DANKBARE DESI DAAG ANDER UIT OM DANKIE TE SÊ

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Met sagte pienk en wit blommetjies…

 

 

Desi hou die mense rondom haar etenstafel goed dop. Hulle is háár vriende, haar hartsmense en hulle kyk na ‘n video wat sy vir hulle gemaak het om hulle te bedank vir die reuse aandeel wat hulle in haar menswaardigheidswelstand het. Desi maak noukeurige waarnemingsherinneringe met haar oogkameras wat sy dan diep in haar hartskelder bêre, herwinbaar in die toekoms, spesifiek vir daardie besonder-taai tye wanneer sy nie op haar kwesbare waarnemingsvaardighede sal kan staatmaak nie.

 

Aan Desi se linkerkant sit haar geliefde Fin, haar sielsgenoot-saamloopmaatjie van die afgelope 33 jaar. Hy kyk ook na die video, want Desi se bedankings begin by hom, met ‘n omvattende toewydingsparagraaf langs ‘n foto van hom in ‘n spoggerige snyers-aandpak. Desi het besluit dat sy en Fin reeds ten minste 7,337 sakke sout saam opgeëet het, want hulle moes al verskeie winters hypothermia en gangrene trotseer om kaalvoet deur bevrore, verlate vlaktes van Siberiese yswoestyne te stap. Daar was kere waar hulle enigste werklik-ondersteunende mede-reisigers slegs in gebed kon saamreis omdat hulle duisende kilometers vêr bly en dan het Desi en Fin net mekaar gehad om warm te bly, aan te hou en sterk te wees vir hulle geliefde afhanklikes. Desi kyk na Fin, háár Fin, loshande die aantreklikste, slimste en gaafste man in enige vertrek en sy weet dat die bittersoet van die verlede, hede of toekoms nooit sal kan verander hoe sy oor hom voel nie. Hy is haar beterhelfte wat altyd die beste in haar uitbring en met wie sy die heel diepste mensconnection deel. Maar vanaand is nie ‘n kaalvoetgeleentheid nie, dis ‘n vreugdevolle viering van diep connections met egte, gewillige mede-reisigers aan ‘n oorvloedig-toegeruste etenstafel. Dis wonderlik en dis warm.

 

Tim sit aan Desi se regterkant en langs hom is sy geliefde Cherise. As Desi haar sin kon kry, sou sy langs elkeen van haar vriende wou sit, maar die wette van Fisika is beduidend beperkend. Sy kan nie op meer as een plek op een gegewe tyd wees nie en sy kan beslis nie haarself in stukkies opbreek en versprei nie. Desi het spesifiek die plek aan haar regterkant vir Tim gedek, want die toetrede van ALMAL (behalwe Fin) aan die tafel tot haar lewe, het by Tim begin. Op ‘n bitterkoue, nat en donker aand baie jare tevore, het Tim met deernisvolle ontferming ‘n lewensreddende touleer afgegooi na twee verlate drenkelinge en daaraan vasgehou totdat hulle self uit die meesleurende stormwatergat uitklim het. Daarna, op hulle saamstapreis, het Tim se introductions Desi se connections geword. Desi weet dat Tim ewe veel van vleis en vis hou en daarom maak sy seker dat hy beide op sy bord kry. Maar nie eers al die garnale in al die oseane op die ganse aarde of al die beste beeste op die hele planeet se plase sal genoeg kan wees om te vergelyk met die groeiende krag van dankbaarheid wat vanaand in Desi se hart opbruis nie. Desi let op hoe stralend-gesond Cherise vanaand lyk en wanneer sy sien hoe lekker Cherise weglê aan haar geroosterde vis en patatskyfies, voel sy hoe ten minste een van haar dermknope begin losraak. Desi se derm ontspan sommer heeltemal wanneer, tydens groepsfototyd, Tim sy arms vou rondom Cherise op sy skoot en Desi oplet hoe daar glad nie meer flikkerende gesondheidskommer in Tim se oë is nie. Sy oë blink met ‘n dankbaarheid wat met Desi s’n resoneer en sy hart straal die oorweldigende uitverkoopliefde vir sy bruid van 34 jaar aan almal uit.

