In die verte is net die buitelyne van ‘n jong vrou sigbaar in die skemerlig. Vanuit die ritmiese rukke van haar tenger lyf, blyk dit dat sy huil. Van nader bestaan daar geen twyfel dat sy, inderdaad, onbedaard en onbeskaamd huil nie. Sy voel asof haar hart uit haar borskas uitgeruk is en met ‘n voorhamer papgeslaan is en die bloederige vleis-pappery weer stuk vir stuk deur haar ribbes teruggedruk word. Die enigste man wat al ooit vir haar omgegee het en haar laat waardig voel het, is vroeër die middag wreed vermoor. Sy is so verskriklik alleen, hartverskeurend verlate.
Maggie was die oudste van drie dogters gebore vir ouers Hans en Anna. Om te sê dat Hans en Anna ‘n stormagtige verhouding gehad het, sou ‘n tragiese onderskatting wees. Hans was die storm en Anna die mishandelde boot. Hans was baas in sy huis en het, agter die skerms, sy uitsluitlik-vroulike huishouding met ‘n sadisties-onderdrukkende ystervuis regeer terwyl hy ‘n taamlik-geloofwaardige beeld van getroue kerkman aan die buitewêreld voorgehou het. Teen die tyd dat Maggie haar sewende verjaardag gevier het, was Hans se salarisinkomste net nie meer voldoende om te voorsien in die basiese behoeftes van sy gesin nie en die afstootlike krake aan sy vroom kerkmanbeeld kon net nie meer toegesmeer word nie. Anna was genoodsaak om voltyds te gaan werk en Maggie se weggooireis, soos Disney se stukkende Woody van Toy Story wat weggegooi is en aanhou val het deur swart, bodemlose asblikke, het amptelik afgeskop. Eers het Maggie en haar sussies verwerping beleef gedurende die uitgerekte tydperke wat hulle werkende ouers afwesig was, maar die verwerping het mettertyd ontaard in volslae verwaarlosing toe Hans sy reeds-twyfelagtige afwesigheid verder uitgebrei het met die perfekte hole in one van selfbevredigende narsisme en Anna in ‘n maalkolk van selfbejammering ingespring het.
Eers het ‘n aandaghonger Maggie onskuldige feëverhaaldagdrome gedroom oor selfs die geringste aandag vanaf onderwysers, maar soos wat haar oorweldigende behoefte aan aandag gegroei het, het haar aandagsoekende gedrag ook ontstellend vreemder geword. Soos die vreemdheid van haar gedrag toegeneem het, het ‘n oorvloed van aandag vanuit verskeie ongunstige oorde begin invloei en haar ingenooi in die donker wêreld van geheimsinnigheid in. Haar eerste aandag het gekom toe sy, in graad 2, alleen van die skool af na die nasorgsentrum moes loop en dit was van ‘n seun op ‘n fiets. Sy het dadelik onthou dat sy hom al raakgesien het oppad na die skoolsekretaresse se kantoor toe. Hy was in graad 7E, die domste klas, en die meneer het met hom geraas voor die hele klas. Aanvanklik het sy nie ag geslaan op sy uitroepe nie, maar toe hy sy fiets skielik reg voor haar briek en haar tot stilstand dwing, kon sy nie anders as om op te kyk nie. Hy het aangebied om haar te lift na die nasorgsentrum toe en hoewel sy die eerste drie aanbiedinge van die hand gewys het, het sy wel die vierde een aanvaar. Sy naam was Vincent en hy het sommer al die heel eerste keer per-ongeluk-aspris sy 13-jarige-hande hoog tussen haar 7-jarige bene gevryf toe hy haar op sy fiets gehelp het. Hy was die jongste lid van sy 17-jarige ouboet se bende van grootliks-toekomstige jeugmisdadigers en na afloop van ‘n blitskursus in die fyn kuns van lieg deur sy makkers, het hy Maggie een middag in hulle boomhuis-den ingenooi. Leuens het haar eerste besoek gou omskep in gereelde besoeke en vandaar het dreigemente (oor spot, skuld en skaamte) oorgeneem om haar, uiteindelik, die bende se besitting te maak. Klein Maggie moes leer om ‘n verskriklike seer, vuil geheim te hou, en teen die tyd dat Hans snuf in die neus begin kry het oor sy dogter en haar, met die fanfare van ‘n volksheld, uit die bose kloue van die bende kom red het, was dit reeds beduidend vuiler, maar nie meer so seer nie. Maar Hans was geen volksheld nie. Inteendeel, hy was ‘n skynheilige, lafhartige anti-held van boosstaande gehalte en hy het met uitstekende tydsberekening, sy siek meestersplan met verkullende akkuraatheid begin uitvoer. Hans was nie net reeds van skrikwekkend vroeg af bewus van sy dogtertjie se grooming-mishandeling deur die bende nie, maar hy het dit, in die geheim, noukeurig dopgehou vir tekens van rypwording.
