DOODSVONNIS DINSDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Oordenking # 4 : Jesus onderrig die mense terwyl die godsdienstige leiers Hom konfronteer. Dis 3 dae voor Sy kruisdood op GOEIE VRYDAG.**

 

AGTERGROND:

Die godsdienstige leiers (Fariseërs en Skrifgeleerdes) het hulleself reeds van die begin van Jesus se bediening af verset teen Sy gedrag en optrede. Hulle het gereeld koppe gestamp met Hom wanneer Hy, in hulle oë, die reëls verbreek het, soos om op die Sabbat te genees of om die rituele handewassery te verontagsaam. Jesus het hulle in die bek geruk daaroor dat hulle so skreeu-teen-hemele gesteld is op uiterlike rituele terwyl hulle ernstig gestremd was ten opsigte van belangriker sake soos die innerlike reinheid van bedoelings en gedagtes. Hulle was ‘n spreekwoordelike prentjie van BO BLINK, ONDER STINK.

Die godsdienstige leiers was obsessief daaroor om wette en tradisies te onderhou wat mense onderdruk, uitgesluit en BEPERK het. Daarenteenoor het Jesus se bediening ALLE mense ingesluit en ook uitgewys dat die wet bedoel was om mense met God en mekaar te VERSOEN. Jesus het die prioriteite van God se Koninkryk uitgelig en mense geleer van geloof, geregtigheid en barmhartigheid.

Jesus het ware geregtigheid weerspieël deurdat hy ALLE mense gelyk geag het en die minderwaardiges se menswaardigheid herstel het. Hy was nederig en diensbaar en gehoorsaam aan Sy Vader. Daarmeesaam was Sy instelling van ‘n “nuwe” gebod om God eerste en bo alles lief te hê en dan, tweede, om medemense lief te hê, eintlik ‘n vervulling van Ou Testamentiese opdragte, soos gespreek deur die profete Miga en Hosea:

“Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”‭
‭Miga‬ ‭6‬:‭8‬ ‭AFR20‬‬

“want Ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God, eerder as brandoffers.”
Hosea‬ ‭6‬:‭6‬ ‭AFR20‬‬

Die godsdienstige leiers se weersin daarin om Jesus se leringe van genade en naasteliefde te omarm het hulle uiters vyandig teenoor Hom gemaak, want eintlik het dit hulle status en gesag bedreig. Hulle moes die reëls afdwing en VERSTERK om die mense te beheer en te BEPERK. Terwyl Jesus, met die hoogste vorm van genade en naasteliefde, mense uiteindelik VRYGEKOOP het om hulle met God en mekaar te VERSOEN.

 

BETREE DIE VERHAAL:

Vroegoggend vertrek Jesus en Sy dissipels weer van Betanië af Jerusalem toe, na die tempel toe waar groot skares ywerige mense reeds van vroegdag af saamtrek om na Hom te luister en van Hom te leer. Soos gister, loop elke reisiger met sy eie gedagtes en worstel, maar daar is tog enkeles wat geselsies aanknoop. Die stemming is egter gedemp-ernstig en die klank van die praatstemme is net-net harder as fluister.

Jesus onthou gistermiddag se tempelvraag en, meteens, is daar ‘n yslike knop in Sy keel wat Hy nie kan afsluk nie. Daarmeesaam kan Hy ook die warm, onwillekeurige, trane voel afloop teen Sy wange af. [Ai tog, Jerusalem, as jy maar net wou sien en hoor…. Jy het nie net jou rug gedraai op Vrede en Wysheid nie, jy het Hulle vermoor! Nou is daar net vernietiging vir jou oor!] Drie van Sy dissipels het Hom eenkant toe geroep en uitgevra oor die tempel terwyl hulle opgemerk het dat dit ‘n indrukwekkende struktuur is. Jesus se antwoord het hulle sprakeloos gelaat.

“Dit gaan alles platgeslaan word. In die stof en puin sal geen steen bo-op ‘n ander oorbly nie!”

Jesus loop alleen voor en vir ‘n rukkie langer loop ‘n bestendige stroompie trane oor elkeen van Sy wange. Hy is tog so deeglik bewus daarvan dat oor 3 dae van nou af, gaan die Romeine eers die lewende Tempel vernietig en, daarna, oor ongeveer 35 jaar van nou af, ook die tempel waarheen hulle nou oppad is. Dit kon so anders gewees het as daar nie soveel weerbarstige mense was wat gekies het om begriploos te bly nie. Hy het hulle steeds so hartverskeurend lief en wou hulle ook so ontsettend graag onder Sy vlerk bymekaargemaak het, maar hulle horende ore is doof en hulle sienende oë is blind… Maar Sy tyd op hierdie aarde raak min en daar is nog vele gewillige mense wat gretig is om na Hom te luister en by Hom te leer. Met die agterkant van Sy hand vee Hy oor Sy wange voordat Hy terugval om by die twee dames agter Hom aan te sluit.

