Die buitengewone gebeurtenis langs ‘n gewone pad.
“Die linkeragterwiel het ‘n yslike spyker opgetel. Ek gaan die spaarwiel opsit, maar ons sal moet terugdraai Zeerust toe om die stukkende band te vervang.”
Dis nie noodwendig die woorde wat ek van my liefie af wil hoor nadat ons skielik moes stilhou nie, maar ten minste het hierdie kar van ons wel ‘n Marie-koekie spaarwiel. Ons vorige kar het glad nie ‘n spaarwiel gehad nie. Vir ‘n kort oomblik verlang ek terug na die duur Duitse karre wat ons in die vorige dekade gery het, want hulle het running on flat tyres gehad, maar die blote gedagte daaraan dat hierdie karre glad nie die rowwe terrein van ons bestemming sou kon baasraak nie, ruk my terug na die hede toe. Ons staan langs die pad iewers tussen Zeerust en Kopfontein. Hier is ‘n klein nedersetting met ‘n soort spaza-winkeltjie en ek besluit om vir ons yskoue water en Coke te gaan koop. Met die intrapslag kan ek voel hoe die winkelmense my met versigtige agterdog bekyk, maar ek verkry die koeldranke vanuit die yskas en loop na die betaalpunt. Die dame agter die toonbank is opsigtelik huiwerig, maar ek groet haar vriendelik, in my mooiste KZN Engels, en dan vra ek haar ‘n vraag wat die ongemak in die vertrek sommer heeltemal insluk.
“Do you know the friendly young tractor driver with the NASA T-shirt who must have passed here just a few minutes ago? He greeted everyone on the road.”
Voor ek myself kon kry, sit ek by een van die tafeltjies en luister na ‘n verstommende mooi storie. Linah, eers huiwerig en nou ywerig, vertel my van haar seun Nkosinathi. Ek kan nie alles so mooi verstaan nie, want hoewel hierdie vrou die enigste twee tale wat ek magtig is gebroke praat, is sy ook ander tale magtig wat ek nie eers gebroke kan praat nie. Nkosinathi is destyds gebore met een of ander breinontsteking en daar was geen hoop dat hy ooit eers langer as ‘n week sou oorleef nie. Maar sy ma het geglo en hy het oorleef. Dit was glad nie maklik nie en in sy tienerjare het hy die pad begin byster raak en weereens het dit hom in lewensgevaar gedompel. Ek kan Linah se pyn voel en haar trane is skielik ook my trane. Maar met hoopvolle verwagting luister ek egter verder, want ek weet dat ons iewers gaan uitkom by die jong man op die trekker wat my netnou so vriendelik gegroet het. Linah stel nie teleur nie en ek word ingetrek in iets wat ek ten beste kan beskryf as ‘n lewende en lewegewende erfenis. My liefie gaan alleen terug Zeerust toe terwyl ek hier agterbly waar my siel verkwik word deur ‘n aangrypende verhaal van buitengewone hoop vir gewone mense.
Nkosinathi is nie die enigste trekkerbestuurder wat ‘n NASA T-hemp dra nie. Inteendeel, daar is ‘n groot groep jongmense in die plaaslike gemeenskap wat soortgelyke hemde met trots dra. Jongmense wat almal hulle pad iewers byster geraak het en toe begelei is na ‘n pad waar hulle die Lewende God ontmoet en Hom dien terwyl hulle ook hulle gemeenskap bedien. Die inisiatief is gebore in Ellie, ‘n plaaslike boervrou, se hart nadat dit herhaaldelik gebreek het vir elke afvlerkvoëltjie wat haar pad gekruis het. Ek kom agter, vanuit Linah se woorde en lyftaal, dat Ellie se werk nie ‘n uitblaker-tipe billboard bediening is nie en ek besluit om eers uit te vra oor die NASA T-hemde. Linah vertel my dat Ellie aan elke “gegradueerde” ‘n T-hemp gee as herinnering dat ons IN hierdie wêreld, maar nie VAN hierdie wêreld is nie. Ellie het self, destyds as tienerjarige, die gesogte Space Camp vir skrander leerlinge in Amerika bygewoon en dis juis die T-hemp waarmee sy teruggekeer het, wat haar inspireer het om gevalle jongmense uit hulle ellende uit te help.
