ONVOORWAARDELIKE LIEFDE DEUR ONBESKRYFLIKE LYDING

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Ek het verlede jaar gedurende lydenstyd geskryf oor ‘n spesifieke navorsingsreis wat ek onderneem het om self ‘n dieper begrip te probeer verkry van Jesus se lyding en kruisdood. Om te kon begin om te verstaan hoe lief Jesus ons het, moes ek begin by Sy lyding en dit het my op ‘n traumaties-ontstellende en uitmergelende reis geneem om, uiteindelik, ‘n deurbraak-bevrydende openbaring te kon kry wat my hele wese aangeraak en aangegryp het en wat ek graag vandag in 2024 se lydenstyd met julle wil deel. Wees gewaarsku, hierdie is nie ‘n feëverhaal nie, dis die onbeskaamde, onvervalste egtheid van die waarheid in gewelddadige suiwerheid. Hoewel hierdie reis weke geduur het en ek ‘n beduidende hoeveelheid bronne geraadpleeg het, is die in-my-eie-woorde-vertelling oorsigtelik en nie volledig nie.

 

Ek ken seer en die lyding wat dit veroorsaak. Ek reken dalk nie heeltemal PhD-vlak nie, maar beslis summa cum laude meerstersgraadseer. Verwerp en verlaat. Oorgesien en misgekyk. Gespot. Getart. Net nooit goed genoeg nie. Misverstaan. Veroordeel. Verneder. Vervloek. Verag. Misbruik. Weggegooi. Alleen.

 

Ek het, in my lewe, taamlik gou agtergekom dat ek dieper voel as die meeste mense rondom my. Nie net my eie pyn voel ek diep nie, maar ook ander mense s’n en dit is nie beperk tot emosionele pyn nie. Dit sluit ook fisiese pyn in. Ek het mirror-touch synaesthesia (MTS) en tot nou toe, was ek beduidend stil daaroor omdat ek dit nie verstaan of kan verklaar nie. Oor dekades heen het gebeurtenisse en persoonlike ondervindings gemaak dat ek my eie definisie van seer en lyding gevorm het.

“Dis so onbeskryflik, asof al die lug uit my longe uitgemoker word, my hart dan uit my borskas uitgeruk word, met ‘n voorhammer stukkend papgekap word en die stukke bloederige vleis dan weer teruggedruk word. Niemand sien dit nie, want dit gebeur diep binne-in by binnewêreld. Nee, ek gaan nie dood nie, maar elke keer word klein stukkies op ‘n mikroskopiese skaal verteer en weggevreet uit my siel. Om seer so te voel, is hartverskeurende lyding en dis versmorend en verlammend.”

 

Meer as tweeduisend jaar gelede is ‘n onskuldige man genadeloos en meedoënloos gemartel en vermink op die wreedste wyse denkbaar. Hy is heeltemal kaal uitgetrek, aan ‘n houtpilaar vasgemaak en stukkend papgeslaan totdat hy, onherkenbaar as ‘n mens, gelyk het soos ‘n bloederige massa vleis met sy gebeente wat plek-plek sigbaar was. Daarna is hy soos ‘n dier aangejaag na ‘n koppie toe terwyl hy onderwerp was aan wrede spot en vernedering. Op die koppie is hy op ‘n kruis vasgespyker en in die lug in gehys waar hy moes hang totdat hy dood was. Die spykers was ongeveer 18cm lank en hoewel dit met die inkap in sy gewrigte en voete geen bene gebreek het nie, het dit wel verskeie senuweeverbindings afgesny en gedeeltelike spierverlamming tot gevolg gehad. Op daardie kruis het hy pynlik-stadig versmoor en het hy elke witvuurwarm weerligstraalpyn voel skiet regdeur sy arms, bene en hele sentrale senuweestelsel tot waar elke een, afsonderlik, in sy brein ontplof het. Dit het gebeur met elke hand- en/of voetbeweging, hoe gering ookal, want verlamming beteken nie noodwendig verdowing nie. Tesame met die voortdurende weerligstraalpyne het hy waarskynlik ook ondraaglike pyn ondervind van die hewig-bloeiende slagtingswonde aan sy stukkende lyf wat geskaaf het teen die growwe kruishout en van die doringkroon wat met stokke in sy kopvel ingeslaan is. Laasgenoemde pyn is heel moontlik verder vererger deur onsuiwerhede vanuit die stowwerige grond toe hy op die grond vasgespyker is aan die kruis asook vlieënde boorinsekte wat teer op die oë en oop wonde van ‘n slagoffer wat magteloos aan ‘n kruis hang. Teen hierdie tyd het sy stukkende liggaam reeds verskeie omdraaipunte vir spontane herstel verbygesteek en het verskeie van sy lewensonderhoudende stelsels reeds in gewelddadige toestande van skok verkeer. Die oorgrote meerderheid van geloofskenners meen dat hy heeltemal kaal (as uiterste vorm van blootstellende skaamte) aan die kruis gehang het. Die oorgrote meerderheid van medici in eweknie-geëvalueerde navorsingspublikasies meen dat sy uiteindelike dood veroorsaak is deur ‘n katastrofiese kardiovaskulêre gebeurtenis, soos ‘n massiewe hartaanval of ‘n noodlottige hartweefselskeur.

