Eergisteraand het ek die voorreg gehad om Boo, my geliefde vierjarige kleindogter, se skoolkonsert by te woon. Dit begin op ‘n laat-my-kop-in-skaamte-sak punt waar ek, met die intrapslag, sommer reeds taamlik styf opgeklits raak met die gebrekkige parkeringsbeskikbaarheid. Dit voel asof ons in die aangrensende buurt moes parkeer en ‘n dagreis moet onderneem tot by die skoolsaal. Daar aangekom, is daar net plek in die tweedelaaste ry en twee van die grootste reusmense wat ek al ooit gesien het, sit regvoor my. Ek besluit om die HERBEREKEN HOUDING algoritme in my kop te ontplooi en net voordat dit oorverhit, aangehits deur hell-hot flushes en in die afwesigheid van industrieel-sterkte afkoeling, begin die kalmte van selfbeheersing posvat en die irritasie maak plek vir waarderende genot. Ek besluit sommer ook om die control freak knoppie vir die res van die aand af te skakel. Die musiek is lewendig en grotendeels Afrikaans en die atmosfeer is feestelik. Dis NIE ‘n perfek-gesinchroniseerde uitvoering van Swan Lake nie. Dis ongesinchroniseer, onvoorspelbaar en oorspronklik. Met oorgawe en in eenvoud verras en vermaak klein groepies kleuters die groot gehoor. Daar is ‘n donkerkopseuntjie wat met rowwe woema sokkiedans met ‘n dogtertjie, effe groter as hy. Maar wanneer hy haar probeer keer in die tollende tiekiedraai, dan word die keerhandeling ‘n taai klap. Instinktief krimp ek ineen vir die verwagte en hoogs-geldige huilkrete, maar dit kom nooit nie. Daardie dapper dogtertjie moet sekerlik dan boeties by die huis hê. Daar is outjies wat met ritme dans soos gebore vermaaklikheidsterre en daar is outjies wat, met dieselfde oorgawe, dans op ritmes van lukrake klankversamelings wat vêr kortskiet van enige billike definisie van musiek af. Daar is die soentjieblasers en stomgeslaande verhoogversteendes. Daar is ook parmantige dogtertjies wat raas met maatjies wanneer hulle vergeet om te staan op juffrou se rooi kruisieplakkertjies. Daar is skaam glimlagte en fronse. Daar is uitbundige lag en trane. Elke ou lyfie huisves ‘n unieke hartjie wat, as uitdrukkings, op elke gesiggie gebeeldsend word. Elkeen so uniek en elkeen so anders. Maar daar is een ding wat elkeen van daardie kindertjies in gemeen met mekaar het. Hulle verskyn almal op die verhoog met groot ogies wat, soos die ysbergsoekende bemanning van groot skepe in die kraaines, soek vir hulle geliefdes innie gehoor. Sommiges vind hulle geliefdes innie gehoor, maar ander se hoop sink soos Titanic wanneer hulle, met treurgesiggies, die verhoog verlaat. Uiteindelik wieg ek op my stoel soos ‘n wafferse metronoom, rofweg op die maat van die musiek. Tussendeur die reuse voor my, aanskou ek stukkies van hierdie konsert soos niemand anders nie. Ek geniet myself gate uit en ek weet dat môreaand en oormôreaand se gehore in dieselfde saal gaan sit, dieselfde musiek gaan hoor en dieselfde kindertjies gaan sien, maar dat die konserte, soos hierdie kindertjies, heeltemal uniek gaan wees.