Vanuit die kelderverdieping van die enigste gesinshuis wat Maggie ooit geken het, het die eerste man wat haar moes liefhê, koester en beskerm het, haar met sy woorde, vuiste en Y-chromosoom-anatomie omskep in ‘n high end prostituut. Maggie was nou haar pa se besitting en sy was, agter dik ondeurdringbare deure, uitgelewer aan die manne met die grootste aansien in die dorpsgemeenskap om onbeskryflik mishandel te word. Maggie se mishandeling het Hans ‘n baie ryk man gemaak. Dit sou so aanhou tot een middag in die laatsomer. Maggie (nou 16) het oudergewoonte van die skool af gekom en dadelik onraad gemerk toe sy die huis binnestap. Haar pa was in die eetkamer en het haar ingewag met ‘n pistool in die hand. Sy kon haar ma se lewelose liggaam in ‘n plas bloed op die kombuisvloer sien, maar haar aandag was by die besetene met die vuurwapen reg voor haar. Sy was versteen-bang. Hoewel sy nie mooi kon uitmaak wat hy geskreeu het nie, het sy onmiddellik die toestel in sy ander hand herken. Dit was háár positiewe swangerskaptoets, haar (onbeplande) ticket out, wat sy dan so noukeurig vermom en versigtig weggegooi het. Hoe het hy….maar sy het nooit kans gehad om daardie gedagte enduit te voer nie. Maggie sou eers dae later haar bewussyn herwin in ‘n hospitaalbed by die plaaslike hospitaal. Die polisieman met die KFC wat langs haar bed gesit en eet het toe sy wakkerword, het aan haar verduidelik dat haar ma en sussies beswyk het aan noodlottige skietwonde. Daar was net drie skote afgevuur, maar dit was genoeg om drie breins uit drie skedels uit te blaas en die lewens van drie mense met geweld te beëindig. Die manne van die blitspatrollie was net betyds om Hans te keer om die vierde koeël sekuur deur sy eie skedel te stuur. Wat het dan met haar gebeur? Sover sy vinnig kon vasstel, het sy geen skietwonde aan haar kop of enige plek aan haar lyf gehad nie. Sy onthou glad nie haar wilde terugvegpoging nie. Hans het die geweer op haar maag gemik en, net voordat hy die sneller kon trek, het Maggie laag afgebuig en hom soos ‘n wafferse rugbyvoorspeler stormgeloop en geduik met ‘n harde skouervasvat in sy lendene. Hans se wind was op verskeie plekke uitgeslaan en hy het die pistool laat val terwyl hy vir etlike minute effe katswink was. Hans se herstel was egter blitsvinnig en nog voor Maggie vêr genoeg kon weghardloop, het hy haar net voor die keldertrappe ingehaal en haar aan die nek gegryp en met mening begin wurg. Sy het daar al haar bewussyn verloor en toe Hans dit merk, het hy haar doodluiters by die trappe afgegooi. Hans was oortuig daarvan dat nie Maggie of haar bose baba die val sou oorleef nie. Hans was beide reg en verkeerd. Maggie het oorleef, maar haar 23-weke-oue-babaseuntjie-met-onbekende-pappa het nie sy oupa se moorddadige geweld oorleef nie. Die piepklein seuntjie is wel, ten spyte van die ernstige inwendige bloeding in sy ou lyfie asook sy bewustelose mamma, spontaan en lewend gebore en het vier en ‘n half minute geleef voordat hy, uiteindelik, heeltemal alleen en verlate aan asemnood beswyk het in ‘n koue kelder op ‘n harde sementvloer.
