Vandag is die laaste dag van Oktober, bekend as internasionale HUISHOUDELIKE GEWELD bewustheidsmaand en waaraan die kleur PERS toegeken word. Vandag is Hervormingsdag, die herdenking van Martin Luther se dapper Teologiese regstellingshandeling. Vandag is ook halloween, ‘n verfoeilike viering, maar ek noem dit net omdat ek graag later ‘n beeld daaruit wil leen om iets te illustreer.
In hierdie stukkende wêreld van ons waar selfsugtige gladdebek-menswolwe-in-skaapklere niksvermoedende mense mislei, verkul en uitbuit vir selfverryking in alle vlakke van die samelewing, gaan ek geen doekies omdraai in hierdie spesifieke skrywe oor ‘n onderwerp wat my hart verskeur en my derms knoop nie. Die term HUISHOUDELIK is eintlik ‘n oorhoofse versamelnaam vir enige geslote omgewing waar mense met mekaar saamleef vir ‘n bepaalde doeleinde. Die geslotenheid-kenmerk van hierdie saamleefruimte is dan juis die grondslag vir die billike aanname dat die mense daarbinne in ‘n toestand van veiligheid en geborgenheid verkeer. Hierdie aanname is egter skokkend-verkeerd.
Ek het verskeie bronne nageslaan vir toepaslike definisies en ek het ‘n samestelling onderaan hierdie skrywe geplaas. Hier volg ‘n meer gepaste en omvattende (algemene) definisie vir HUISHOUDELIKE GEWELD:
Die moedswillige misbruik van mag/krag binne-in enige saamleefruimte met die uitsluitlike doel om te beheer, beseer, beskadig en benadeel vir selfbevrediging. Oortreders is bekend aan slagoffers en wanneer hierdie oortreders die gesonde heilige grense van slagoffers se menswees (liggaam, siel en gees) bedreig en/of binnedring, dan ontneem hulle hulle slagoffers van menswaardigheid met verreikende en/of lewensbedreigende gevolge. Dit geld vir ALLE saamleefruimtes waar mense in groepe byeenkom.
In my geliefde Pellissier Gemeente het een van ons leraars onlangs begin met ‘n spesifieke preekreeks tydens die aanderedienste. Die onderwerp is liefdesverhoudings en ALLES wat daarmee verband hou. Reguitpraatpreke oor verliefdheid, saambly, seks, swangerskap, masturbasie, pornografie, huwelik, egskeiding en kinders word met dringendheid en deernis gebring. Ons, as Christen-gelowiges, kan nie langer stilbly en skaamword oor seks en seksualiteit nie, want terwyl ons stem oor die waarheid van mooi seks stil is, skreeu Hollywood en hoofstroommedia luidkeels ‘n goedkoop, verminkte namaaksel van seks wat vieslik en vernietigend is. Dis immers ons God Wie dit mooi en goed geskape het as kosbare geskenk, die intiemste liefdesdaad bedoel vir twee huweliksmaats. Dis nie vuil, vieslik of ‘n vloekwoord nie en goeie, gesonde gesprekke daaroor is verseker nie verbode in die kerk nie.
SEKSUELE GEWELD is sekerlik die vernietigendste onderafdeling van HUISHOUDELIKE GEWELD. Ek is die afgelope tyd verskeie kere gewalg deur mediaberigte oor verwaande gesagsmisbruikende seksmisdadigers wat met vermetelheid skuld ontken vir hulle wandade terwyl hulle bely dat hulle Christen-gelowiges is. Daarom wil ek graag ‘n denkbeeldige helder PERS kollig skyn op hierdie boosheid.