Ek is so meegevoer en ek het so baie vrae, maar sif dit noukeurig in my kop om nie vir Linah te oorweldig daarmee nie. Ek vra uit oor Ellie, want sy klink na ‘n merkwaardige mens. Linah praat met liefdevolle dankbaarheid van ‘n vrou wat ek nou so graag sou wou ontmoet. Geliefde huweliksmaat van vyfdegenerasieboer Marthinus Fourie wat as driejarige dogtertjie beide haar ouers verloor het en deur haar bloedjong tannie Puleng Molefe grootgemaak is. Puleng was destyds een van die NGKerk se eerste Sesotho-sprekende gelegitimeerde dominees en sy het self ‘n Engelse aanneemma gehad in Eleanor Fey. Puleng het haar dogtertjie laat doop as Lerato Eleanor Molefe-Fey, maar haar noemnaam was nog altyd Ellie. Ek is absoluut verstom, die trane loop teen my wange af en toe ek my liefie sien binnekom, besef ek dat ons tyd verstreke is. Ons sal moet begin aanstaltes maak indien ons die Botswana grens nog in daglig wil oorsteek. Ek het nog soveel vrae. Ek bedank Linah met ‘n drukkie en ‘n warm, ongedrinkte Coke in my hand, maar wanneer ek omdraai om deur toe te stap, kyk ek reguit in die deernisvolle oë van ‘n vrou met ‘n NASA T-hemp aan. Linah stel ons aan mekaar voor en Ellie tik al haar kontakbesonderhede op my iPhone in. Ek wil so graag hierdie vrou se storie hoor en dalk net miskien…dit ook skryf.
Ek ry daarvandaan weg met Lerato Eleanor Molefe-Fey Fourie se naam in my iPhone se kontakregister en ‘n dringende dankbare gebed in my hart. Dankie Here dat ons net ‘n gewone Toyota ry, want as ons nog die duur Duitse karre met running on flat tyres gery het, dan het ek nie vandag hierdie belewenis gehad nie!
Ek plaas graag ‘n YouTube-skakel na ‘n uitvoering van Beethoven se vyfde simfonie hier onder op versoek van my geliefde vriendin, Maretha Maartens. Luister/kyk gerus hier 👇🏼





Wat ‘n liefffflike storie !!!!!!!!!!!!
Dankie dat ons met jou kan saamry en jou stories beleef.
So baie dankie, liewe Charnetta! ❤️
Lulu, eindelik kon ek ook hierdie storie lees. Met Beethoven se 5e simfonie wat ek vir my liefie op sy eie moeilike reis speel, as agtergrondmusiek, sit ek nou hier met opgedamde trane en ‘n feesmaal-versadigde hart. Ek stem met Charnetta saam: wat ‘n lieflike storie. Wat ‘n sout-van-die-aarde storie. Puleng Molefe, Ellie, Linah… en Lulu. Die mens dink sy pad uit, maar God bepaal waar sy kinders sal stilhou. Beethoven se lieflike musiek hoort saam met jou storie, Lulu. Hy het ook nie geweet wat sy musiek vir mense se gees en siele sou doen nie. So is dit ook met hierdie verhaal. Ons bid vir jou vir nog hiervan. Dankie!
Liewe Maretha, so baie dankie vir jou mooiste woorde en jou meelewing! Ek sal graag probeer om ‘n clip van Beethoven se 5e by te voeg — stand by. 🎼
Dankie! Vir die lieflike storie en die lieflike musiek. (Ek haal vandag in na ‘n besige tydjie)
Ek stem saam, dit loop hand-aan-hand.
Liewe Carla, baie dankie vir jou mooi woorde!