MY PLEK IS GEDEK

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Die titel van Charles James se Sondagoggendpreek op 28 Januarie 2024 was ONTDEK JOU PLEK. Hy het verwys na ‘n spesifieke tipe plank genaamd ‘n juk, en meer spesifiek, die sagte een wat elke gelowige met Jesus saamspan. Hierdie plek onder die juk saam met Jesus, is die eerste plek waar elke gelowige behoort. Die tweede plek waarna Charles verwys het, is die plek waar elke gelowige hom/haarself binne ‘n geloofsfamilie bevind. Daardie plek, in die gemeente, waar hy/sy kan dien en bedien, elkeen met unieke gawes.

 

Charles het melding gemaak van ‘n aanhaling deur aartsbiskop Justin Welby aangaande die werking van die kerk. Die aanhaling was in Engels en ek het dit, met ‘n bietjie verwerking, in Afrikaans vertaal:

Die ware werking van kerk is die verstommendste en verstand-verbysterendste gebeurtenis op aarde. Dit het tot gevolg die buitengewoon-ongelooflikste, pragtigste gemeenskap van egte mense wat mekaar waarlik liefhet. Dis hier, in hierdie liefde, waar mense werklik gesond kan word. Dit verander hulle harte en mense met veranderde harte verander ook die gemeenskappe waarin hulle is.

 

Ek het die voorreg gehad om die afgelope drie weke vakansie te hou in ‘n vyfdevloervakansiewoonstel op die hoofstrand in Ballito aan die KwaZulu Natalse Noordkus. Ek het myself doelbewus vasgegom aan die Indiese Oseaan, want die see is my happy place, dit maak my rustig en voed my siel op ‘n manier wat berge en bos nie regtig kan nie. Ek was nie gelukkig genoeg om dolfyne of walvisse hierdie keer te sien nie, want ek vermoed dat die onooglike rioolafval wat deur stukkende afvoerpype (weens vernietigende donderstorms) in die see in gestoot is en ‘n groot deel van die seewater vuilbruin gemaak het, verantwoordelik is daarvoor. Ek swem nie in vuil water nie en ek reken dat dolfyne en walvisse, ook soos ek, verkies om nie in vuilbruin seewater te swem nie. Maar selfs met die sigbare vuilbruinstrook, bekoor die see my steeds, maak dit my steeds rustig en voed dit steeds my siel. Die see het nie juis ‘n keuse oor wat daarin gevoer word nie, maar dit hou nie op om die see te wees nie. Die golwe breek steeds asemrowend voort en spoel as branders op die strand uit. Die getye kom in en gaan uit en die seestrome sleur die vuilbruin mee sodat die vuil uiteindelik weer skoon raak. Die see lewe en die versteurde balans word herstel.

 

Ek is wel hierdie keer meegevoer deur ‘n spesifieke groepie mense. Die manne en vroue met die lang, gevormde planke wat diep in die see inswem om groot golwe by hulle oorsprong in te wag, te tem en dan in te span om uiteindelik bo-op die planke daarmee uit te ry tot op die strand. Die surfers. Hulle kan nie branderplankryers genoem word nie, want teen die tyd dat hierdie dapper seetemmers hulleself in die branders bevind, is die aksie reeds lankal verby. Hulle ry nie branders nie, hulle ry golwe en behoort eerder golfjokkies genoem te word. Soos daardie klein mensies (onder 55kg) wat op groot perde resies jaag. “Dude, jy het die verkeerde een gevang, jy moes gewag het vir die volgende een, dis soveel groter!” OF “Dude, daai een was awesome, hoekom het jy dit gemis?” Verskeie dom stellings en dom vrae het by my opgekom terwyl ek van die vyfde vloer af dophou. Ek kyk van bo af. Ek kyk van buite af. Ek is NIE daar binne-in die surf nie. Wat op aarde kwalifiseer my dan nou om die dudes daaronder raad te gee, te oordeel of te begelei? Hoegenaamd niks nie. Ek is NIE ‘n golfjokkie nie en ek is geensins bevoegd om myself oor enige aspek van golfplankruiterskap uit te spreek nie. Ek bewonder die golfjokkies, hulle verdien my respek, hulle verdien almal se respek.

 

As ek vir ‘n oomblik my vrese (vir rowwe see, haaie, ens.), my onvermoeëns/onbevoegdhede (om te swem, om op ‘n plank te balanseer, ens.) en my vooroordele buite rekening laat, kan ek dalk oorweeg net hoe powerfully awesome dit moet wees om ‘n golf te ry deur reuse helderblink barrel rolls deur. Miskien kan ek myself verbeel dat ek, met noukeurige tydsberekening, meegevoer kan word in ‘n bo-menslik-verruklike Skepperontwerpte kragvertoning terwyl ek op ‘n plank deur die water gly en met my vinger ‘n strepie trek op die binnekant van ‘n glashelder golf. Natuurlik met verkeerde tydsberekening, kan dieselfde glashelder golf se brekende brander die swaartekrag-ontwykende golfgly-aksie verander in ‘n skouspelagtige kop-onderstebo plettervat.