Hoewel Maggie betreklik vinnig herstel het van haar beserings en binne dae uit die hospitaal ontslaan is in die sorg van haar oom en tannie, was die belofte van ‘n veilige hawe by hulle in die herehuis in ‘n spoggerige kusdorp, maar bloot ‘n leuentaktiek aan die owerhede om volwaardige ouertoesig oor haar te kon verkry. Oom Sieg en tannie Frieda kon die owerhede maklik flous en op dieselfde dag wat die papierwerk afgehandel is, het oom Sieg saam met sy eie vriende en sy twee tienerseuns met hulle vriende ‘n privaatpartytjie gehou, agter slot en grendel, in sy massiewe marmervloerstudeerkamer. Drank, in alle vorme, het vrylik gevloei en peuselhappies was oral uitgestal, genoeg om die hongersnood van ‘n klein Afrikaland heeltemal te sou kon uitwis. Die gesogste item op die aand se spyskaart was egter nie op enige peuselhappiebord uitgestal nie. Nee, dit was die skrapsgekleede tienermeisie wat skielik aan die gasheer se sy verskyn het net toe die partytjie lekker begin raak. Sy was duidelik taamlik bedwelm, heel moontlik van die groot hoeveelhede sterk drank wat sy, teen haar sin, moes wegslaan en selfs die laaste stukkie teensinnigheid is vinnig, met wrede dreigemente, uitgewis. Al was Maggie se pa opgesluit en al was sy duisende kilometers weg van haar pa se kliënte af, het niks verander vir Maggie nie. Sy was steeds ‘n slaaf, ‘n seksslaaf, en hoewel die onlangse toesigtransaksie haar veiligheid moes verseker, het dit eintlik net verseker dat sy ‘n slaaf bly, net met ‘n nuwe eienaar. Maggie het haarself vir oulaas oorgegee aan die dronkaards wat haar lyf, soos wilde diere, bespring en verwoes het. Sy het haarself, deur die ontsaglike pyn deur, self gecoach om net te fokus daarop dat daar iewers ‘n einde sou kom en dat sy dan haar laaste krag sou gebruik om te ontsnap. Maggie het ontsnap daardie aand en sy het begin hardloop en aangehou hardloop totdat sy nie meer kon hardloop nie. Hierdie hardloopreis het jare lank aangehou en het verskeie shelters en kerkgemeenskappe ingesluit, maar Maggie kon nêrens berusting vind nie. Maggie was werkloos en vir alle praktiese redes, ongeskoold. Dit was vir haar onmoontlik om enigiemand te vertrou en sy kon doodeenvoudig nie ‘n finansiële bestaan maak uit aalmoese nie. Maggie het oor net een vaardigheid beskik, en hoewel die werk sielsversmorend was, was dit al wat sy gehad het. Maggie het opgehou hardloop toe sy die advertensie op ‘n asblik raakgesien en net daar het sy besluit om haar vaardigheid te deconstruct en daaruit vir haarself ‘n superpower te reconstruct. Maggie het Maxxy (Maggie, double X-rated), ‘n pornografiese superstêr, geword.
