’n TOR, ‘n PROP EN ‘n TROEBEL TOEKOMS

POSTED BY

Lulu van Aswegen

vir net ‘n kort klein rukkie

 

Die grillerigste leuse

van die mensdom lei

uiteindelik daartoe dat

die grootste leed aan

menswees gedoen word—

ELKEEN DOEN WAT

REG IS IN SY EIE OË.

 

Domastrante mensies met

raaskoppies waarbinne die

dink-torre* tog so gereeld van

die dobberende kognitiewe

kurkproppe* afspring—

die kopligte is aan, maar

niemand bestuur die kar nie.

 

Die wet van opneuk en afbreek,

elke asemrowende aanjaag

en elke tragiese terugslag.

Die opmors en afmaai

van voortbeur en verower.

Grof, gruwelik en gewelddadig.

Gewetenloos en genadeloos.

 

Van konings en kroonwild tot

belastingbetalers en boemelaars,

uitgelewer aan reeksmoordenaars

en sekshandelaars uit alle

vlakke van die samelewing—

van die koning se boetie tot

die boemelaar se kleinnefie.

 

Vir elke Xerxes en Epstein, is

daar duisende Vasti’s en Virginia’s.

Magsmisbruikende manne wat

hulleself vieslik vergryp daaraan om

vroue te verag, verneder en verkrag.

Leed aan liggame, stukkende siele.

Binnekante wat bloei en bloei.

 

Voortbestaansreg vrywaar nie, dit

verhoog net die vieslikheidsgraad.

Daar is net een Heilige God en Hy

verafsku vieslike vergrype, ongeag

van herkoms— Hebreeus of heiden.

Hy sien alles raak en sal rekenskap

vereis van alle roekelose raaskoppies.

 

Vroue is beliggaamde siele, geskep

na die beeld van die Lewende God.

Jesus Christus, Seun van God, het

mensgeword in ‘n vrou se liggaam,

sonder leed of vergryp of ‘n man.

Hy het menswees herstel en Hy het

gebloei sodat die huidige stukkend

eendag volmaak kan wees.

 

*Gegrond op ‘n effe verspotte vereenvoudigde vertelling van die samestelling van ‘n mensbrein — iewers op ‘n geslote watermassa met kanale is daar ‘n tor met ‘n roeispaan bo-op ‘n dobberende kurkprop en hy regeer die land van regdenkendheid terwyl hy daardeur roei. Dan, soms of selfs gereeld, spring mense se torre van die proppe af…soos gedurende die tyd van die Rigters, en eintlik in die tyd voor die Rigters en beslis in die tyd na die Rigters tot vandag toe nog. SOS — Selle Ou Storie.

 

“In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.”  —‭‭Rigters‬ ‭17‬:‭6‬ ‭AFR20‬‬

“In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.”  —Rigters‬ ‭21‬:‭25‬ ‭AFR20‬‬

 

Skrywer se slotgedagte:

In daardie tyd was daar nog glad nie ‘n enkele koning in Israel nie. Die heel eerste koning, Saul, word eers honderde jare later gekroon en na drie koninklike geslagte split die volk in twee koninkryke — Israel in die Noorde en Juda in die Suide. Terloops, uit die 19 konings van Israel, het nie ‘n enkele een van hulle gedoen wat reg is in die oë van die Here nie, maar net gedoen wat reg was in hulle eie oë.

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes poems, reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. Charnetta

    Sjo ja……… wie of wat beheer jou aksies, staan jy onder die gesag van God, of jou eie……………… ?

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Charnetta. Van die vroegste tye af doen mense wat reg is in hulle eie oë en dit gebeur steeds vandag.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post