‘n Timothy Johnson geïnspireerde kortverhaal
VRYWARING: HIERDIE VERHAAL IS FIKSIE. ALHOEWEL SOMMIGE VAN DIE KARAKTERS HIERIN VERVAT GEBASSEER IS OP WERKLIKE MENSE, IS ENIGE OOREENKOMS VAN DIE KARAKTERS MET WERKLIKE MENSE, BLOOT TOEVALLIG EN GLAD NIE VERTEENWOORDIGEND VAN ENIGE VORM VAN DIE WERKLIKHEID NIE.
Timothy (Tim) Johnson lei ‘n groep van 6 dinamiese voltydse leraars in ‘n groot gereformeerde gemeente. Vanweë sy ouderdomsvoorsprong van ten minste 15 jaar oor sy naasoudste kollega, word daar na hom verwys as Ou Dominee. Dit sluit aan by ‘n spesifieke vorm van eerbewys in Afrikanertradisie om, in die geval van ‘n ouderdomsverskil van minstens 10 jaar, die ouer persoon aan te spreek as oom of tannie. Ou Dominee is nie net uiters geliefd onder lidmate en kollegas nie, maar word ook oorwegend gesien as ‘n soort volksbesit in die gemeente, veral in die ouderdomsgroep noord van middeljarig, maar beslis nie slegs beperk tot hulle nie. Bykans al die gemeente se bepalende bedryfsbesluite berus by Ou Dominee – bedienings, begrafnisse, berading, begeleiding, bevestiging, bemiddeling en baanbreking. Selfs gedurende ‘n rustiger week is Ou Dominee se dagboek taamlik volgeboek, want hy is uitverkoop aan sy roeping. Dis nie vreemd om hom lank voor 08:00 in sy kantoor by die kerkkantoor te vind en te hoor dat hy weer net voor 21:00 eers weer by sy huis ingestap het nie.
Tannie Nellie en tannie Miemie het, vir die soveelste keer, toegelaat dat ‘n meningsverskil uitgerafel het en die Dinsdagoggend senior Bybelstudie, met onderdrukte onsmaaklikheid, tot stilstand geruk het. Hoewel Ou Dominee, soos met elke vorige keer, dit reggekry het om die gekaapte vliegtuig veilig te land, was dit die eerste keer dat die onaangenaamheid van die geleentheid bly talm het in sy onderbewussyn. Hy kon nie verklaar waarom die 2-jaar-lange inperking van die COVID-grendeltydperk die wedywering tussen die twee bejaarde dames so beduidend laat toeneem het nie. Beide van hulle het yslike verliese gely toe hulle geliefdes aan die dood moes afstaan gedurende hierdie tydperk. Beide van hulle het ernstig begin vereensaam en dit het gereelde (maraton) telefoonoproepe met Ou Dominee tot gevolg gehad. Ou Dominee se onvoorwaardelike goedhartigheid het daartoe gelei dat tannie Miemie sy beskikbaarheidsaanduiding op WhatsApp soos ‘n valk begin dophou het en dan bitter ontsteld kon word indien hy nie dadelik reageer op al haar boodskappe nie. Ou Dominee se beskikbaarheid verskyn sedertdien nie meer op sy WhatsApp profiel nie.
