MENSE(REG)TEDAG?

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Vandag is ‘n openbare vakansiedag toegewy aan menseREGte. MenseREGtedag. Sovêr ek met ‘n vinnige naslaan kon bepaal, dateer ons Suid-Afrikaanse weergawe van hierdie viering terug na ‘n verskriklike onREG wat op hierdie dag in 1960 plaasgevind het. In ons demokraties-hersiende grondWET is daar nou ‘n handves van menseREGte vervat wat bepaal dat ALLE Suid-Afrikaanse landsburgers die REG het tot gelykheid, waardigheid, toeganklikheid, taal en lewe.

 

Die WOORDE in bogenoemde handves van menseREGte getuig van ‘n suiwer bedoeling en die nodigheid van verdienstelike verteenwoordiging daarvan in ons land se grondWET, is onbetwisbaar noodsaaklik. Die handhawing van ALLE menseREGte is, wesenlik, ‘n edel, opbouende en goeie ding. Is dit werklik uitvoerbaar? Stem die waarneembare uitvoerDADE in die wêreld waarin ons leef ooreen met die mooi WOORDE in ons grondWET? Terwyl ek besin het oor wat ek vandag wil skryf aan die hand van hierdie twee vrae en ooreenkomstige kwessies, het twee gedagtes by my opgekom. Die eerste was ‘n Amerikaanse Super Bowl advertensie van 2000 (gaan kyk gerus by https://youtu.be/m_MaJDK3VNE?si=MLq7JKDjs0Riok9k) en die ander was ‘n toneel uit The Big Bang Theory.

 

Die Super Bowl advertensie is ‘n uiters vermaaklike sestig sekondes waarin veeboere op perde (cowboys) katte aanjaag, begelei en versamel. Daar is deurlopende onderhoude met deurwinterde veeboere (cowboys) wat opsigtelik-veelvuldige skrape en letsels aan hulle gesigte het. Hulle verklaar, met oortuiging, dat om kat-herders te wees nie in almal se broek sit nie, maar dat dit die vervullendste beroep is wat reeds geslagte lank voortbestaan. Die advertensie was eintlik van ‘n IT maatskappy wat prysenswaardig goed daarin geslaag het om kykers te oortuig dat hulle instaat is daartoe om die onmoontlike te vermag in hulle dienslewering. Katte is sekerlik aan die toppunt van afgestomp-onverskillig-onbetrokke-traak-my-nie-agtigste diere, hulle is glad nie tropdiere soos beeste of skape nie en daarom was die uitbeelding van hierdie onmoontlike situasie so beduidend vermaaklik.

 

Die toneel uit The Big Bang Theory is waar Sheldon vir Mev Wolowitz vergesel om te gaan klere koop en speel af waar Sheldon eers buite die aantrekkamer wag en dan ingeroep word om te help. Beeldmateriaal vertoon geensins wat binne aangaan nie, maar die beskrywende dialoog skets die nodige deeglikheid aan die gebeure. Hoewel kykers nooit vir Mev Wolowitz sien nie, verskaf genoegsame leidrade vanuit verskeie episodes in die reeks, ‘n prentjie van ‘n groot, swaar vrou wat aan ernstige vetsug ly. Op hierdie spesifieke tydstip is Mev Wolowitz se penarie is dat sodra sy dit regkry om al haar voorste gedeeltes mooi in die kledingstuk in te stop, dat die agterste gedeeltes weer uitpop. Sy benodig Sheldon se hulp om die agterste gedeeltes weer terug te druk.