 

Aan Cherise se regterkant sit René en langs haar is haar geliefde Riaan. Riaan dra sy reuse hart van goud op sy mou rond en sy passie vir lewe is aansteeklik. Destyds, nie lank nadat Tim vir Desi voorgestel het aan Riaan nie, het hy een Oukersdag by ‘n ernstig-opgeklitste Desi in haar kantoor gesit. Hy het met meelewende belangstelling geluister terwyl sy haar ontstuimige hart soos ‘n vulkaan laat uitbars het. Dit was die eerste keer wat Desi se hart met Riaan s’n kon sync oor die onafwendbaarheid van seerkry en van daardie dag af, het daardie syncing gereeld begin gebeur. Die mees onlangse keer wat dit gebeur het, was net die vorige week toe Desi van vêr af kon sien hoe Riaan se hart gebreek het toe ‘n kind teleurgestel was weens omstandighede buite sy beheer. Desi weet ook dat René se onlangse uitgerekte, nare gesondheidsuitdagings baie swaar op Riaan se hart geweeg het en nou, nadat daar uiteindelik ‘n oplossingsuitkoms gekom het, is daar nuwe diepte in albei van hulle se siele. Desi het net die grootste waardering vir die gemaklike, lekker kuiers tydens spesiale verjaardagtradisies wat sy en Fin met Riaan en René ingestel het en soms wens sy dat ‘n mens meer as een maal per jaar kan verjaar.

 

Aan Riaan se regterkant sit Margot-Leigh en sy is Desi se jongste vriendin. Die spesiale sielsgenoot-plekkie langs haar is nog leeg en vanuit liefdevolle besorgdheid, verklaar verskeie gaste hulle begeertes dat daardie plekkie volgende jaar gevul sal wees aan Desi se etenstafel. Desi begeer dit ook, maar veel dieper, dat daardie “stoelvuller” daadwerklik Margot-Leigh se Fin sal wees. Dis vir Desi ‘n besonder-vreugdevolle eer om sommer al van vroeg af in hulle vriendskapsverhouding, die kosbare plek van hartsvertroueling vir Margot-Leigh te kon inneem en nou getrou vol te staan. Margot-Leigh se menswees is soos die inhoud van die duursaamste bottel onoopgemaakte, egte champagne. Hierdie inhoud is van onskatbare waarde, want dit is suiwer, onaangeraak, onbesmet en wanneer daardie kurkprop onder die regte omstandighede gepop gaan word, wil Desi graag in die sprei-area wees om te beleef hoe die onuitputbare, lewegewende borrelvloeistof opbruis en menselewens aangryp en verander.

 

Bennie sit aan Margot-Leigh se regterkant en langs hom is sy geliefde Janey. Tim het destyds vir Bennie aan Desi voorgestel toe hulle op ‘n martelings-uitmergelende gedeelte van haar reis die behoefte ontwikkel het vir spesifieke versterkings. Bennie was aanvanklik betrokke in ‘n professionele hoedanigheid, maar die gesondword-deurbraak van ‘n diep Paasfees, het alles verander. Selfs al was ‘n lawwe denkbeeldige hartsvriende-aansoekproses ‘n werklikheid, sou Bennie en Janey nooit nodig gehad het om aansoek te doen nie, hulle sou bloot outomatiese doelgerigte werwings wees wat met hulle intrapslag reeds oor erelidmaatskap sou beskik. Desi kon eintlik nog nie regtig ‘n toepaslike beskrywing ontwikkel wat haar dankbaarheid sou kon saamvat vir die kalmerende rigtingaanwysende omgee-wysheid van kosbare vriende in ‘n wederkerige waarderingsvennootskaps-vriendskap nie. Desi koester elke kuier diep in haar hart.