Teen die tyd dat Maxxy haar 28ste verjaardag gevier het, was sy loshande die hoogsbetaalde pornografiese aktrise in die stad, haar verlede was nou bloot ‘n vlietende gedagte en sy kon kies en keur in watter flieks sy sou speel. Sy was ‘n sexpert voor en agter die kamera, want sy het die kuns van alkoholverdowing vervolmaak sodat dit altyd gelyk het of sy in beheer was, selfs wanneer dit glad nie die geval was nie. Niemand kon ooit weet hoe leeg sy in haar binneste was nie, hoeveel sy eintlik na regte liefde smag nie of hoe naby haar siel aan morsdood was nie. Sy was ook beduidend kundig aangaande die presiese dwelmdosisse wat benodig word om elkeen van haar binnesere heeltemal te verdoof en dan weer diep te begrawe en sy het onbeperkte toegang tot elke middel gehad. Sy het ook reeds die perfekte doodskelkie noukeurig nagevors en was van plan om dit binnekort gereed te kry. Maxxy was heeltemal bewus van die grusame onomkeerbare aftakelingsproses wat reeds sterk aan die woed was binne-in haar brose liggaam en die doodskelkie sal aan haar, uiteindelik, die beheer oor haar eie lewe gee. Op ‘n koel Herfsdag terwyl Maxxy haar doodskelkie gereed kry, verskyn daar skielik ‘n boodskap op haar foon. Sy herken glad nie die nommer waarvan dit gestuur is nie, maar in plaas daarvan dat sy dit bloot uitvee, maak sy dit per ongeluk oop. Dis ‘n uitnodiging na ‘n oudisie en hoewel die eenvoudige samestelling geen grafiese kuns bevat nie en die reguit boodskap uit slegs die noodsaaklike woorde bestaan, lei dit Maxxy se gedagtes heeltemal weg van haar doodskelkie af. Al Maxxy se pogings om haar aandag van die boodskap af weg te lei, misluk en teen laatmiddag besluit sy om die nommer te bel om meer uit te vind. Maxxy praat met ‘n man wat haar oproep antwoord en nadat sy ‘n paar vrae gevra het, maak sy ‘n afspraak om hom die volgende oggend tienuur te ontmoet. Nadat sy die adres bevestig het, groet sy beleefd en die man aan die anderkant groet terug en dan maak hy ‘n stelling voor hy aflui sonder om te wag vir ‘n reaksie. Die onbekende man aan die anderkant sê: “Ek sien uit daarna om jou môre te sien, Maria.” Vir die res van die aand, kan Maxxy aan niks anders dink nie. Daar was iets heeltemal onverklaarbaar aan hierdie vreemde man met die sagte stem. Maxxy kon sy stem VOEL terwyl sy na hom geluister het. ‘n Mens HOOR mos iemand se stem, hoe op aarde is dit moontlik om ‘n stem te VOEL? Dit het haar binneste aangeraak sy het geen behoefte gevoel om haar beskermingsvelde op te skerp nie. Inteendeel, sy kon nie wag om hom te ontmoet die volgende dag nie. Teen vieruur die volgende oggend toe sy steeds nie aan die slaap kon raak nie, het sy opgestaan en oudergewoonte koffie gedrink terwyl sy YouTube probeer kyk het. Hoewel sy verbaas was dat sy so energiek gevoel het sonder om enigsins te slaap, kon sy glad nie konsentreer op YouTube nie en het sy dit maar afgeskakel. Wie is hierdie man? Watter tipe flieks maak hy? Maxxy kon glad nie die man se stem met haar spesifieke fliekgenre versoen nie. Daar was so baie vrae, maar die een wat die hardste in haar kop geskreeu het, was: “Hoekom het hy haar Maria genoem?” Was hy verward? Natuurlik was hy verward, want sy is dan Maxxy en lank terug was sy Maggie gewees. Die argument oortuig haar glad nie, want daar was iets doelgerigs aan die man se skynbare verwarring, hy het seker van homself geklink. Maxxy het reeds 09:00 by haar huis weggetrek en die 25 minute reis in 23 minute voltooi net sodat sy 37 minute voor die gebou kon sit en wag….