 

Hoewel ek heelhartig die WOORDE in die menseREGte-handves onderskryf, beskou ek die DADE van MenseREGtedagvieringe in ons land ‘n bietjie soos die kat-herderadvertensie. Dis net glad nie snaaks nie. Die onREG waarop dit geskoei is, is hartverskeurend waar en die gevolglike REGstellende stryd is heldhaftig-merkwaardig, maar hierdie REGstelling is reeds minstens dertig jaar lank al van krag. Daar is lankal nie meer ‘n stryd nie, maar steeds word die illusie van ‘n kat-herder-agtige stryd oorgedra van geslag tot geslag. GrondWETlik het ALMAL nou dieselfde REGte en dis tyd dat ALMAL ook herinner word daaraan dat saam met REGte daar ook VERANTWOORDELIKHEDE kom. Elke landsburger het ook die VERANTWOORDELIKHEID om nie net die REGte van mede-burgers nie, maar ook die volheid van die hele WET in die grondWET te eerbiedig deur dit te handhaaf. Onlangse gebeure naby aan die woonbuurt waar my geliefde Pellissier Gemeente geleë is, dien as ‘n hartseer herinnering aan die onverskilligheid van verwaande kat-herder-agtige leiers wat skaamteloos onREG aanrig.

 

Die verwagting van bogenoemde leiers (asook ander soortgelyke leiers met bedenklike, selfverrykende bedoelings) om vandag onREG in te stel wat kwansuis gister se onREG REGstel met die belofte dat dit môre se geREGtigheid sal verseker, is ‘n bietjie soos Mev Wolowitz wat dit reggekry het om haar voorste gedeeltes in die kledingstuk in te stop, maar wat dan uitloop uit die aantrekkamer en hoop dat niemand die uitgepopte agterkant sal oplet nie. Mev Wolowitz benodig ‘n toepaslik-doeltreffende kledingstuk wat die hele sy (al haar gedeeltes) kan behou en handhaaf. As mede-landsburgers wat ALMAL deel is van een Suid-Afrikaanse nasie benodig ons toepaslik-doeltreffende leiers wat op ‘n onpartydige wyse ALMAL se regte asook die volheid van die grondWET sal handhaaf.

 

As Suid-Afrikaner met ‘n beduidende rissiepit-geaardheid en ‘n eersteklas afkeur van ongeREGtigheid, registreer my woede (en gevolglike begeerte aan ongefilterde rissiepituitlatings) oor die verlies aan REG en geREGtigheid in ons mooi land reeds in die rooiwarmgebied. Ek voel soos ‘n Carolina Reaper brandrissie wat reeds die 2-miljoen-eenheid-merk op die Scoville indeks verbygesteek het. As gelowige en volgeling van Jesus Christus is ek tog so dankbaar dat MenseREGtedag en Paasfees so naby aan mekaar is, want die herinnering daaraan dat die rissiepit binne-in my ook ‘n gawe is wat met uiterse noukeurigheid aangewend behoort te word, laat die onnodige hitte vinnig afkoel. Ek is geroep om, wanneer nodig, die vlam van waarheid aan die brand te steek en/of te onderhou en nie net ‘n verwoestend-noodlottige brandgevaarwaarskuwing te wees nie. My Jesus, my Verlosser, het Sy Godheid opgegee om mens-sonder-REGte te word en doodgemartel te word. Nou kan ek die voorREG geniet van Sy guns (ewige lewe ten spyte van my ongeREGtige menslikheid) en Sy genade (om my kwyt te skeld van die dood wat ek verdien vir my ongeREGtige menslikheid).

 

Tot dusver het ons MenseREGtedag VERKEERD gevier. Dit gaan nie oor herinneringe aan die VERKEERD van die verlede nie. Die REGte viering van hierdie dag sal wees om, in die hede, DAAD by WOORD te voeg en REG vir/met ALMAL te DOEN om, sodoende, nie die VERKEERD van die verlede te herhaal nie en ‘n toekoms van REGverdigheid vir ALMAL te verseker.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Hoe het ek daarna uitgesien om by hierdie plasing uit te kom, Lulu! En weer eens is daar so baie om oor na te dink en twee wonderlik evokatiewe metafore! Jy skryf oor en beskryf wat ons voel. En, ja, hierdie inskrywing kon donker, bitter of selfs opruiend geëindig het. Maar dit het nie. Dit het wegwysend, koersaanduidend geword, ‘n plasing waaruit daar Godgegewe lig in ‘n bose en donker wêreld skyn. Baie dankie hiervoor!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post