SWEEPKLAP MAANDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Oordenking # 3 : Jesus vervloek die vyeboom en klap die sweep by die tempel. Hy leer en bedien ook die mense. Dis 4 dae voor Sy kruisdood op die GOEIE VRYDAG.**

 

AGTERGROND:

Die tempel was die Jode se aanbiddingsplek in Jerusalem, ‘n gebou wat bestaan het uit 5 konsentriese gedeeltes. Die kern in die middel het die ALLERHEILIGSTE verteenwoordig en slegs die hoëpriester kon een keer per jaar daar ingaan. Rondom die kern was die HEILIGDOM waar slegs priesters kon ingaan. Die volgende gedeelte was die VOORHOF VAN ISRAELIETE waar Joodse mans kon ingaan. Die volgende gedeelte was die VOORHOF VAN DIE VROUE waar Joodse vroue kon ingaan. Die heel buitenste gedeelte was die VOORHOF VAN DIE NASIES (COURT OF THE GENTILES) waar nie-Jode (heidene) kon ingaan.

Lees hier hoe die profeet Jesaja die tempel beskryf as God se huis van aanbidding:

“hulle sal Ek na My heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in My huis van gebed. Hulle brandoffers en maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op My altaar. Ja, My huis sal genoem word ‘n huis van gebed vir al die volke.’”
Jesaja‬ ‭56‬:‭7‬ ‭AFR20‬‬

God se hart was, dus, van die begin af dat die tempel ‘n plek van aanbidding tot Hom vir ALLE nasies sou wees. Die VOORHOF VAN DIE NASIES was toegewy as ‘n plek waar heidene onderrig kon word sodat hulle tot God kon bekeer en Hom dan daar aanbid.

In die tyd van Moses, toe die tabernakel (die voorloper van die tempel) voltooi was, kon Moses nie daar ingaan nie, want God het dit met ‘n wolk bedek terwyl Hy dit gevul het met Sy heerlikheid:

“Die wolk het die Tent van Ontmoeting bedek en die heerlikheid van die Here het die tabernakel gevul. Moses kon nie in die Tent van Ontmoeting ingaan nie, omdat die wolk daaroor vertoef het en die heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het.”
Eksodus‬ ‭40‬:‭34‬-‭35‬ ‭AFR20‬‬

In die tyd van Salomo, toe die tempel voltooi was, kon die priesters nie daar ingaan nie, want God het ook dit met ‘n wolk bedek terwyl Hy dit gevul het met Sy heerlikheid:

“Toe die priesters uitkom uit die heiligdom, het ‘n wolk die tempel van die Here gevul. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul.”‭‭
1 Konings‬ ‭8‬:‭10‬-‭11‬ ‭AFR20‬‬

Dit was ongetwyfeld Maria se grootste eer en voorreg om ingelig te word dat sy lewe gaan skenk aan die Seun van God, maar sy wou van die engel Gabriël weet hoe haar Baba verwek sou word sodat sy, ‘n maagd, kon swanger word:

“Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal Seun van God genoem word.”
Lukas‬ ‭1‬:‭35‬ ‭AFR20‬‬

Die oorskadu in Lukas en bedek in Eksodus vertaal na dieselfde Griekse woord episkiazō (die Griekse vertaling van die oorspronklike Hebreeuse woord kāsâ in die Septuagint) is wat spesifiek verwys na ‘n invulling van God se teenwoordigheid/heerlikheid, net soos 1 Konings dit ook beskryf.

  • God se heerlikheid was in ‘n tent, die tabernakel.
  • God se heerlikheid was in ‘n gebou, die tempel.
  • God se heerlikheid was in Maria, ‘n mens, binne-in wie Hy mensgeword het. Jesus het die nuwe Tempel geword.

 

BETREE DIE VERHAAL:

Jesus en Sy dissipels vertrek vroegoggend vanuit Betanië na Jerusalem toe. Hulle is oppad tempel toe. Met hulle aankoms in Jerusalem, merk hulle hoe die atmosfeer drasties verskil van hoe dit gister was. Daar heers skielik ‘n aanvoelbare spanning. Die vrolike lofgesange van die mense het plek gemaak vir ‘n soort onheilspellende doodsmars-dreun van die kant van die godsdienstige leiers af.

Net voordat hulle by die tempel aankom, merk Jesus ‘n vyeboom. Hy stap nader om vye te pluk, want Hy is honger. Daar is nie ‘n enkele vy aan die boom nie, dis heeltemal vrugteloos, want dit is nie die boom se tyd om vrugte te dra nie. Daar was ‘n tyd aan die heel begin toe God alles volmaak geskep het waar bome vrugte regdeur die jaar gedra het en daar gaan weer so ‘n tyd kom aan die heel einde, in die ewigheid. Maar hierdie onvrugbare vyeboom staan spreekwoordelik tussen die vrugbare skeppingsboom en die vrugbare ewigheidsboom. Jesus vervloek die boom omdat dit verteenwoordigend is van stukkend, gebrek en verval in hierdie wêreld. Die vernietiging vanuit mense se selfsug en magsbeheptheid veroorsaak gebrek en verval en dit maak Hom smoorkwaad. Maar die seer en stukkend van weerlose mense, as gevolg daarvan, breek steeds Sy hart.