Die oproep om 02:33 ruk hom wakker uit ‘n diep slaap. “Dominee, jy moet vinnig kom, ek dink hy….” Dan word die fluisterstem skielik onderbreek met ‘n harde slag en ‘n angswekkende gil. Die lyn word afgesny en daar is net stilte aan die anderkant. Net voorverlede maand het ‘n woedende Ben amper vir Ou Dominee te lyf gegaan toe hy (Ou Dominee) ‘n paar nuwe grense gestel het. Ben was kwaad omdat Ansie al ewig die kerk in alles in sleep, maar hy was van-sy-trollie-af woedend toe die dominee, volgens hom, sy gesag in sy eie huis ondermyn. Die uiteinde was dat Ben vir Ou Dominee weggejaag het terwyl hy ‘n paar keurgraadbooshede agterna geskreeu het. Hy het, onder andere, al Ou Dominee se toekomstige toegangsreg tot sy eiendom onmiddellik herroep asook hulle kerklidmaatskap beëindig deur, al swetsend, ‘n denkbeeldige lugkontrak met spattende spoeg te onderteken. Dis 02:34 en Ou Dominee weet dat Ansie in lewensgevaar verkeer, of dalk veel erger. Hy het immers die foon geantwoord nadat hy Ansie se naam op die caller ID gesien het en nou moet hy deurvoer wat hy begin het. Met sy aankoms op die Mullers se kleinhoewe net buitekant die stad nog voor 03:00, word hy begroet met selfs ’n erger graad van tragedie as wat hy vermoed het. ’n Hartverskeurend-huilende Ansie is op die grond, vooroorgebuig oor iemand wat stil op die vloer lê. Die man op die grond is nie Ben nie, dis Ou Dominee se kollega, Riaan Harmse, en hy het ’n gapende skietwond aan sy bolyf. Nadat Ben weke gelede vir Ou Dominee weggejaag het, kon Ansie darem daarin slaag om Ben te oortuig om Dominee Riaan toe te laat om oor te kom en beperkte berading aan te bied wanneer hy, wat Ben is, ontvanklik (en nugter) is daarvoor. Dit het gelyk asof Ben erns begin maak het daarvan om sy lewe om te keer. Dit was tot voor vanaand. Vanaand het sy kop heeltemal uitgehaak en hy het nie net al sy vordering ongedaan gemaak nie, maar hy het Ansie met beduidend meer geweld aangerand as ooit tevore. Toe Ansie orent kom en opkyk na Ou Dominee, lyk haar gesig lyk soos iets uit ’n gruwelfliek en vanuit die beeld van die wild-verwronge benerige knop waar haar linkerskouer en sleutelbeen moet wees, verstaan hy hoekom haar linkerarm bloot soos ’n pap, gestopte lap teen haar lyf hang. Nadat Ben vir Riaan geskiet het, het hy in sy bakkie gespring en weggejaag. Ansie het, uit desperaatheid, vir Ou Dominee gebel toe Ben sy geweer op Dominee Riaan gerig het. Ou Dominee maak ’n paar dringende oproepe en spoedig is die polisie op die toneel en neem twee ambulanse twee gewonde mense na dieselfde hospitaal toe.
Oom Sarel se voorkop is ‘n beduidend-betroubare gesigsuitdrukkingspadkaart van 76 jaar se ernstige woordewisselingskermutselings en die diepte van vandag se drie eweredige slote, kan amper in sentimeters gemeet word! As ‘n afgetrede oud-professor in dierkunde, was hy nie net hoogs gekwalifiseerd nie, maar ook belese in verskeie ander velde, onder andere teologie. Oom Sarel het nooit getrou nie, sy naaste familie het in 2010 padgevat buiteland toe en hy is trots op die selfopgelegte stigterstatus van sy kerklidmaatskap. Hy maak dit ook gereeld duidelik dat hy al in die kerkraad gedien het nog voor Dominee die eerste keer op ‘n skoolbank gesit het. Vanweë oom Sarel se eie gevorderde ouderdom, laat hy die OU voor DOMINEE uit. Solank as wat oom Sarel saamstem met die visie van die gemeente, is hy ‘n staatmaker in sy getroue betrokkenheid, maar wanneer sy visie en die gemeente s’n nie ooreenstem nie, kan die uitvallende uitstraling met ‘n Geigerteller bespeur word. Sedert die ontstaan van die selfdegeslagverhoudingsvraagstuk sewe jaar gelede, het die 6 leraars hulleself begin toerus met denkbeeldige bestralingsdosimeters elke keer voor hulle met oom Sarel ontmoet. Vandag se onderonsie het egter niks te make met selfdegeslagverhoudings nie en oom Sarel het reeds denkbeeldig-dodende bestralingsdosisse uitgedeel aan die vyf jonger leraars. Nee, vandag eis hy rekenskap van die hoofleraar vir die leraarspan se onBybelse en lafhartige hantering van die wilde baskitaarspeler. Die uitdagende mannetjie met die walglike tattoos mag dalk sommiges om die bos lei met sy stille-water-diepe-grond houding, maar sy Godslasterlike aanlynvideos verskaf genoeg bewyse aan oom Sarel om sy eis te regverdig. Oom Sarel ontmoet met Dominee en verwag van hom om die kitaarspeler en sy Engelssprekende familie (wat in elk geval ‘n bedenklike kerkgeskiedenis het) summier die kerk (sy kerk) te verbied. Tot dusver het nog net oom Sarel gepraat. Dominee luister aandagtig terwyl hy ook oorweeg met watter woorde hy oor 12 minute die ontmoeting gaan verdaag. Dit gaan moontlik sy enigste woorde wees en, daarom, moet hy dit versigtig kies. Hy besluit om stadig, onopsigtelik, sy dagboek nader te trek, want daar gaan net genoeg tyd wees om ’n opvolgafspraak met oom Sarel te maak. Dominee het beduidende ontsag vir oom Sarel en vanuit sy eie reverence en awe vir die Heer kry hy dit reg om, met deernis in 10 minute, die ou man se ongeregverdige onstuimigheid te kalmeer én sy menswaardigheid te beaam.
