Almal wat al enige operasie of prosedure ondergaan het, weet dat ‘n operasieteater ‘n koue, kliniese en kiemvrye plek is. Die verlies aan alles wat ‘n mens veilig laat voel, is genoeg om selfs die selfversekerste pasiënt te ontsenu. Maar wat gebeur wanneer die bloed in die are van die warmbloedige mense (teaterpersoneel) net so koud is soos die vlekvrye staal? Dis dan wanneer nie net liggame gesny word nie, maar die gevaar bestaan dat ook waardigheid geslag word. Voor narkose is alle pasiënte weerloos en blootgestel en, afhangende van die indringende aard van die operasie of prosedure, word moontlik ook hulle diepste-skaam-verborge-naaktheid ontbloot in die proses. Dit kan onbeskryflike trauma veroorsaak en komplekse emosie ontsluit, veral vir brose, voorheen-getraumatiseerde persone. Trauma van die verlede smelt onwillekeurig saam met nuwe angs en vrees om saamgestelde trauma te vorm. Die verlede en die hede word onlosmaaklik van mekaar en die pasiënt se onderskeidingsvermoë word onbetroubaar. Die verlies aan onderskeidingsvermoë veroorsaak dat die pasiënt uiteindelik niemand kan vertrou nie, nie eers hom-/haarself nie. Vanuit beduidend-omvattende persoonlike ervaring oor verskeie dekades heen met dokters wat of myself of lede van my familie behandel het, spyt dit my om te sê dat werklik toegewyde dokters wat absoluut uitverkoop is aan die welstand van hulle pasiënte, slegs ‘n klein minderheid uitgemaak het. Hierdie is die dokters wat hulleself beywer om hulle pasiënte se angs en vrese aan te spreek en sodoende hulle vertroue te wen. Ongelukkig was die oorgrote meerderheid van ons behandelende dokters die wat eerder hulle pasiënte se angs en vrese aangeblaas het. Dit was amper asof hulle doelbewus katalisators van saamgestelde trauma was en dan teruggestaan het totdat die uiteindelike stilte van hulle onseker pasiënte maklik uitgebuit kon word. Ek glo dat dit tyd is om die stilte van hierdie onsekerheid te verbreek.
Ek moes onlangs vir die tweede keer in twee jaar ‘n sistoskopie ondergaan. Dis wanneer ‘n uroloog, met behulp van ‘n kamera aan die voorpunt van ‘n indringerige toestel, onnatuurlike toegang afdwing en verkry deur ‘n opening in die pasiënt se geslagsdeel om sodoende die urienweg te ondersoek. Twee jaar gelede het ek ingestem tot hierdie prosedure op voorwaarde dat die uroloog op daardie stadium die oorsaak van my herhaalde blaasontstekings asook die oorsprong van die bloed in my uriene sal opspoor. Ons het ‘n ooreenkoms gehad en hy het dit verbreek toe hy, na afloop van die prosedure, bloot aankondig dat daar niks fout is nie en dat ek nie kanker het nie. Ek het my angs en vrese opskrif gestel vir hom en nie net het hy dit ontslaan nie, maar hy het my opsetlik mislei deur voor te gee dat hy ons ooreenkoms sal eerbiedig en dan my uiteindelik te verraai deur te versuim om dit te doen. Daardie verraad het nie net saamgestelde trauma vir my veroorsaak nie, maar die steeds voortslepende toenemend-kommerwekkende simptome van my urienstelsel waarmee niks fout is nie dui vanselfsprekend op die onverskillige verwaandheid van ‘n uroloog uit die meerderheidsgroep. Die tweede keer kon ek egter ‘n hoogs-ervare, deernisvolle uroloog volkome vertrou met my angs en vrese. Hy het sy woord gestand gedoen en na afloop van toegewyde noukeurigheid, kon hy ‘n diagnose maak. Ek wil graag die volgende rig aan al die dokters en gesondheidspersoneel wat in die bogenoemde meerderheidsgroep val en betrokke is by operasies en prosedures waar pasiënte ontbloot moet word onder narkose: Liewe Dokter en/of Gesondheidswerker, laat my toe om jou vandag te herinner daaraan dat, ongeag van hoeveel geslagsdele jy al in jou loopbaan gesien het, elke keer wanneer jy ‘n mens ontbloot of teenwoordig is waar ‘n mens ontbloot word, jy op heilige grond verkeer. In die tuin van Eden al het God skaamte toegeken aan elke mens. Jou kortstondige oorskryding hiervan is ‘n spesiale vergunning onderhewig daaraan dat jy jou Godgegewe talent en gawes gebruik om te help terwyl jy elke mens se waardigheid handhaaf.
