wie die voorreg gegun is om aan God ‘n naam toe te ken — El Roi, die God Wie my raaksien.

Ek BELEEF GOD elke keer wanneer ek Vasti se storie in Ester lees.  Hierdie merkwaardige vrou het geweier om haarself aan die blootstellendste vorm van vernedering te onderwerp.  Sy het haar man, die domdronk-koning, se dierlike-agterbreingedrewe opdrag om vertoonpoppie-vermaak te verskaf aan hom en sy perverse dronk mannebende, verontagsaam.  Met sy koninklike dronkstert in ‘n krul getrek vanuit sy gekrenkte ego, het hy soos Hompie Kedompie se koning, ook al die raadgewers en magsmanne saamgetrek om vir Vasti die vark in sy verhaal te maak.  Maar soos ou Hompie Kedompie, het hierdie koning se magseiertjie gebreek en sou hy, met sy verontwaardigende vroteier-gesmeerde gesig, nooit weer toegang tot Vasti hê nie.  Ons Lewende God sien elke ongeregtigheid raak.

Ek BELEEF JESUS elke keer wanneer ek van die Samaritaanse vrou by die put net buite Sigar in Johannes lees.  Ons ken nie haar naam nie, maar hierdie arme vrou was die verpersoonliking van verwerping.  Ander vroue het neergesien op haar, sy was vir hulle afstootlik en sy was nie welkom om saam met hulle in die koel vroegoggend water te skep by die put nie.  Geloof en aanbidding was vir haar belangrik en sy het gesmag na die koms van die Messias om haar te bevry van die chaos rondom haar.  Volgens Johannes het Jesus haar huweliksrekord gemeld — dat sy reeds vyf keer getroud was en, ten tyde van hulle ontmoeting, by ‘n man was met wie sy nie getroud was nie.  In die afwesigheid van enige kontekstuele beskrywing van Jesus se gemoedstoestand jeens hierdie vrou, is dit sekerlik taamlik billik om te vermoed dat hierdie vrou se sedelike waardes hoogs bedenklik kan wees.  Maar deur die lense van Jesus se splagchnizomai-ontferming oor haar en ander soos sy, is dit selfs meer waarskynlik dat sy goeie huweliksmaats aan die dood moes afstaan terwyl sy, in algehele vrouwees-minderwaardige afhanklikheid, soos eiendom verkoop is om uitgelewer te word aan misbruik deur die res.  Jesus het haar raakgesien en Hy het haar gekies as eerste getuie aan wie Hy verklaar het dat Hy die Messias is.

Nie ek of jy of enige sterfling op hierdie aarde kan tyd ontglip nie.  Ons lewensduur word daarin uitgedruk en alles wat ons doen, word in tydgleuwe vasgepen.  Almal van ons is onvrywillig uitgelewer daaraan.  Die keurgraadgedeeltes van ons tyd word so gereeld spandeer aan dinge wat ons moet doen en dan bly daar net krummeltjietye oor vir dinge wat ons graag wil doen.  Eweneens kan dit gebeur dat ons die keurgraadgedeeltes van ons tyd spandeer aan dinge wat ons moet en wil doen, maar dat die yslike volume daarvan vereis dat ons dit ook maar in krummeltjietye moet opdeel.  Maak nou nie saak hoe ons die saak bekyk nie — almal van ons het net 24 uur elke dag, niks minder en niks meer nie.

Ek huur hierdie skryfkantoor omdat ek ‘n skrywer is.  Behalwe vir die 148 kortverhale en oordenkings (hierdie een ingesluit) op my webwerf, het ek nog niks gepubliseer wat jy van winkelrakke af kan koop nie.  Ek is OuteurOnbekend, ‘n doodgewone sterfling met ‘n skryftalent wat God deurlopend omskep in ‘n gawe in.  Ek lees en ek luister en ek let op.  Terwyl ek alles wat ek waarneem, oordink, ontstaan daar stories in my hart wat ek dan, in geskrewe woord, deel met almal wat kan en wil lees.  Dit tref my altyd onpeilbaar diep hoe intens God Homself ontferm oor kosbare mense wat eers uitgebuit en dan uitgewerp word om die randfigure van die samelewing te word.

Vir die volgende deel van my vertelling hoef jy nie eers mooi te kyk om te sien dat ek snot ek trane gaan huil nie.  Hierdie gedeelte is waar die tekkie die teer ontmoet.

My primêre liefdestaal is kwaliteit-tyd.  Dit beteken dat krummeltjietyd-interaksies vir my nogal moeilik is, want my geliefdheidswaardigheid word, onwillekeurig, aan tydsduur gemeet.  Die rasionele ontledingssentrum in my uitvoerende verstand is reeds uiters bedrewe daarmee om altyd die korrekte boodskap uit te stuur.  Maar soms word dit uitgestuur oor stukkende weë en het tot gevolg dat die boodskap slegs gedeeltelik of selfs glad nie afgelewer word in die gevoelsverwerkingssentrum in my hart nie.  Dis egter nie heeltemal so eenvoudig soos wat ek dit hier beskryf nie, maar aangesien ek en jy ook net ‘n beperkte kuiertydjie het, wil ek graag by die eintlike punt uitkom.  Hoekom het ek myself so kwesbaar gestel?  Want ek hoop dat jy dan sal verstaan hoekom ek God op so ‘n besonder omvangryke en onverklaarbare wyse beleef.