Ou Dominee Tim het ‘n Godgegewe vermoë om vinnig ‘n stewige begrip te ontwikkel vir die multidimensionele aard van die lewens van die mense wie hy bedien. Hy wéét dat beide tannie Nellie en tannie Miemie eintlik net reageer vanuit ‘n plek van onsekerheid en onverwerkte pyn. Hy is onbeskryflik dankbaar dat Riaan goed aansterk tuis nadat Ben se koeël al die belangrike organe gemis het. Tim en Riaan het ook reeds ‘n diep gesprek gevoer en moes aan mekaar erken dat die tragiese verloop van gebeure rakende die Mullers, heeltemal buite hulle beheer was. Ongelukkig lê die hartseer van ‘n dubbele lewensverlies nog baie vlak by albei van hulle. Ansie het reeds in die ambulans, oppad na die hospitaal toe, gesterf aan massiewe inwendige bloeding en Ben se verkoolde lyk is enkele dae later bevry uit die uitgebrande wrak van sy bakkie op ‘n verlate pad buite die stad. Tim het ook weer met oom Sarel ontmoet en die keer het hy omtrent al die praatwerk gedoen. Met liefdevolle deernis en sagte woorde vertel Tim vir oom Sarel dat die kitaarspeler, William, eintlik een van die diepste en goedhartigste mense is wat hy al ooit teëgekom het. Met ‘n knop in sy keel en ‘n teer gebrokenheid in sy stemtoon, vertel Tim van die stewensbegeleidingspad wat hy saam met William se jong vrou, Katey, geloop het en dat sy na ‘n lang, wrede kankervretende lyding, gesterf het. Tim vertel dat hy innig lief vir William, Mikey (Will en Katey se 3-jarige seuntjie) en William se ouers geword het en dat almal van hulle, voor en tydens Katey se lyding, onbeskryflik seergekry het in kerke waar gevaarlik-skewe en verwaande veroordelingsteologieë met treffende liefdeloosheid gepreek word. Oom Sarel is daardie dag sprakeloos gelaat, maar hy is daar weg met ‘n papiertjie in sy sak en ‘n brandende begeerte in sy hart. Op die papiertjie was die naam WILLIAM met ‘n telefoonnommer en in sy hart was die begeerte om sy erfstukkitaar weg te gee aan ‘n waardige musikant.
‘n Paar jaar gelede moes Tim en sy geliefde Cherise hulle dertigste huweliksherdenking, onder kwarantyn, tuis vier, want eers het Cherise positief getoets vir COVID19 en 4 dae later het Tim se simptome ook begin. Dit was egter ‘n bedekte seën wat tot gevolg gehad het dat hulle, noodgedwonge, hulle supersoniese werkspas toepaslik moes aanpas. Beide het betreklik vinnig en heeltemal volledig herstel net mooi betyds vir ‘n welverdiende seevakansie saam met hulle 2 volwasse kinders. Die instelling van gereelde vakansies het reeds baie jare tevore begin vir Tim. Dis steeds vir hom ‘n bittersoet herinnering daaraan dat selfs toewyding onderhewig is aan balans. Bitter omdat goedbedoelende wanbalans hom al amper kosbaarhede van onskatbare waarde gekos het. Soet omdat hy, met elke vakansie, kans kry om dit wat vir hom die kosbaarste is, te koester en te geniet. Benewens al die geliefde lidmate en kollegas met wie hy ‘n pad stap, beywer Tim homself ook met passievolle oorgawe daartoe om te bou met mense buite sy eie kerkverband en maak hy gereeld vriende met ontvanklikes wat sy pad kruis, ongeag van taal, kultuur of lewensoriëntasie. Tim is geroep deur God en hy eerbiedig daardie roeping deur met die gesindheid van Jesus om te gee vir stukkende mense en hulle lief te hê in ‘n gebroke wêreld, want liefde is die EEN taal wat almal verstaan!






0 Comments