Hierdie vertelling van my eie persoonlike ervaring is rou, eg en deursigtig, maar ek glo dat deurdat ek die stilte verbreek hiermee, dit hopelik bevryding kan bring vir ander mense wat ook met onaangespreekte teater- of hospitaaltrauma rondloop.
Op ‘n hospitaalbed-op-wiele lê ek onder ‘n laken en ‘n enkelduvet-oortreksel. Die getroue gebede van my geliefde mede-lewensreisigers en ander geliefdes is die gom wat my nou bymekaar hou. Hulle liefde en wysheid vou my toe in ‘n veilige kokon vanwaar ek, teen my eie diepste menswees, die violation override switch kon flick en waar hulle geloof en sterkte my nou kon dra deur dit wat vir my voorlê. Ek het self ook (maar angstig) gebid en diep binne my gewens dat ek selfs net ‘n Jesus-Veronica oomblik (verwys na ‘n toneel uit The Chosen waar Jesus die vrou met die bloedvloeisiekte genees het) sou kon beleef tydens narkose. Ek het net ‘n hospitaaljurkie en ‘n reuse blou, deurskynende teesakkie-met-drie-omsoomde-rekgate aan. Die hospitaaljurkie is heeltemal oop aan die agterkant en is net onder my ingevou. Die teesakkie is veronderstel om ‘n broekie te wees, maar dis eintlik net ‘n misleidende dom-slim poging om ‘n weerlose pasiënt ‘n valse gevoel van veiligheid te gee. My hospitaalbed is nie in die saal waar ek oorspronklik daarin geklim het nie. Nee, dis voor die hysbakskag in die gang waar daar onbeperkte toegang is aan voetverkeer opgemaak uit ander hospitaalpersoneel en publieke besoekers. Saam met ‘n saalverpleegster en ‘n portier, wag ons op ‘n hysbak om my na die teater toe te neem. Die teater waar die hospitaaljurkie onder my uitgetrek en oopgegooi gaan word om my volle naaktheid te ontbloot aan al die teenwoordige teaterpersoneel. Die teater waar die teesakkie losgeskeur gaan word en dan net op die bed langs my gaan saam terugry saal toe as ‘n spottende herinnering aan wat gebeur het terwyl ek geslaap het. Dit neem veel langer as beplan aangesien een van die twee hysbakke buite werking is. ‘n Man loop verby wat my onmiddelllik ysige rillings teen my ruggraat af gee. Hy kyk direk na my en toe ons oë ontmoet, is daar skielik geen twyfel meer oor sy identiteit nie. Die kyk blyk vir my hoogmoedig-neerhalend te wees en vir ‘n vlietende oomblik is daar ‘n boodskap in die subtiel-veragtelike grynslag op sy bakkies. Dit voel vir my asof dit iets sê soos O dis jy, ek onthou jou, ek onthou ALLES van jou! Dis die 2022 bliksem wie se onbevoegdheid veroorsaak het dat ek weer vandag dieselfde prosedure moet ondergaan asook sy dom-astrante selfversekerdheid oor daardie einste onbevoegdheid wat my steeds night terrors gee. Die een wat gekyk het na ALLES en NIKS gesien het nie! Die paashaas in my geliefde Assie se terme, die aap in my vriend, Charles, se terme en die choice-grade-messed-up-super-quack in my eie mooiste poging. Skielik kruip al die vrees-spoke uit hulle gate uit in my kop. Die meeste van hulle was so mooi toegemessel met gebede en ondersteuning, maar hierdie een nagmerrie-word-werklikheid ontmoeting laat die pollyfilla-sement wegsmelt soos mis voor die son.