Toe sy die gebou teen tien voor tien binnegaan, word sy dadelik oorval met ‘n onbeskryflike vrede wat haar hele wese oorweldig. Op ‘n afstand kom ‘n man na haar toe aangestap. Sy het hom nog nooit voorheen ontmoet nie, maar op ‘n onverklaarbare manier herken sy hom. Nog voordat hy by haar kom en homself aan haar voorstel, wéét sy dadelik dat hy die man met die AANVOELBARE sagte stem is en nog voordat hy praat, hoor sy haarself hardop vra: “Hoekom het jy my Maria genoem?” Die man se glimlag is soos die warmste drukkie wat sy al ooit gevoel het en nog voor hy daardie glimlag kan opvolg met woorde in sy sagte stem, voel sy ‘n oorweldigende en onvoorwaardelike liefde wat haar hart en binneste omhels en gesondmaak. Sonder dat hy nog ‘n enkele woord gepraat het, het sy haarself oorgegee aan hom. Vir die heel eerste keer in haar hele lewe, het haar onteensinnige oorgawe aan ‘n man NIE gelei daartoe dat sy misbruik word nie. Sy kon die donkerdood voel wegsmelt gedurende die herlewing van haar siel en die skielike afwesigheid van ‘n leeftyd se diepliggende skaamte, het haar nuwe siel lig gemaak. Maxxy IS Maggie en Maggie se doopname is Maria Magdalena en sy het nie hiernatoe gekom om ‘n oudisie te doen vir ‘n fliek wat haar siel sou versmoor nie. Nee, sy is hier omdat hierdie man haar met sy liefde kom verlos het van slawerny en haar hele wese herstel het om sy geliefde Maria (nie creepy, inappropriate of seksueel nie) te wees. Dit het alles klaar in haar binneste gebeur nog voordat die man met sy sagte stem gepraat het. “Hello liefste Maria, ek is so bly dat jy hier is.” Trane het in sy oë geglinster en toe sy in sy omhelsing ingehardloop het, wou sy vir ewig daar bly. Maria se lewe het onherroeplik verander na daardie drukkie. Sy het nooit weer teruggegaan na haar lewe as Maxxy of selfs Maggie nie. Hy het haar liggaam, siel en gees heeltemal gesondgemaak. Hy het vir haar ‘n plek gemaak in sy eie familie en sy het vir die heel eerste keer regtig belong. Sy sou nooit ooit weer vuil Maggie, die prostituut, of Maxxy, die pornstar, wees nie.
Maria het skaars, deur haar trane deur, opgelet dat dit donker was buite net na drie in die middag of dat ‘n vreesaanjaende aardbewing die plek rondom haar wild geskud het. As dit nou van haar afgehang het, kon die wêreld gerus maar vergaan. Sy wou net wegkom van die gruwelike plek waar die man met die sagte stem ‘n rukkie gelede wreed vermink is voordat hy moorddadig tereggestel is. Sy was dáár. Sy het ALLES gesien. Haar verlosser was onskuldig, maar hy is uitgelewer aan ‘n bloeddorstige bende wat hom eers onbeskryflik laat ly het voordat hulle hom gewelddadig vermoor het. Skielik spring al die onsekerhede uit hulle wegkruipplekke uit in haar kop. Vandat die man met die sagte stem in haar lewe ingekom het, was sy oor niks onseker nie, maar nou is hy weg en sy voel asof sy van NIKS meer seker is nie. Net daar besluit sy dat sy na afloop van die gevreesde derde dag besoek aan sy graf, dadelik huistoe sal gaan en die doodskelkie, wat sy diep onder al die handdoeke in die linnekas gebêre het, gaan uithaal en drink.
“NEE, NEE, wat gaan hier aan, waar was die man met die sagte stem dan?” Maria kan haar oë nie glo nie. Die man met die sagte stem se liggaam was nie meer in sy graf nie en sy was heeltemal verslaan, daar was niks meer baklei oor in haar lyf nie. Sy het stil omgedraai en haar heel laaste stappie huistoe begin. Haar hart was in stukke gebreek en haar sig was erg belemmer deur die trane wat onbeskaamd uit haar oë oor haar wange gestroom het. Sy het nie eers die vreemdeling wat van vooraf reguit na haar toe aangestap gekom het, raakgesien nie. “Maria!” Dis asof sy uit ‘n beswyming uitgeruk word. Sy ken daardie sagte stem, daar is GEEN twyfel nie! Die man met die sagte stem, haar verlosser LEEF! Hy was dood en hy leef weer!
Hierdie storie is slegs ‘n vermoderniseerde storie gebasseer op ware geskiedkundige feite. Jesus Christus, Seun van God, het ‘n suiwer (nie creepy of inappropriate), egte, diep verhouding gehad met Maria Magdalena, Hy was innig lief vir haar en Hy het haar waardig genoeg geag om na Sy opstanding eerste aan haar te verskyn. Vir Hom was sy Maria, geliefde familielid. Hoekom word sy, in ons tyd, steeds na verwys as Maria Magdalena die prostituut? Miskien is dit omdat ons nog nie regtig na die Man met die sagte stem geluister of lank genoeg by Sy kruis deurgebring het nie!






O, Lulu… dankie hiervoor. Want ons lees bo-oor die waarheid van Maria Magdalena se ou lewe. En die genade van die Man met die sagte stem.
Dankie Maretha.