Gister was my verjaardag en my vier kleinkinders het loshande die treffendste gelukwense gebring. Stitchie, my jongste se mooiste dertiendagoue babaseuntjie het ‘n Toblerone (net so groot soos hy) onder sy babakombersie weggesteek. Boo, my oudste dogter se vierjarige hartediefdogtertjie (nog uitgeput van die vorige aand se verhoogoptrede) het met ‘n bottel braaisout in haar hande, in ‘n video-onderhoud met haar mamma, haar oumaliefde aan haar “33-jarige” Nana verklaar. Boo se babasussie Pie, sestienmaand-oue krulkopdogtertjie, het my reeds die vorige aand by die konsert in vervoering gehad toe sy op haar mamma se skoot saamgedans het met die kindertjies op die verhoog en dan ook met die oulikste plompvingertjie beduie het, KYK DAAR, NANA! Munchkin, my oudste seun se bekkige sesjarige haasbekseuntjie het sy hartsvervullende, liefdesbetuigende verjaardagswense aan sy Nana foutloos voorgedra en gesing op ‘n videogreep. Ek dink dat kleinkinders eintlik ‘n ononderhandelbare, basiese behoefte van middeljarige mense behoort te wees. Hulle is nie net ouliker weergawes van ‘n mens se eie kinders nie, hulle is doudruppeltjies, sonskynstraaltjies en skittersterretjies wat reguit (nie op mensgemaakte skynheiligheids-gefilterde verbypaaie nie) uit die hemel uitkom. Eg. Suiwer. Rou. Vet is vet. Mooi is mooi. Seer is seer. Liefde is liefde.
Dit het my onlangs bygeval dat ek nogal in die nare gewoonte verval het om mense met onaanvaarbare gedrag met bakstene te vergelyk. Moedswillige, selfsugtige en entitled mense weerspieël die intellektuele vermoë van hoogstens twee en ‘n halwe bakstene. OF Afgestompte en onsensitiewe mense weerspieël die meegevoel van ‘n enkele baksteen. OF My ondeurdinkte, onbeheerste toesnoukreet (veral agter die stuurwiel), HAAI BAKSTEENBREIN, IS JY DOM OF ASTRANT OF ALBEI? Hoeveel bakstene het ek gebruik om met soveel onverdraagsaamheid te oordeel? Maak dit nie ook van my ‘n baksteenbrein nie? Dit het my laat dink aan hoe ek nog altyd gesê het dat my droomhuis (eendag wanneer ek groot is) nie gebou sal wees uit gepleisterde bakstene nie, maar eerder uit mooi, ongepleisterde klinkerstene. Selfregverdiging is soos die pleistersement waarmee ek my baksteenbrein toesmeer. Die kleuterkonsert het my tot ‘n gewigtige inkeer laat kom. Bakstene is net so swaar soos klinkerstene, maar eersgenoemde is lelik en moet toegesmeer word waar die laasgenoemde oop en mooi is. Terwyl ek aan hierdie kant van die ewigheid swaarkry in die gesig staar, kan ek kies om óf die krake in my baksteenbrein met selfregverdigende pleistersement toe te smeer, óf my rasende klinkerkoppie te reboot. By die kleuterkonsert het ek laasgenoemde gedoen, want ek is taamlik goed vertroud met die ingewikkeldheid van eersgenoemde en my hart het eenvoud begeer. Die onbeskryflikste mooi lê dikwels in die onmerkwaardigste eenvoud!
Ek sluit graag af met die volgende. Almal moet kleinkinders hê. Die lewe is soos ‘n kleuterkonsert. Dit bestaan uit goed, lekker, sleg en lelik. Gryp elke dag aan met meer verwondering en minder verwagting, meer verdraagsaamheid en minder veroordeling. Dans en sing jou hart uit en moenie vergeet om soentjies te blaas vir jou geliefdes innie gehoor nie. Dit sal tot gevolg hê dat almal van ons se klinkerkoppies dan minder sal raas.






“As julle nie soos klein kindertjies word nie…” In sy Mensheid wat ons Here Jesus mos ook ‘n kinderkyker, ‘n kinderliefhebber, ‘n kind-gefassineerde, die Man wat kindertjies raakgesien en oop-arm liefgehad het. Wat ‘n wonderbare tydjie is die uur/twee uur van ‘n kleuterskool/graad R-konsert! Lulu… jy beskryf nie net jou eie kleindogter se oulikheid nie. Jy beskryf die uniekheid van all “who are fearfully and wonderfully made”. [Ps 139:14] Dankie hiervoor, weer eens soveel stof tot nadenke.
Dankie Maretha.