Ek kom by die teaterwagkamer aan met ‘n blootgestelde gevoel van onveiligheid en wild-groeiende angs. Almal doen net hulle werk. Vorms word ingevul en inligting bevestig. Teen die tyd dat ek by die teater ingestoot word, is my angs reeds innie rooi. Ek word aangesê om myself van my bed af tot op die harde pateties-klein slagterstafeltjie te skuif. Ek probeer hard om my waardigheid so goed moontlik toe te hou, maar niemand gee om om my daarmee te help nie. Op 76kg is ek ‘n obese petite vrou en ek wonder stil-stil hoe groter, swaarder mense op hierdie centre stage balanseerbalk moet pas. Ek moet net vinnig skuif sodat hulle die bed kan wegry en aangaan met hulle worsmasjien-dagtaak. Skuif op, mevrou. Ek is net ‘n genommerde stuk vleis wat bewerk moet word. Skuif nog meer op, mevrou. Niemand vra of ek okay is nie en ek besef dat niemand omgee of ek is of nie. Ek sien my uroloog ‘n entjie verder weg, maar hy is gewikkel in ‘n ernstige telefoongesprek. Hy is die enigste persoon in die koue angsgat wie ek ken en hoewel ek hom minder as 24 uur tevore ontmoet het, het hy genoeg gerusstelling openbaar aan my om hom die kans te gee om my te help. Ek wens dat hy net weer daardie gerusstelling kon bevestig, maar die worsmasjien-mense is haastig en ons kry nie kans om te kommunikeer nie. Die narkotiseur vat my linkerarm ferm vas en toe hy oplet dat ek soos ‘n styfgespande snaar angstig is, toe gebruik hy meer geweld om my arm plat te kry en vas te maak sodat hy die nodige are kan vind om die narkose in in te spuit. Raak nou rustig, mevrou, anders kan ek nie hierdie ding in jou arm inkry nie! In sy ongeërgheid, kry hy sommer vinnig ‘n kleinerige aar en prik dit suksesvol. Ek voel effe soos ‘n prooi wat deur ‘n leeu platgetrek is en ek besluit dat enige verset hier bloot dwaas sal wees. Niemand sien die trane in my oë raak nie. Niemand weet wat ek moes oorkom om vandag weer hier te lê nie. Niemand sien met watter sielswroeging ek die violation override switch geflick het nie. Niemand weet dat ek myself moes verraai daarvoor nie. Die narkotiseur spuit die narkose in en ek besluit om oor te gee aan die oorweldigende wolk van gelukkige verdwyning. Net voor ek oorgee, let ek die tyd op die muurhorlosie op. Dis net voor 12:00. Ek word wakker in die gang net buite die herstelkamer. Ek is in my eie bed en die horlosie teen die muur lees 12:30. Daar is net een portier wat langs my bed staan en wag vir iemand anders om hom te help om my terug te stoot saal toe. My opgeboude angs bereik breekpunt en die damwal van trane verkrummel. Ek huil onbeheersd, onbeskaamd. Niemand slaan ag nie. Die portier weet nie wat om te doen nie en probeer troos. Ons gaan nou terug saal toe. Ek het soveel pyn dat ek nie weet hoe om te lê nie. Dis so onbeskryflik seer en ek voel so onbeskryflik verlate. Waar is die narkotiseur? Ek soek nog narkose. Sommer baie. Ek kry nie nog narkose nie. Ek het nie vir Jesus in my narkose-slaap gesien nie. Ek is nie Veronica van The Chosen nie. Ek identifiseer weer met die gevoel van ‘n prooi en dan onthou ek dat selfs Mufasa in The Lion King doodgetrap word. Dis die circle of life.