Ek wy my keurgraadtye toe daaraan om my hart en siel uit te skryf en gedurende daardie proses, leef ek saam met die karakters in elkeen van my stories.  Maar na webwerf-vrystelling kan ek so gereeld vaskyk in die krummeltjie-reaksie daarop en neerslagtig raak.  Keer op keer is dit dan in hierdie oomblikke waar ek terugkeer na die lewens van my karakters.  Ek sien en beleef hoe Baru en Amani se sig herstel word sodat hulle vir Jesus kan sien.  Net soos Paballo se omgeemense, wens ek ook gereeld dat Jesus ‘n werklike kantoor kan hê waar ek in Sy omhelsing kan sit en gesondword.  Ek staan in Amani se skoene wanneer Jesus haar omhels.  Ek staan daar, in die hospitaalkamer, waar Tamara se sterwende gesig ophelder en sy El Roi met oop arms sien voordat sy haar laaste asem uitblaas.  Ek sien hoe klein kreupel, stom Asha na Jesus toe hardloop en met Hom gesels asof sy nog altyd kon praat.  Ek sit binne-in Fin en Desi se stukkende strandkewerkarretjie, kry saam met hulle yskoud en voel Tim se warm omgee in my eie hart.  Ek staan in kwaai Sally se skoene terwyl Jesus Sy hart teenoor haar uitstort oor die arme vrou in Rigters 19, ek kan Sy gesigsuitdrukkings sien.

EK BELEEF HOM en dit voel asof tyd stilstaan of dalk glad nie eers bestaan nie EN ek voel dat Hy na my kyk asof ek die enigste mens op aarde is.  Dis amper asof Hy, met ‘n stukkie tydlose ewigheid, insny en invul op die tydlyn sonder om daaraan deel te neem.  Nee, ek kan Hom nie sien of aan Hom vat nie, maar Hy is nie net daar nie, Hy IS die hele stukkie.  Daar is nie pics nie.  Daar is nie dagboekinskrywings nie, want dit gebeur nie op ons tydlyn nie.  Dit is oomblikke wat terselfdertyd reeds gebeur het, nou gebeur en nog gaan gebeur.

Ons Lewende God is die ewige Lig wat oral skyn.  Hy IS die enigste Kollig met ontferming oor die randfigure op die kantlyn.  Ongeag of ek ooit gaan publiseer in die wêreld se kollig of net OuteurOnbekend op die kantlyn gaan bly, Hy sien my raak.

Ek weet nie regtig hoe om die volheid van my ervarings waardig te beskryf nie, maar ek wil nooit ophou om El Roi, die GOD Wie my raaksien, te BELEEF nie!

Dankie dat jy kom kuier het en na my geluister het.  Op jou pad uit, staan gerus ‘n rukkie stil by Carli se gesiggie en gediggie teen my muur en Smile (titel van haar gediggie) saam met my terwyl jy ook besef dat sy nou aan die volmaakte kant van die ewigheid vir altyd sonder stukkend lewe.  Kom kuier gerus weer, want die sirkustent gaan nooit in die slaapsak inpas nie.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. Maretha Maartens

    Lulu, wat ‘n sielsverrykende, evokatiewe ervaring is dit om uit jou hart uit te hoor hoe JY Jesus Christus beleef. Sielsverrykend, want die suiwerheid en egtheid van hierdie gesprek is soos lieflike klassieke musiek wat die siel tot lewende luister noop. Evokatief, want die vraag wat jy nie gestel het nie, volg: ”En jy, leser, hoe beleef jy vir JESUS?” [En, liewe leser, hoe dink jy aan jou ontmoeting met die Drie-enige God ná die lewe hier onder die son?] Ken ek nog iemand wat so indringend oor sy of haar persoonlike geloofsbelewenis skryf? Nee, ek dink nie so nie. Hierdie is nie blootstelling nie: dit is ‘n kragtige getuienis, ‘n stuk gehoorsaamheid aan die opdrag in 1Pet 3:15,16:  ” In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.” Dankie hiervoor, Here Jesus. AMEN.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Maretha, baie dankie dat jy nie net deelneem nie, maar ook met groot waardering in ‘n gesindheid van “beskeidenheid en eerbied vir God” saamgesels en in wysheid ook aanvul en bydra. Dit verryk my siel meer as wat ek sê! ❤️

      Reply
  2. Madeleen Steenkamp

    Lulu, jy help my om die Here se lig duideliker te sien.Dankie vir jou inspirasie .Jou gawe met woorde laat my nie net dink nie ,dit raak my hart aan.Mag meer en meer mense die vooreg hê om jou werk te lees. Madeleen Steenkamp

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Madeleen, baie dankie vir jou mooi waarderingswoorde, dit verbly my hart! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post