Verkragting, as ernstigste vorm van SEKSUELE aanranding, is wanneer iemand met oorrompelende GEWELD die liggaam van iemand anders op ‘n ongemagtigde seksuele wyse binnedring. Dit is NIE jeugdige onbesonnenheid of ‘n ou oordeelsfoutjie nie, dit IS ‘n ernstige misdaad. Dit veroorsaak onbeskryflike trauma vir en onnoembare skade aan die slagoffer. Dit kan NOOIT omgekeer word nie en die saamgestelde skade kan lewenslank onherstelbaar bly. Beide die paaie van geregtigheidssoeke asook traumaberading vereis dat die slagoffer die walglike gebeurtenis/se herhaaldelik moet herleef.
WAARSKUWENDE VRYWARING:
DIE DRIE STORIES WAT HIERNA VOLG IS GESKRYF IN DIE WERKLIKHEIDSFIKSIE-GENRE. DIE KARAKTERS ASOOK DIE SPESIFIEKE STORIELYNE IS FIKTIEF, MAAR DIE GEBEURE IS OP NARE WERKLIKHEID GESKOEI. DIS ‘N HOOGS-ONTSTELLENDE WERKLIKHEID WAT VIR HOPELOOS TE LANK WEGGESTEEK EN STILGEHOU IS. DIS TYD DAT DIT UITGEDOP EN OOPGEVLEK WORD!
Lenie:
Lenie staar voor haar uit, haar gedagtes is vêr weg van daar waar sy sit. Die as van die sigaret in haar mond, val op die staaltafel voor haar, maar sy sien dit nie eers nie. Sy het reeds 20 jaar van haar lewenslange tronkstraf uitgedien en, as ‘n bejaarde vrou, kry sy swaar in die gevangenis, want die omstandighede is haglik en die mishandeling is onuitspreekbaar. Sy rook om te cope, al het sy dit nog altyd verafsku. Sy is destyds skuldig bevind aan moord met verswarende omstandighede toe sy een nag haar slapende eggenoot, Wim, se kop papgeslaan het met ‘n hamer uit sy eie gereedskapskissie. Die koerante was vol opspraakwekkende besonderhede van die gru-moord op ‘n geliefd-bekende sakemagnaat deur sy eie bose vrou. Nie ‘n enkele koerantartikel het berig oor die jarelange, wreed-vernederende seksuele misbruik deur Wim en sy welgestelde vriende waaraan Lenie uitgelewer was en moes geheimhou nie. Nie ‘n enkele koerantartikel het berig daaroor dat Lenie net ‘n paar ure voor die moord afgekom het op Wim en haar 12-jarige susterskind in die tuinwoonstel nie. Die meisietjie was naak, verskrik en in Wim se ystergreep. Daardie verskriklike toneel het onmiddellik vir Lenie teruggeneem na haar eie ma se sterfbed en die hartverskeurende bekentenisse wat sy gemaak het oor Wim. Nie ‘n enkele koerantartikel het berig dat Wim ook Lenie se kleinsus en sy eie skoonma, in die geheim, wreed misbruik het en dat, al verskyn longkanker as oorsaak op sy skoonma se doodsertifikaat, verpletterende vernederingsskande die eintlike kanker was wat die lewe uit haar uitgevreet het nog lank voordat longkanker die laaste spyker in haar doodskis ingemoker het. Net voordat hy omgedraai en aan die slaap geraak het, enkele ure voor sy moord, het ‘n swetsende matroosdronk Wim met meerderwaardige verwaandheid (soos altyd) die allerverskriklikste afbrekende booshede aan Lenie toegesnou. Die keer het die wreedheid van sy afpersingsdreigemente uiteindelik die heel hoogste vlak bereik. Die koerante het berig dat Lenie ‘n “gewilde, gesiene, goeie” man vermoor het, maar nie ‘n enkele koerantartikel het berig van Lenie se onbeskryflike pyn en lyding nie. Daar was destyds geen genade vir ‘n verkragtingsslagoffer wat geknak het nie. Vandag sit Lenie hier by die staaltafel en wag vir haar vuurvreter-advokaat. Hy het nuwe getuienis en bewysstukke by die hof ingedien het en hy is oortuig daarvan dat Lenie se vonnis omgekeer kan word.