Ek word uiteindelik teruggestoot saal toe en my geliefde Assie, my amazing IronMan, wag daar en hy is bly om my weer te sien. Die verlatenheid begin verdwyn, maar die pyn raak wraaksugtig erger. Die verpleegpersoneel dien die eerste pynmeds toe deur die narkotiseur se ou pieperige aartjie, maar dit kon net sowel water gewees het. Die pyn woed kragdadig voort. Die tweede sarsie meds moet deur ‘n nuwe IV gegee word en ek vra by voorbaat vir die kundigste aarprikker en NIE ‘n weefselmyner nie. Die kampioen-aarprikker in die departement kom sit langs my en trek die nuwe IV-toerustingstrollie nader. Eers word die rek om my bo-arm styfgebind in ‘n poging om die are op my onderarm te laat uitstaan. Nadat dit vasgeklik is, voel die skielike jeugdig-kragdadige ruk van die rek asof my arm afgeruk word. Dit maak onmiddellik die pitbull binne-in my wakker. What the hell is wrong with you, you cannot yank it that violently, you’ll rip my arm clean off! Die jong aarprikker staar grootoog na die pynverblinde tannie met die veglus van ‘n gespierde pitbull. I have fibromyalgia and what you just did caused excruciating pain, arguably equal to that of actually ripping a limb off! Also, where the hell is your compassion performing this task? I have “notoriously bad” veins, but I don’t see you heating up a bean bag to place on my arm so that the heat could draw out veins. They do that in the chemo room at the private hospital in the southern suburbs and they have profound success with it. It is simple technology, an act of kindness and it works! Are you just ignorant towards those of us with “bad” veins who do not suffer from cancer or do we not deserve simple kindness? Gelukkig is die jong aarprikker suksesvol en ‘n aar in my hand word geprik. Nog ‘n rondte pynmeds is toegevoeg, die keer sterker en saam met ietsie om naarheid te keer waarvoor ek nie allergies is nie. Dit maak my groggy & cranky, maar die pyn woed steeds sterker voort en het intussen ook verder gesprei. Assie weet nie wat om met my te doen nie en ek weet nie watter kant toe met die pyn nie. Ek wil piepie, maar ek mag nie opstaan nie. Hulle bring ‘n bedpan en toe ek uiteindelik die regte dele van my groot, swaar lyf oor die pan gebalanseer kon kry, toe wil my blaas niks uitlaat nie. Die vervlakste ding skreeu van urgency-pyn, maar doen niks nie en daai pyn raak ook net erger. Ek sien die stukkend-geskeurde blou teesakkie langs my innie bed en die pitbull vrek net daar. Ek huil. Ek huil, want dis seer. Ek huil, want ek weet nie wat in die teater gebeur het nie. Ek huil, want ek weet nie of dit net weer dieselfde as laaskeer gaan wees dat daar NIKS fout is nie. Ek huil, want ek is geviolate. Ek huil, want ek het toestemming gegee dat dit gebeur. Uiteindelik, ure later, kom my uroloog besoek aflê. Mev van Aswegen, daar is definitief NIE NIKS fout my jou blaas nie. Ek kan my vermoede bevestig en jou diagnoseer met Interstitial Cystitis. Ek moes jou blaaspypie en nierpypies rek/vergroot, dit was erg vernou. Die proses was uiters pynlik en ek moes ophou toe jou polsslag gevaarlik hoog geraak het. Ek moes jou blaas vol- en leegmaak en ook rek. Die binnekant is vol gate en bloeiende sere. Jy ly aan ‘n onomkeerbare chroniese inflammatoriese toestand waarvoor die beperkte behandeling ongewaarborg is. Die hoop met behandeling is om te poog om gedeeltelike herstel van die gate en sere teweeg te bring, maar die pad na daardie stukkie beterword gaan lank wees, jy moet geduldig wees. Daarna skryf hy TarginAct (S6 opioid painkillers) voor en omtrent 20 minute nadat ek twee daarvan wegsluk, voel ek hoe die pyn begin bedaar en ek in ‘n welkome beswyming ingaan. Ek verwelkom dit en geniet elke oomblik van slaap. Die volgende dag skip ek ook sommer Concerta om die volheid van beswymingspynverligting aan te gryp. Dit werk en vir twee dae lank slaap ek vir die eerste span.
In daardie teater het ek uiteindelik, na ‘n dekades-lange pynlike stryd, ‘n diagnose gekry. Maar saam met hierdie diagnose, het ek ook weer bewus geword van die ekstra ton trauma wat oorgebly het van die verlede. Ek is NIE nou okay nie en dit IS okay. Maar ek gaan weer okay wees.






0 Comments