Die skares op die tempelterrein is verheug wanneer Jesus opdaag en Hy val sommer dadelik weg met die vertelling van verskeie lewensveranderende gelykenisse. Een van hierdie gelykenisse handel oor ‘n wingerdeienaar wie se land verhuur word aan huurders wat versuim om die huur te betaal. Die bose huurders vermoor al die eienaar se boodskappers en, uiteindelik, vermoor hulle ook die eienaar se eie seun. Met hierdie gelykenis ontbloot Jesus eintlik die ware karakters van die godsdienstige leiers en hulle spreekwoordelike torre spring van hulle bestendigheidsproppe af. Hulle is buite beheer bedreig en stuur hulle swaargewigte in om, met slinkse strikvrae, Jesus se eer uit te daag. Maar Jesus se antwoorde haal die wind uit hulle seile uit terwyl die skares Hom met waarderende applous aanmoedig.

Die gevolglike vernedering vanuit Jesus se uitklophou-antwoorde op die godsdienstige leiers se meerderwaardig-aanstellerige vrae veroorsaak ‘n noodlottige krenk in hulle eer en dit voltrek, met onmiddellike effek, Jesus se doodsvonnis. Daar is nou ‘n amptelike kontrak op Sy lewe uitgesit, maar die lafhartige uitvoerende gesag gaan dit op ‘n agterbakse en onderduimse wyse moet uitvoer, want hulle is bang vir die groot skare mense wat Jesus ondersteun en volg.

Oppad terug Betanië toe om weer by Lasarus se huis te gaan oornag, antwoord Jesus geduldig al Sy dissipels se kommervrae aangaande die eindtyd en Sy wederkoms ondanks al die besonderhede wat Hy net enkele minute tevore met almal in Jerusalem gedeel het. Hulle opsigtelike onvermoë om Hom te verstaan, verstom Hom taamlik. Net voordat Hy die toepaslike frustrasie binne-in Hom voel opbruis, kyk Hy om en sien Hy iets wat onmiddellik Sy hart versmoor en Sy derms knoop. Die onuitspreekbare hartseer in Sy ima (ma) se oë terwyl sy die ander vroue troos terwyl hulle saggies huil. Dit blyk dat die bose kontrakpeloton (evil hit squad) alreeds Sy weerloosste geliefdes geteiken en probeer intimideer het. ‘n Beduidend groter, harder en skerper knop beset skielik Sy hele keel en dit voel asof dit Hom gaan verwurg. [Vader, nie My wil nie, maar U wil geskied.]

 

§—Oordenking # 5 : HOOGVERRAAD WOENSDAG volg môre—§

 

“Hy het daagliks op die tempelterrein onderrig gegee. Die leierpriesters, die skrifkenners en die volksleiers wou Hom om die lewe bring, maar hulle kon nie ‘n manier vind om dit te doen nie, omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.”‭
‭Lukas‬ ‭19‬:‭47‬-‭48‬ ‭AFR20‬‬

“Jesus het bedags op die tempelterrein onderrig gegee, maar snags het Hy uitgegaan om op die Olyfberg te oornag. En die hele volk het vroeg opgestaan om op die tempelterrein na Hom te gaan luister.”‭
‭Lukas‬ ‭21‬:‭37‬-‭38‬ ‭AFR20‬‬

“‘Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie.’ Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.’”
Matteus‬ ‭23‬:‭37‬, ‭39‬ ‭AFR20‬‬

“Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees, “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.”
Markus‬ ‭12‬:‭10‬ ‭AFR20‬‬

“Hy het gesê: ‘Gaan sê vir hierdie volk, ‘Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’ Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!’”‭
Jesaja‬ ‭6‬:‭9‬-‭10‬ ‭AFR20‬‬

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. MJ Maartens

    ”Vader, nie My wil nie, maar U wil geskied….” Wanneer ek dink hoe almal van ons pyn wil uitdoof, pyn wil laat verwyder, pyn in afgryse ontwyk [en hoe ek nie eens meer na die uitbeelding van pyn in flieks wil kyk nie], dan galm Jesus se gebed van oorgawe byna onhoudbaar deur my wese. Is dit tot ons vertroosting dat Jesus die dood ook gevrees het, maar nie ‘n stille dood nie— ‘n pyndood? Die primêre vertroosting is dat HY ons vrees in Homself beleef het en verstaan. Maar verder… verder laat die sondevrag wat Hy geweet het Hy sou moes dra, met al die straf wat dit verdien, op HOM, my letterlik sprakeloos. Dankie, Lulu, dat jy ons weer na sy lyding en ons bevryding begelei.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply
  2. Charles James

    Dankie Lulu vir mooi samevatting van die Dinsdag gebeure. Veral die mooi uitbeelding van die wit gepleisterde graf “kerkleiers”.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Charles!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post