Therese:
Therese brom ‘n belediging in Fritz se rigting, maar sy weet baie goed dat hy te doof is om haar te hoor. Sestig jaar gelede het sy as jong, beeldskone tydskrifmodel Fritz se oog gevang, maar die wittebrood-verliefdheid het begin kwyn na die geboorte van hulle eerste dogtertjie en teen die tyd dat die derde dogtertjie gebore is, het verliefdheid lankal verdwyn soos mis voor die son en hulle deurskynliefde vir mekaar was op goeie dae amper soos die fyn, dowwe vierweke-strepie op ‘n goedkoop, amper-werkende swangerskaptoets. Vandag, in hulle tagtigs, staan hulle nou in ‘n koue, kliniese gemaksvennootskap teenoor mekaar. Bitter, bakleierig en beledigend. Skuifelende bierpens-Fritz en sy waggelende dubbeldekkerdikbus-vrou Therese, die yslike meulsteenbal aan ‘n ketting om sy enkel waarvoor hy, volgens hom, ‘n swaarvoertuiglisensie benodig om agter hom saam te sleep. Therese is so te sê die klaskaptein van haar vriendinne-kring van selfbejammerende-Saries waar hulle dag in en dag uit hulle lamsak-mans beswadder en hulle kinders veroordeel vir hulle eie, selftoegediende, eensame lot. Fritz spandeer sy dae vasgenael-weggeraak in grootdruk-snertsstorieboeke of breindood voor die televisie. Slegs hulle jongste maak nog so nou en dan kontak met hulle, maar die ander twee vervreemde dogters woon in die buiteland. Die oudste, ‘n oujongnooi, woon in die VSA en die getroude middelkind woon in Kanada met haar gesin. Laasgenoemde stuur darem elke jaar met Kersfees foto’s van glimlaggende, groeiende kindertjies – hulle eie kleinkinders wie hulle in alle waarskynlikheid nooit sal ontmoet nie. Fritz het nog nooit sy hand gelig teenoor Therese of hulle dogters nie, maar as sy verkleinerende, veroordelende vrouehaat-woorde teenoor hulle ooit sigbare wapens kon voorstel, sou die onnoembare slagtingsskade aan hulle vroulikheid ook aangrypend sigbaar kon uitskreeu in die skynstilte van geheimgehoude geweld.
Tillie:
Tillie is ‘n 50-jarige oujongnooi wat reeds dekades lank in die VSA woon. As probleemoplossende spil waarrondom die sukses en reputasie van die kleinerige gemeenskapshospitaal in die Amerikaanse Middeweste draai, het sy haar hart en siel volledig in die plattelandse gemeenskap belê. Sy het destyds spesifiek die VSA gekies omdat, as swaargewig-wêreldmoondheid en voortou-leier in liberale sienswyses, sy al die lastige herinneringe aan haar verkrampte verlede sou kon uitwis. Afrikaans is nie eers ‘n spikkel op die fynste Amerikaanse taalradar nie, so nie ‘n enkele aspek daarvan (taal, skool, kultuur, kerk, en/of manne) sal haar ooit hier kan walg nie. Sy was, inderdaad, heeltemal in die kol met haar verwagting en, terwyl sy haarself toegewy het aan haar mediese studies, kon sy die laaste stuiptrekkings van haar moedertaalvaardighede inspan om die aksent van haar nuwe moedertaal te vervolmaak. Sy het bewys dat Afrikaanssprekendes die Amerikaanse aksent veel vinniger baasraak. Gedurende die jare wat gevolg het nadat sy haar mediese graad met lof verwerf het, kon sy vergeet van die afskuwelike manlikheid van oom Wim en die Niek-bende, die breekbek van haar pa Fritz asook die walglike selfbejammerende agterbaksheid van haar patetiese stemslaansak-ma Therese. Uiteindelik kon sy al haar saamgestelde seer in ‘n denkbeeldige bestralingsbestande, loodversterkte kis gooi en diep begrawe. Sy is nou ‘n