 

Aan Janey se regterkant sit Petrus en langs hom is sy geliefde Martie. Petrus was destyds een van die eerste introductions wat Tim aan Desi gemaak het en die aanvanklike doel was tweeledig. Eers het Petrus, vanuit sy eie pynlike verlies, die weg gebaan sodat een van Desi se geliefdes met waardigheid kon sterf en daarna het hy ‘n aktiewe saamstaprol gespeel wat verseker het dat Desi en Fin nie van die honger doodgaan terwyl hulle teen Tim se touleer uitklim nie. Daar is iets onbeskryfliks aan die waarnemingservaring van die liefde tussen Petrus en Martie en dis waarskynlik vanuit die onuitspreeklike pyn van die verlies van ‘n lewensmaat wat beide van hulle voorheen moes deurmaak. Aanvanklik kan beide se opvallend-matige temperamente dit laat blik asof hulle teruggetrokke is, maar eintlik is dit bloot hulle uitstekend-ontwikkelde kyk-die-kat-uit-die-boom-uit radar wat ‘n merkwaardige kalmerende effek het. Desi geniet reeds die voorreg om vertroud te wees met die diep, egte omgee en pittige humorsin agter die radar. Maar so nou en dan, wanneer Desi verstrengel raak in ‘n oneindigende kringloop van sweating the small stuff, dan fnuik dit haar en sy verloor ‘n bietjie uit op daardie pittigheid.

 

Aan Fin se linkerkant sit Henning en langs hom is sy geliefde Engela. Desi dink steeds dat sy dalk ‘n tikkie voorbarig was toe sy destyds vir Tim gevra het om haar aan Engela voor te stel, maar sy sal nooit spyt wees daaroor nie. Henning is aan die verkeerde kant van tagtig en hy en sy Engela is reeds langer getroud as wat die oudste persoon (naas hulle twee, natuurlik) aan die tafel is. Van Desi se eerste ontmoeting met Engela af, was daar ‘n onmiddellike vonk wat die vriendskapsvuur tussen hulle twee, en uiteindelik ook tussen Fin en Henning, aangesteek het en dit brand steeds sterk en warm. Engela en Desi is nader aan mekaar as wat Dawid en Jonathan destyds was en nie net is Desi se aanvanklike hoop vir eerbiedig-waardige mentorskap vervul nie, maar sy het ook ‘n kosbare vriendin as bonusgeskenk bygekry. Die twee van hulle coin die slimste, snaaksste woorde/terme waarmee hulle hulle eie genotvolle genootstaal opmaak en daarmee suig hulle die murg uit selfs die droogste lewensgebeentes uit, net soos Mr Keating sy studente in Dead Poet’s Society geleer het. Desi weet nog nie so lekker wat Engela van haar leer nie, maar sy leer van Engela hoe om nie die small stuff te sweat nie en dat ‘n mens soms nodig het om die helder blommetjies te vervang met sagte wit en pienk blommetjies.

 

Yvonne sit aan Engela se linkerkant en langs haar is haar geliefde Frank. Frank is, soos sy sprankelbruid Yvonne van 13 jaar, ‘n millennial al is hy eintlik gedurende die geboortetydperk van die GenX-generasie gebore. Sy onblusbare passie en vreeslose selfversekering maak van hom ‘n soort natuurkrag waarmee rekening gehou behoort te word. Dit kan nie ontken of bloot ontslaan word nie, dis hopeloos te omvattend-groot. Desi is so ongelooflik dankbaar vir hierdie spesifieke kenmerk van Frank en sy sal altyd een van sy grootste ondersteunende aanhangers wees, want sy weet dat dit juis hierdie kenmerk van hom is wat hom laat connect met een van haar naaste geliefdes wat baie swaarkry. Maar Desi sien ook dat dit dan juis hierdie besondere kenmerk van Frank is wat te veel mense laat kies om geïntimideerd daardeur te voel eerder as om aangegryp te word deur die teerheid van sy brose hart wanneer hy, in egtheid, met kwesbare weerloosheid openlik erken dat hy ook maar sukkel om nie in die slaggate van die lewe te trap nie. Die getroue sagmoedigheid van sy geliefde Yvonne vul hom so gesondmakend-mooi aan en Desi is so beduidend dankbaar dat Tim destyds ook vir Frank aan haar voorgestel het.

