In my sitkamer, langs die klavier by die skuifdeur, staan my groot kersboom. Die liggies skyn helder en flikker vrolik met sagte glans-tosselstringetjies oor elke takkie gedrapeer en daar is blink balletjies ooraloor. Heelbo op die tippietop is ‘n groot rooi strik. Hierdie helder liggieboom geniet bestaansreg in my huis vir die volle duur van die hele Desembermaand en dit is tog so betowerend mooi om te aanskou. Hier binne in my huis, word die skoonheid daarvan selfs skerper soos wat elke dagligstraaltjie plekmaak vir inrollende vlae van pikswart nagdonkerte daarbuite.
Op die vooraand van Kersfees 2024 wil ek jou graag op ‘n kort gedagtereis neem…
Daardie eerste keer wat my kersboom opgestel is in 2018. Dit was ‘n goeddeurdagte kersgeskenk van my geliefde blou-oog blonde Carli-kaalvoetkind. Sy het net drie maande tevore die eerstekeer-mamma van Micah, my eerste kleinkind, geword. Mooiste klein babaseuntjie, groot pragtigste kersboom en die oorvloedigvreugdevol-dankbare hart van ‘n nuwe Nana.
Die derde keer wat my kersboom opgestel is in 2020. ‘n Stillerige Kersfees rondom die groot liggieboom, vol kommer oor kanker en COVID. ‘n Nare tyd van stadige insinking van die wrede werklikheid soos wat die daaglikse gevoellose dobbelsteenrollery van volbrein-kernbestraling inwerk op ‘n kwesbare kankerbrein.
Die vierde keer wat my kersboom opgestel is in 2021. Die liggieboom staan alleen in die voorhuis terwyl ons Kersfees vier in die tuinwoonstel, rondom my geliefde Carli se sterfbed. Kanker en kranksinnigheid dreig om ons uitmekaar te skeur. My geliefde Carli-kaalvoetkind sterf presies een maand na Kersfees. My geliefde driejarige Micah word ‘n mammalose halwe weeskind en my geliefde eersgebore seun, Daniel, word ‘n alleenouer-wewenaar op 28.
Die sesde keer wat my kersboom opgestel is in 2023. Kort voor Kersfees kuier ons saam met my geliefde kleinsus, Let, en my geliefde larger-than-life swaer, Piet rondom my groot liggieboom. Dis kosbare familietyd van skaterlag, skertse en speletjies. My hart is vol van dankbaarheid vir geliefdes soos Piet en Let en die wonderbaarlike gespaarde lewens van my geliefde dogter, Annie, en geliefde kleindogter, Addie. Maar diep in Piet se oë sien ek ‘n hartseer-moegheid en wanneer ons mekaar uiteindelik totsiens groet, oorweldig ‘n yskoue, noodlotdonkerte my hart, die rou hartseer gaan sit soos ‘n reuse rots met skerp punte in my keel en ek kan dit nie afgesluk kry nie. Dit was inderdaad die laaste keer wat ons mekaar sou sien.
Môre is Kersfees 2024 en my kersboom staan opgestel vir die sewende keer. Die skoonheid van die groot helder liggieboom betower my steeds, maar ek kyk soveel dieper. My oë blink, maar dis nie vanuit betowering nie. Dis vol trane…. Trane van dankbaarheid oor die wonderlike groei van my geliefde AssieTribe met die toevoeging van nog ‘n dogter, Megan, en nog ‘n kleinseun, Alex, in 2024. Trane van dankbaarheid oor die onvoorwaardelike liefde van kosbare mense in ‘n geloofsfamilie waar ek waarlik belonging gevind het. Maar ook ‘n stortvloed van trane oor al die pyn en lyding in hierdie stukkende wêreld van ons. Die pyn en lyding van my geliefde Let, haar teer oopwond, daar waar die helfte van haar weggeskeur is. Iewers in die Krugerwildtuin probeer die dapperste halwe vrou op die planeet haarself bymekaarskraap om alleen met haar lewe voort te gaan. Vandag oor ‘n week, op nuwejaarsdag, sal dit presies nege maande wees sedert Piet se afsterwe. Dieselfde tydsduur as die geborge ontwikkeling van ‘n menselewe in ‘n swangerskap. Maar in plaas van die vreugde oor nuwe lewe, is daar net rou hartseer oor die onuitspreekbare leemte van ‘n menselewe wat geëindig het. Die pyn en lyding van my geliefde Daniel, my begaafde ruimsagtehart eersgebore seun wat so lanklaas die werklike warmte van dagligstraaltjies gevoel het en wie spartel en sukkel om sy pad te vind in ‘n pikstikdonker doolhof met ‘n papbatteryflitsie wat al hoe flouer skyn. Nie my hartverskeurende liefde vir Let en Daniel of die helder liggies van my groot kersboom kan hulle pyn en lyding verlig of wegneem nie. Inteendeel, nie eers al die menseliefde of kersliggies van die ganse aarde bymekaargesit kan dit vir hulle doen nie. Carli en Piet se plekke is leeg en sal vir altyd leeg bly aan hierdie stukkende kant van die ewigheid.
Terwyl ek huilend staar na my mooi Carli-kersboom, word ek oorweldig deur die besef dat kersfeesliggies en my hartverskeurende hartseer my eintlik daaraan herinner dat die Bron van egte LIG en LIEFDE nêrens aan hierdie stukkende kant van die ewigheid gevind kan word nie. Dit hang nie aan ‘n kersboom of is in ‘n gevoel tussen mense bymekaar nie. Kersfees is die herdenking van die geboorte van Jesus Christus, Seun van God, Verlosser wat die verlore mensdom vrygekoop het van ewige donker en dood. Hy IS LIG. Hy IS LEWE. Let se LIG en LEWE. Daniel se LIG en LEWE. My LIG en LEWE. Jou LIG en LEWE. Hy is by elkeen van ons aan hierdie stukkende kant totdat ons eendag aansluit by Carli en Piet in die volmaakte kant van EWIGE LIG EN LEWE.
“Stille nag, Heilige nag
Jesus Heer, voor U mag, voor U ryk
Moet die duisternis swig
Tot in ewigheid bly U die LIG”
Geseënde Kersfees! Mag hierdie Kersfees jou ook oorweldig met ontnugtering!






Jou blog-geskrif is so ontroerend… so seer, so realisties, so gelowig. Dit is so seldsaam: geen maklike geestelike sousie nie. Stof tot diepe nadenke. Hierdie is werklik toegepaste teologie, of die werklikheid wat roep na ware teologie. Baie, baie dankie!
Dankie Maretha.