HOOR DIE HARTKLOP VAN HIERWEES

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Hier in Pellissier Gemeente is ons tans in die tweede week (van vier) van ons gemeente-tema getiteld HIER IS EK. Francois Lamprecht het ons Sondagoggend, 4 Februarie 2024, herinner daaraan dat ons meer as 7,700 lidmate het wat ingeskryf is by ons gemeente. Dis loshande die heel grootste gemeente waarby ek al ooit by betrokke was en dit maak my sommer uitspattig opgewonde, want ons het ‘n geloofsfamilie van ten minste seweduisend siele sterk. Dit is meer as seweduisend harte wat ongeveer 72 keer klop elke minuut van elke dag – dis meer as sewehonderd-vyf-en-twintig-miljoen HARTKLOPPE elke dag!

 

Hoewel ons ‘n mate van beheer het oor die tempo waarteen ons harte klop, is HARTKLOP wesenlik ‘n heeltemal-onwillekeurige gebeurtenis. Die teenwoordigheid van ‘n HARTKLOP (polsslag) by iemand is ‘n aanduiding dat suurstofryke bloed na elke deel van sy/haar liggaam gepomp word om LEWE te onderhou. Daarteenoor is die afwesigheid van ‘n HARTKLOP (polsslag) ‘n aanduiding dat LEWE tot ‘n einde gekom het en, dus, nie meer bestaan nie.

 

In ons geliefde Pellissier Gemeente het ons dus gesamentlik ongeveer ‘n driekwart-miljard herinneringe aan LEWE elke liewe dag. Beide LEWE en HARTKLOP, as herinnering aan LEWE, is geskenke van God aan elkeen van ons en ons het nie ‘n keuse oor die bestaan daarvan nie. Hoe ons te werk gaan met hierdie LEWE en HARTKLOP, is egter wel ons keuse. Ons kan kies om ons te beywer daartoe om ons harte in te span om die God van LEWE te ken en te volg of nie. Francois het ons ook herinner dat elke Pellissier lidmaat unieke gawes ontvang het en geroep is om aan te meld met bereidwilligheid om daardie gawes aan te wend tot die opbou van ons hele gemeente.

 

Op ‘n persoonlike noot is dit vir my ‘n onbeskryflike voorreg om deel van hierdie gemeente te wees met leraars wat ‘n bedieningsleuse van JY NOEM DIT, JY DOEN DIT onderskryf en wie, in nederigheid, doelbewus ruimte skep vir bedieninge (hoe anders of vreemd dit ookal vir hulle mag klink) waartoe God gewillige lidmate roep. Met sommige van die voorstelle wat ek al aan hulle geNOEM het, bestaan daar weinig twyfel by my dat hulle beslis al hulle ruimte-skep-besluit verskeie kere in twyfel getrek het nie! Maar hulle het dit nog nooit gedoen nie en met elke tree in my saamstap met hulle, word die syncing van ons harte beduidend duideliker. Ek hoor hulle HARTKLOP en hulle hoor myne.

 

Ek het begin deur te sê dat ek uitspattig opgewonde is en ek wil graag afsluit met ‘n samevattende vraag en ‘n uitnodiging aan jou om daadwerklik jou betrokkenheid by ons gemeente ‘n deurslaggewende prioriteit te maak. Ek nooi jou uit om, as jy nog nie het nie, te kom opdaag saam met ons. Bring jou Godgegewe unieke menswees en leef jou roeping hier saam met ons uit! Oorweeg vir ‘n oomblik die effek daarvan as meer as 7,000 harte gesync word in eenheid. Hoe anders sal ‘n dag lyk wanneer ‘n driekwart-miljard HARTKLOPPE in sync en met ontsag vir God klop? Ek wil dit waag om te sê dat ons dit nog nie eers kan picture nie. Bring it on!

 

 

”Ek sal aan hulle harte gee om My te ken, dat Ek die Here is. Hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees; want hulle sal na My terugkeer met hulle hele hart.“

‭‭Jeremia‬ ‭24‬:‭7‬ ‭AFR20‬‬

 

”Ek sal aan hulle eensgesinde harte gee en een pad, sodat hulle altyd vir My ontsag sal hê, tot hulle eie beswil en dié van hulle kinders ná hulle.“

‭‭Jeremia‬ ‭32‬:‭39‬ ‭AFR20‬‬

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Baie, baie dankie, Lulu! DIE HARTKLOP VAN HIERWEES is ‘n enorme tema. My laptop se longe hang buite sy hart [gewone nuwe rekenaars het mos nie meer ingeboude kaartlesers vir SD kaarte uit jou kamera, DVD laaitjies vir totaal verouderde DVD’s en sulke dinge nie.] Nou sit die hart in die laptop en as mens nie die longe inprop nie, sien jy nie jou foto’s en hoor jy nie meer jou musiek nie. O, vir ‘n eenheid van hart en brein, asem en visie, nie net in laptops nie, maar juis in die KERK as liggaam van Christus, met Hom as die Hoof daarvan! HERE, laat hierdie skrywes asseblief bydra tot diepe nadenke oor ‘n lewe met of sonder hart vir U en ons naaste. Maak meer gemeentes EEN liggaam, een lieflike gemeenskap, een van hart en sin tot u eer. En laat ons dit juis in hierdie tyd wees. Om u Naam ontwil, amen.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post