 

Die bedryfsgedeelte van 2024 is reeds in beseringstyd so op die vooraand van Desembermaand en binne-in Desi se teer hart voel sy die verstaanbare moegheid van al haar vriende rondom haar etenstafel. Elke kosbare tydelike tentwoning-vriend hier vanaand het beduidende hamerhoue en pakslae deurstaan om getrou te bly aan hulle roepings gedurende die afgelope jaar. In teaters, onder narkose, moes sommiges afstand doen van onherstelbaar-stukkende gedeeltes en ander kon nuwe, werkende mensgemaakte ondersteuningstoestelle ontvang. Daar is selfs een besondere tentwoning-vriendin wat ‘n splinternuwe (steeds verborge) klein tentwoning-mensie binne-in haar groei en koester. Desi se gebed is dat elkeen van haar kwesbare tentwoning-vriende wat so opsigtelik vermoeid en swaar belas is, hulleself na Jesus toe sal haas sodat Hy vir hulle rus kan gee. Sy volkome, vredevolle rus wat beide liggaam en siel verkwik. Teen die einde van ‘n onbeskryflik-geseënde aand voel Desi ‘n onverklaarbaar-vervullende vergenoegdheid in haar hart. Indien haar eie brose tentwoning in die nabye toekoms afgebreek sou word, sal haar kosbare vriende wéét hoe geliefd hulle vir haar was. Maar indien haar tentwoning nog vir ‘n geruime tyd in die toekoms opgerig gaan bly staan, gaan sy graag haar vriende nog vele kere wil bederf met THANKSGIVING DINNERS.

 

***§***

 

Vandag is amptelik THANKSGIVING in die VSA, ‘n tradisie wat in 1621 begin het met ‘n oes-dankfees waar pelgrims en boorlinge saam feesgevier het en dit word steeds elke jaar op die vierde Donderdag in November gevier. Dankbaarheid is eintlik nie ‘n moeilike, ingewikkelde ding nie. Dis soos Chappies, spookasem, peanuts en chips met avo dip – dit stop nie by die eerste happie nie, want as jy eers geproe het, wil jy nog hê. Wanneer jy eers begin dankie sê, is dit nogal moeilik om op te hou, want dis soos ‘n aansteeklike kettingreaksie. Liewe leser, laat Desi toe om jou vandag uit te daag. Dit begin nie met ‘n uithanggeleentheid nie, dit begin by ‘n eenvoudige DANKIE uit jou hart uit.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Liewe Lulu…en nou is dit sekerlik elke leser en almal wat daar aan tafel was, se beurt om vir JOU iets te sê; Die gedagtes wat hierdie ode van dankbaarheid vir diep en betekenisvolle vriendskappe in my ontlok, is Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.[Ef 5:9] En: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. [Fil 4:8] Message Bible: ”Summing it all up, friends, I’d say you’ll do best by filling your minds and meditating on things true, noble, reputable, authentic, compelling, gracious—the best, not the worst; the beautiful, not the ugly; things to praise, not things to curse.” Jy skryf, Lulu, jy skryf soos wat Bach, Brahms en Beethoven moes komponeer. Maar jy is ook vir elkeen van ons tot voorbeeld. Jy is ‘n Ef 5- en Filippense 4- mens. Hoe geseënd is elkeen wat tot jou vriendekring behoort, en almal vir wie jy dag ná dag die deur [en die vensters] van jou hart oopmaak, sodat hulle, sonder dat jy dit klinies beplan, die geklop van jou hart kan hoor. Weer eens: dankie vir wat jy doen en doen en doen.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post