By tempel aangekom, hoor Jesus dadelik die kattebasaar-geraas van wat lyk soos ‘n markplein opgemaak uit smoustafels en geldruilstalletjies. Maar dit is NIE ‘n markplein nie, dis die VOORHOF VAN DIE NASIES van die tempel. Dis so digbevolk dat daar geen plek is om heidene te onderrig nie en dis so rumoerig dat niemand God daar kan aanbid nie. Jesus se onsteltenis oor die herhaalde ontheiliging van die tempel bereik breekpunt en Hy is woedend oor die moedswillige astrantheid van geestelike leiers wat van beter behoort te weet. Met ‘n sweep in Sy hand, neem dit slegs ‘n paar klapslae vir verontwaardigde oortreders om te laat spaander terwyl Hy ook ‘n paar tafels omgooi en ‘n paar hokke skud. Jesus reinig die tempel van die onheiligheid, maar Hy stel dit nie weer in diens nie. Inteendeel, Hy ontmantel (decommission) dit heeltemal, want Hy IS die Tempel. Die priesterhoofde en skrifgeleerdes maak geen geheim daarvan dat hulle opgeklitstheid met Jesus se optrede nou in resiesrat oorgeskuif het en dit draai die volumeknoppie van die doodsmars-dreun ‘n paar stellings harder. Hulle wil Hom dood hê.

Terwyl Jesus daar op die tempelterrein is, kom blindes en verlamdes na Hom toe terwyl kindertjies luidkeels Sy lof besing. Hy maak die blindes en verlamdes gesond terwyl die kinderlofprysing Sy hart vul met plesier en dit blaas die haatvlam van die priesterhoofde en skrifgeleerdes net nog verder aan. Hulle konfronteer Hom oor die kinders se lofprysing en Hy antwoord hulle:

“Het julle nog nooit gelees hoe die Psalmdigter skryf nie, ‘Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig’?”

Jesus maak oogkontak met enkele van die kwaai godsdienstige leiers voor Hom. Dit is hulle wat ‘n rukkie gelede ook teenwoordig was toe Hy die mense geleer het dat geringe kindertjies die belangrikste in die Koninkryk van God is. Hy weet dat hulle dit onthou, want Hy kan sien hoe walg die herinnering daaraan, hulle. Jesus het daardie dag die status van “veragtelike” geringstes verhef tot vêr bo hierdie vername geleerdes se selfopgelegte binnekring-belangrikheidstatus. Hulle het hulleself toe reeds in ‘n krul getrek daaroor en vandag is daardie krul ‘n gekoekte kroesbal van vurige bitter wraaksug. Jesus verskuif Sy aandag terug na die ontvanklike mense terwyl die krultrek-kaders se onderlangse brommery die doodsmars-dreun versterk.

Teen laatmiddag keer Jesus en Sy dissipels weer terug Betanië toe om by Lasarus se huis te gaan oornag. Oppad word daar selfs minder gesels as vanoggend, want die gewigtigheid van gebeure weeg swaar in hulle harte en hulle verstande werk oortyd om te probeer sinmaak daaruit.

 

§—Oordenking # 4 : DOODSVONNIS DINSDAG volg môre—§

 

“Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af ‘n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: ‘Mag niemand tot in ewigheid ooit weer ‘n vrug van jou af eet nie!’ Sy dissipels het dit gehoor.”
Markus‬ ‭11‬:‭12‬-‭14‬ ‭AFR20‬‬

“Jesus het die tempelterrein binnegegaan en almal wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, uitgejaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, ‘My huis sal ‘n huis van gebed genoem word’. Maar julle het daarvan ‘n rowerspelonk gemaak!” Blindes en verlamdes het daar op die tempelterrein na Hom gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Toe die leierpriesters en skrifkenners die wonderbaarlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat op die tempelterrein uitroep, “Hosanna vir die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig en het vir Hom gesê: “Hoor jy wat sê hierdie kinders?” Maar Jesus antwoord hulle: “Ja, het julle nog nooit gelees nie, ‘Uit die mond van kleuters en suigelinge het U lof vir U laat opklink’?” Hy het hulle verlaat, uit die stad uit na Betanië gegaan, en daar oornag.”
Matteus‬ ‭21‬:‭12‬-‭17‬ ‭AFR20‬‬

“Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig. Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak.”
Psalms‬ ‭8‬:‭2‬-‭3‬ ‭AFR20‬‬

“Hy het toe ‘n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan en gesê: ‘Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.’”
Matteus‬ ‭18‬:‭2‬-‭5‬ ‭AFR20‬‬

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    God se heerlikheid was in ‘n tent, die tabernakel.
    Vir hierdie perspekties op skrif dank ek die HERE, Lulu. Sal die tempel in Jerusalem ooit weer herbou word? Mag Jesus Christus, die Een in wie, deur wie en tot wie ons nou toegang tot die Vader het, dit verhoed: ”God se heerlikheid was in ‘n gebou, die tempel.
    God se heerlikheid was in Maria, ‘n mens, binne-in wie Hy mensgeword het. Jesus het die nuwe Tempel geword. ” Seën vir Lulu, HERE. AMEN.
    Jesus het die nuwe Tempel geword.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie vir jou waardering en gebed, Maretha! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post