volwaardige landsburger wat Amerikaanse Engels praat net soos haar landsgenote. Sy word met toepaslike waardigheid geag en sy ontvang al die verdienstelike eerbewyse wat haar toekom, ondanks die steeds-onveranderde aanduiding van FEMALE as geslagsoriëntasie op al haar amptelike identiteitsdokumente. Nadat sy reeds soveel afsprake in die verlede moes uitstel, sit Tillie vandag by die staatskantoor en wag haar beurt af. Vandag nog gaan haar geslagsoriëntasie verander na NON BINARY. Terwyl sy wag, dink sy aan die huilende blondekopseuntjie wat by ongevalle ingebring is net toe sy uithardloop om betyds te wees vir hierdie afspraak. Iets pla haar en terwyl sy die toneel stadig afspeel in haar kop, besef sy dat daar niks ongewoon was aan wat sy met haar oë waargeneem het nie. Dis egter wat sy gehoor het, wat aan haar krap. EINA! EINA! LOS MY UIT! Dit was nie net Afrikaans nie, maar die seuntjie se woorde was presies dieselfde as wat agtjarige Tillie vir die Niek-bende geskreeu het! Tillie voel dadelik hoe die loodkis binne-in haar opgegrawe word en daar is niks wat sy kan doen om dit te keer nie….
Op hierdie punt wil ek egter graag ‘n toepaslike beeld uit halloween leen om ‘n illustrasie te maak. Die beeld is die van doderykdeurdrenkte, suurstofverbruikende spookmense (undead) in flieks soos I AM LEGEND, geskep vanuit die verbeeldingswêreld van storieskrywers in die zombiefliek-genre. Slagoffers wat die geweld van verkragting oorleef is, hoogs waarskynlik en hartverskeurend, die mense vir wie die undead/zombie-ervaring ‘n aanvoelbare werklikheid is, net sonder die props, hype en makeup. Aan die buitekant lyk hulle soos gewone mense wat asemhaal en leef, maar diep binne-in die wêrelde van hulle siele en liggame is daar plekke waar die dood van stukkendseer soveel verwoesting saai dat dit uiteindelik spookdorpies word.
Bogenoemde stories is drie blitsflitse in die lewens van drie verwante vroue wat, te midde van blootstelling aan ander vorme van geweld, gemeenskaplik die verkragtingsslagoffers van dieselfde man was. Lenie het onuitspreekbare pyn en lyding vir ‘n onbeskryflike lang tyd verduur. Die wete dat beide haar ma en kleinsus, Therese, ook haar man se slagoffers was, het haar opgevreet, maar toe sy daardie dag op Wim en Tillie afkom, het Lenie gebreek. Wim se invloed het diep en dik gestrek en die kerk ingesluit. Vier vroue uit drie generasies het die boosaardigste seer verduur ten koste van hulleself for the greater good in ‘n soort vasbyt-vir-volhoubaarheid van ‘n mooi skermbewaring (screensaver) terwyl die werklikheid ‘n vieslike bose web was. Nie Lenie of Therese of hulle ma kon ooit hulle trauma verwerk nie, maar Tillie kon wel ‘n gesondwordpad van versoening saam met kosbare mense in ‘n geloofsfamilie stap. Sy kon gesond genoeg word om die egte liefde van ‘n Godvresende wewenaar te embrace en op haar sestigste verjaardag, vir die eerste keer in haar lewe, in die huwelik te tree.
Ek is dankbaar dat die kosbare leraars van my geliefde Pellissier Gemeente met Lutherse dapperheid die stilswye rondom die onderwerp van seks in die kerk, stilgemaak het en ek sien met opgewonde verwagting uit na die herontdekking van God se hart oor hierdie diep heilige saak. Vandag, op Hervormingsdag, wil ek ook graag ‘n veer uit Luther se hoed neem en twee regstellende PERSverklarings denkbeeldig hier vasspyker.
