Van opsteldreigement tot publikasie-aanbod
AGTERGROND:
Lank, lank gelede het ek ‘n juffrou gehad wat ons gereeld gedreig het met die straf om ‘n duisend-woorde opstel te skryf oor DIE KLEINKOEKIEBEDRYF VAN SUID-ALASKA. Dit was etlike dekades voor die internet en KI. Ek het nie regtig geweet waar Alaska is nie, maar ek het geweet dat almal koekies eet, selfs aan die onderkant van ‘n onbekende plek. Die herinnering het aanleiding gegee tot hierdie gediggie.
Haar koekiebakreis het
‘n paar jaar gelede begin.
Effe skeef en krom, maar
sonder twyfel tuisgebak.
Daar was eksperimente
met verskeie bestanddele.
JellyTots, Smarties,
Rolo’s en PienkPilletjies.
Daar was belangstelling
in haar ongewone koekies,
maar vir die meeste mense
was ‘n koekie net ‘n koekie.
Daar was selfs waardering
vir haar koekies sonder gelyke,
maar die meeste mense wou nie
hulle lekkernye in ‘n koekie hê nie.
Die toetssnobs van tuisnywerhede
sou altyd heerlik smul aan haar
gratis voorbeeldpakkies, maar
wou nooit haar koekies bemark nie.
Toe ontmoet sy ‘n koekiebak-koningin
wie se koekies op die rakke van
tuisnywerhede landswyd verskyn en
Bobaas en Beginner word hegte vriende.
Bobaas het die grootste waardering
vir Beginner se koekies ontwikkel en
dit ook self bekendgestel en bemark.
Bobaas het Beginner getrou ondersteun.
Dit het begin blyk dat al Beginner se
pogings om haar koekies te bemark,
bedoel was om hopeloos te misluk.
Toe maak Bobaas daardie opmerking.
Beginner se koekies was lankal
nie meer skeef en krom nie, maar
sy het wesenlik haar suikerkoekies
aan diabete probeer bemark.
Dit was tyd vir herbeplanning,
herkalibrasie en ‘n wêreldkaart.
Daar is ‘n kleinkoekiebedryf wat
belangstel in Beginner se koekies.
En hulle is net-net suid-oos van Suid-Alaska geleë!






0 Comments