 

Ek kan identifiseer met die see. Met my aankoms hier in Ballito, het ek ook gevoel soos hierdie see met ‘n vuilbruinstrook. Iewers in my eie binnewerke het daar ook ‘n belangrike pyp gebreek wat ongunstighede in my see ingestoot het en die water bruin gemaak het. Soos hier in KZN, moes sekere van die swemstrande aan my kuslyn ook aanvanklik tydelik gesluit word. Mettertyd het sterk seestrome weer balans herstel en nou lyk alles weer mooi skoon. Ek vermoed dat almal van ons met die see kan identifiseer en selfs dat ons saam, as geloofsfamilie of kerk, met die see kan identifiseer. Wanbalans is onvermybaar, maar terwyl daar lewe is, sal balans uiteindelik weer herstel word.

 

Laat my toe om vir ‘n oomblik die appelkar om te gooi en sommer ook ‘n klip innie bos te gooi. Justin Welby het nie van balans in die kerk gepraat nie. Nee, hy het probeer om ‘n stukkie hemel-op-aarde te beskryf. Iets wat eintlik onbeskryflik is. Iets wat nie regtig definieerbaar is nie. Iets waarna ek vir die grootste gedeelte van my meer-as-halfeeu-leeftyd na gesoek het en uiteindelik gevind het. Ek het belonging gevind in ‘n kerk/geloofsfamilie waar ek op my gaweplank AL die bedieningsgolwe in die diepwaters kan inwag en met perfekte Goddellike tydsberekening die glashelder golwe van diensbaarheid kan ry terwyl ek, met toegewyde ondersteuning, reis op ‘n pad tussen STUKKEND en GESOND. Hierdie lewegewende verandering in my eie lewe, het begin met suiwer, onvervalste en onvoorwaardelike liefde. Dis daarom dat ek Justin se woorde effens verander het. Liefde kom altyd eerste.

 

Ek is tog so bly dat ons Pellissier Gemeente diep innie binneland is, want eintlik kan ek nie swem nie, dobber ek soos ‘n kurkprop kop-en-skouers bo die water uit en is my balansvermoë uiters bedenklik. Maar ek het my hand opgesteek vir die Pellissier golfryspan en my plek is in daardie span gedek. Ek is ‘n Bloemfonteinse surfer dude. Niemand van ons is gevrywaar daarvan om ondersto geslaan te word deur branderplettervatte nie, maar saam-saam hanteer ons die beserings, herstel ons die toerusting en wag ons in die diepwater sodat al die bedieningsgolwe gery kan word. Hoe lyk dit, wil jy nie ook by ons aansluit nie?

 

”maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.“

‭‭Efesiërs‬ ‭4‬:‭15‬-‭16‬ ‭AFR20‬‬

 

”maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;“

‭‭Filippense‬ ‭2‬:‭2‬-‭3‬ ‭AFR20‬‬

 

”Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde ‘n menigte sondes bedek”.“

‭‭1 Petrus‬ ‭4‬:‭8‬ ‭AFR20‬‬

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    En dit, Lulu, is die eerste Christelike gemeente in eietydse idioom. Ek wonder watter geloofsgemeenskap se andersheid die ”maklikste” was: om pas ná die sigbare, aardskuddende, onvergeetlike uitstorting van die Heilige Gees as een van hart en sin saam te kom en aardse besittings te verkoop om ander te kan help, of om nou, met soveel onreinheid wat in die see instroom, van mekaar [en almal is gekneus, everybody is fighting a hard battle] golfjoggies te help maak? ”Golfjoggies is ‘n wonderlike nuutskepping! Ons WEET van die uitstorting van die Heilige Gees. Ons beleef sy werking in ons gees, siel en gewete. Maar daardie groot gebeurtenis het 2000 jaar gelede plaasgevind, en miljoene stemme probeer ons oortuig dat dit alles maar net soos die Griekse of Egiptiese mitologie is. Of dat godsdiens, veral die Christelike geloof, ‘n kalmeringsdrankie is, ‘n night cap in ‘n onhanteerbare wêreld. Dalk is die wonderbare ”andersheid” van ‘n lewende Christelike gemeente juis so wonderbaar omdat die wêreld so boos en daardie Pinksterdag so ver, ver in die verlede lê. Dankie vir nog ‘n onvergeetlike stuk skryfwerk.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post