- Wanneer ons, die kerk, met die nodige Goddellike wysheid, deernis en erns PRAAT oor gesonde seksualiteit en seks asook die skade van wellustig-bose seksmisbruik, herstel dit die huidige begrip van die wat dit aanhoor en inneem. Dis die bekendmaking van WAARHEID wat geld nie kan omkoop en wat mag en invloed nie kan uitvee nie.
- Wanneer ons, die kerk, met die nodige Goddellike wysheid, deernis en meegevoel LUISTER na stukkende mense wat seergekry het weens bogenoemde wellustig-bose seksmisbruik, gee dit hulle die enigste ware Toegang tot ‘n pad van gesondword. Dan BEDIEN ons hulle met toewyding sodat lewe teruggeblaas kan word in sommige van hulle spookdorpies, maar ook met geduldige liefdevolheid sodat hulle gesond genoeg kan word om ook ander te BEDIEN al bly daar plekkies oor wat altyd spookdorpies gaan bly.
Meer as tweeduisend jaar gelede het ‘n groot, opgesweepte skare moordlustiges ‘n onskuldige Man wreed gemartel en uiteindelik vermoor deur Hom aan ‘n kruis vas te spyker. Tydens die marteling het hulle ‘n PERS kleed vir Hom aangetrek en Hom meedoënloos gespot en gespoeg. Voordat Hy Sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy AL die boosheid van ALLE tye (insluitend Wim se wandade asook die hartverskeurende stukkendseer van Lenie, haar ma, Therese en Tillie) op Homself geneem sodat ALMAL wat Hom as Verlosser aanneem, ewig boosvry kan leef aan die anderkant van die ewigheid. Selfs Luther bevestig in die laaste deel van sy vasgespykerde geskrifte dat, teenstrydig met die moderne snertstellings van stinkryk liefdelose voorspoedvraatpredikers wat mooiweersteologieë preek, dat ons nie van pyn en lyding gespaar word nie. As Christene is ons navolgers van Jesus Christus en Hy het belowe dat Hy by ons sal wees tot aan die einde van hierdie kant van die ewigheid.
Definisies:
Geweld kan gedefinieer word as die moedswillige gebruik van krag of mag, hetsy in die vorm van dreigemente of werklike fisiese handelinge, wat kan lei tot beserings (liggaamlik en/of sielkundig), dood en/of skade aan eiendom. Dit kan voorkom tussen individue, in groepe, of selfs in breër samelewingskontekste en sluit fisiese, emosionele en seksuele mishandeling/misbruik in. Geweld kan ook struktureel wees, waar stelsels of instellings mense benadeel deur middel van onregverdige sosiale, ekonomiese, geestelike of politieke praktyke.
Huishoudelike geweld verwys na enige vorm van geweld, mishandeling/misbruik of beheersende gedrag wat binne-in ’n gesins- of huishoudelike konteks plaasvind. Dit sluit fisiese, emosionele, seksuele, en finansiële mishandeling/misbruik in en kom voor tussen familielede wat saamwoon. Dit het dikwels langdurige sielkundige en fisiese gevolge vir die slagoffers en die erns hiervan word gereeld oor die hoof gesien vanweë die weggesteekte aard van waar dit voorkom, in die privaatbinnekamers van gesinswonings.






En ek stem met ALLES in my saam rakende huishoudelike geweld. Ek voeg sommer by: En die minagting van vroue. En die onderskatting van vroue se rol as opvoeders, denkers, visioenêre, barmhartige Samaritane, wiskundiges, ekoloë, kreatiewe denkers, werkskeppers, selfs teoloë. Die lys is so lank soos die lys van huidig bestaande beroepe. Ek wonder altyd: WAT laat so baie mans aan vroue as slaansakke dink? Dankie vir daardie inskrywing, Lulu.
Dankie Maretha.