 

Jesus Christus, Seun van God, het Goddelik-omvattend-MTS gehad vir elke seer van elke mens wat al ooit geleef het, nou leef of nog ooit gaan leef. Hy het boonop geweet dat die seerste seer eintlik skeiding tussen mens en God is en daarom het Hy Homself oorgegee om ALLE sleg, seer en stukkend tot in die boosste graad op Homself te neem en die doodsprys daarvoor te betaal. Hy is gestroop van ALLE waardigheid (Goddelik en menslik) en Hy is wreedaardig gemartel totdat Sy hart, letterlik, geskeur het. The only ONE ever to really go to hell and back.

 

Tydens hierdie reis het ek vir Anzelle* ontmoet en sy het gelees wat ek geskryf het. Toe sy een middag, met ‘n innig-diep dringendheid in haar tranerige oë, vir my vertel van die bevryding wat sy beleef het toe sy gelees het, kon ek dit VOEL en het ek geweet dat ons onsself op heilige grond bevind. Anzelle het in haar grootste seer ook SIELDIEPSKAAMTE by my lys van seer bygevoeg en haar lyding om die geheim van haar eie kleindogtertjieverkragting weg te steek vir dekades lank, het onuithoudbaar begin word. Sy het vertel hoe haar grootste seer ‘n verswelgende saamgestelde seer geword het en dat daar vyf maande tevore ‘n sneller getrek is wat alles oombliklik uit hibernasie uitgepluk het en soos die premiere van ‘n voorheen-verbanne fliek, in ultrahoë definisie, op die grootskerm uitgebeeld het. Dit het vir haar gevoel asof die hele wêreld dit kon sien, maar eintlik het net drie ander mense dit gesien en ook net omdat hulle baie spesifiek gestuur is om haar te help om vir eens en altyd gesond te word. Anzelle was verstom om te merk hoe haar eie binnewêreldseerdefinisie ooreengestem het met beide my definisie asook elemente van Jesus se ware lyding. Sy het ook die trauma van die kruis ernstig oorweeg, beleef en gevóél om uiteindelik haar eie sieldiepskaamte van kleindogtertjieverkragting daar te sien, want dit was tot op daardie stadium, die een ding wat sy nie met Jesus se liefdesdaad kon versoen nie. Anzelle het my vertel dat sy nou wéét dat dit nie nodig was vir Jesus om ‘n dogtertjie te wees of verkrag te word om die diepte van haar seer te kon voel nie. Sy wéét nou dat Hy spesifiek drie nie-dogtertjie-mense gestuur het om saam met haar te reis op haar pad na gesondword, want sieldiepskaamte is nie geslagsafhanklik is nie. Jesus het immers kaal aan ‘n kruis gehang vir die hele wêreld om te sien en NIEMAND om Hom te help nie!

 

Anzelle se roerende getuienis het my reeds-diepgaande kruisreiservaring beduidend verder verdiep en toe sy my verlede jaar al saamgenooi het op haar gesondwordreis, het ek dit, sonder versuim, onmiddellik aanvaar. Vandag, een jaar later, word ek steeds sprakeloos-verwonderd meegesleur in Anzelle se gesondwordreis. Dis ‘n kosbare, ware lewensverhaal van bevryding en vernuwing nie net vir Anzelle nie, maar ook vir die oorspronklike drie nie-dogtertjie-mense, die twee bykomende dogtertjie-mense en ek (wesenlik ook ‘n dogtertjie-mens) wat saam met haar reis. Anzelle het gevra dat ek haar storie skryf en die reuse omvang daarvan oorweldig my, maar ek weet waar om te begin. In die stilword by die houtkruis van die Author & Finisher van ons geloof sal ek alles vind wat nodig is om die author te wees vir Anzelle se storie. WANT Jesus is hartverskeurend lief vir Anzelle. EN Jesus is hartverskeurend lief vir jou, liewe leser. EN Jesus is hartverskeurend lief vir my en dit breek my hart!

 

*Anzelle is ‘n skuilnaam, maar haar storie is eg.

 

 

”looking unto Jesus, the Author and Finisher of our faith, who for the joy that was set before Him endured the cross, despising the shame, and has sat down at the right hand of the throne of God.“

‭‭Hebrews‬ ‭12‬:‭2‬ ‭NKJV‬‬

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post