KOSMOSSIES

POSTED BY

Lulu van Aswegen
KOSMOSSIES

Veldblommetjie-gediggie

Op die Vrystaatse vlaktes

En langs die Hoëveldpaaie

In die doodsnikke van Somer

In Herfs se eerste lewenslig

 

Lê laslappiekomberse oopgesprei

Met wit, pers en pienk spikkeltjies

Vlae van vrolike veldblommetjies

Kosmossies — kwistig en kleurryk

 

Groei welig in helder sonskyn,

Droogte-bestand in swak grond

Selfsaaiers — veerkragtig & veelsydig

Getroue verskynseltjies, jaar na jaar

 

Skoonheidsprag in vars eenvoud

Vervullende vrede in vreedsaamheid

Die onmiskenbare balans tussen

Die gewone en die merkwaardige

 

Maar eenkant is ‘n enkelblommetjie

Nie ‘n spikkel op die kombers nie

Dis nie wit of pers of pienk nie

So anders en tog so dieselfde

 

Die skarlakenrooi blommetjie

Is eintlik ook net ‘n kosmossie

Hopeloos te naby aan die pad

Waar mense dit plat kan ry

Net soos die skarlakenrooi kosmossie, is daar mense in ons samelewing wat eenkant staan omdat hulle anders is.  Daardie eenkant is soms te naby aan die pad, waar hulle weerloos staan en uitgelewer word daaraan om platgery te word.  Maar selfs al word hulle platgery, verskyn hulle seisoen na seisoen weer daar…..eenkant.

Miskien kan die wit, pers en pienk mense ‘n KOSMOS-les leer oor die skarlakenrooi mense:

Dit KOSMOS niks om goed te wees vir mense wat platgetrap word deur slegte lewensomstandighede nie, want dit KOSMOS alles vir hulle om keer op keer weer op te staan van die grond af.

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post