van versagtend na verswarend
Aan die stukkende kant van die ewigheid, iewers
tussen paradysoortreding en planeetverwoesting,
weerklink die slotwoorde van die Rigters-boek, met
afskuwelikste gruwels, steeds hard en duidelik—
“Geen koning nie; almal doen net wat hulle wil.”
Deur die eeue en wêreld heen, dieselfde ou storie.
Onuitputbaar universeel. Onbetwisbaar tydloos.
Mense en hulle konings, verwaand en selfsugtig.
Aanjaag. Opfoeter. Toekrap. Oopruk. Afbreek.
Nes Johannes se dief “steel en slag en uitroei”
SKULDIG, met versagtende omstandighede—
Selfregverdiging. Selfverryking. Selfverheffing.
Verwerp. Verdraai. Verraai. Vermink. Vermoor.
Terwyl sommiges die lelik saggies maak,
is daar ander wat swaarkry daaronder.
En SKULDIG word afgewater…
Abraham en Sara was nie ongeduldige planmakers nie,
hulle was verkragter en medepligtige in ‘n sameswering.
Hulle gruwelike misdaad het Hagar ernstig laat swaarkry.
Maar die Lewende God het Homself oor haar ontferm
en sy word die enigste mens ooit om Hom te benoem.
Koning Dawid het nie ‘n ou oordeelsfoutjie begaan nie.
Ook hy was ‘n verkragtingsmisdadiger toe hy ‘n ander man
se vrou wou hê en gevat het sonder haar toestemming.
Batseba se swaarkry was tweeledig — seer en dood.
Dawid het berou betoon en God het herstel en opgehef.
Dit was glad nie skoonheidskompetisie-deelname nie.
As onskuldige maagd, is Ester uitgelewer aan ‘n
sekshandelnetwerk waarin ‘n reeksverkragter-roofdier
honderde onskuldige meisies seksueel uitgebuit het.
Vasti het NEE gesê en ‘n hele nasie se perverts bedreig.
Gedurende tye van patriargale onderdrukking, toe wysheid
met wellus vervang is en vieslike vergrypings taamlik volledig
vervat is in Ou Testamentiese tekse, was die toekenning van
labels soos “hoer” en “prostituut” aan vroue taamlik volop,
maar die geloofwaardigheid daarvan, wesenlik, bedenklik.
Maar toe kom Hy, die Seun van God, en Hy herroep die uitspraak…
Die Lewende God, God van Abraham, Isak en Jakob,
sluit ‘n vennootskap met ‘n jong, maagdelike vrou en
sy word die moeder van Jesus Christus, Seun van God.
Hy sien die vroue wat swaarkry en die met labels aan.
Hy verlig hulle swaarkry, maak hulle heel en hef hulle op.
By ‘n put in Sigar, gebruik Hy ‘n naamlose vrou se label
om haar aandag te trek sonder oordeel en dan verklaar
Hy eerste aan haar dat Hy die Messias is en sy bekeer
bykans almal wat haar verag het, met haar getuienis.
Opgestane Jesus verskyn eerste aan vroue, Sy apostels.
Die stukkendste, seerste mense wat die swaarste gekry het,
het Jesus met oorgawe as Verlosser aangeneem, maar
Jesus se bediening het op die tone van die saggiesmakers
getrap, en die selfregverdigende verontwaardiging in hulle
swaar harte het gegroei tot woede, haat en moordlus.
SKULDIG, met verswarende omstandighede—
Jesus verafsku die saggiesgemaakte lelik.
Hy herstel die uitspraak en die woedende, moordlustige
saggiesmakers verdraai die waarheid wat hulle bedreig.
Hy word eers verwerp en verraai en dan vermink en vermoor.
“for all have sinned and fall short of the glory of God,” —Romans 3:23 NIV
Ek en jy en elke mens op aarde is SKULDIG, met verswarende omstandighede, ongeag van opinie. Jesus het die somtotaal van selfs al die afskuwelikste en gruwelikste sondeskuld van die hele mensdom op Homself geneem en met Sy lewe die losprys betaal om alle mense, deur geloof in Hom, vry te koop van sondedoodsvonnis sodat hulle, aan die einde van hierdie lewe, vir altyd saam met Hom te lewe aan die volmaakte kant van die ewigheid.
Ek is ‘n vrou wat, in hierdie lewe, steeds gelabel word, gereeld weens die bedreiging wat my woorde vir sommiges inhou, maar die enigste label wat ek waardig ag, is GELIEFD EN VRYGEKOOP DEUR JESUS.





Ja, Lulu, hoe bitter het die lewe spesifiek ook vir vroue en jong meisies geword nadat die mens— Eva en Adam, voorheen EEN in hulle sondelose verbintenis met God en met mekaar—van die verbode vrug geëet het! Hoe tragies voorspelbaar was dit dat heiligheid toe ook uit die lewe van God se geliefde geroepenes sou wyk… [Ken ons dit nie ook in ons tyd nie? Herken ons sulke insinkings nie ook in onsself nie?] Weer eens beskryf jy die stukkende kant van die ewigheid, ook spesifiek in die Ou Testament waarin daar nog nie volgelinge van Jesus was nie, op ‘n wyse wat die leser tot stilstand ruk. En, nee… ons sal sekerlik nooit hier op aarde verstaan hoe die feit dat Esther in Ahasveros se harem beland het, met iets so geweldigs soos die oorlewing van ‘n volk kon saamhang nie. Want Mordegai se woorde was Gees-geïnspireerd, en waarskynlik tydloos relevant vir elke gelowige in ‘n omringende goddelose/teen-Christelike opset: Ester 4:14b: ”Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Terwyl ek hierdie gedig gelees en probeer insien het wie Esther bedoel was om te wees en hoe sy dit ten spyte van haar omstandighede deur die wil van God geword het, het ek net geweet: ek begryp maar net ten dele. Wanneer die Volmaakte gekom het, sal ek ten volle verstaan. Innig dankie dat jy elke leser aan die hand vat en na Christus begelei: Hy wat die absolute Waarheid van God is.
Liewe Maretha, dankie vir jou waardering en meelewende saamgesels oor ‘n hoogs sensitiewe onderwerp wat veels te gereeld omseil word met onkunde toegedraai in fraai mooiweersteologieversierinkies. Ons rou, eerlike en onmoontlik-moeilike vrae oor Ester het nie antwoorde aan hierdie stukkende kant van die ewigheid nie. Ons Lewende God is altyd goed, Hy kan nie boos wees nie, maar sondige mense is instaat tot onuitspreekbare boosheid. ✝️