PALMSONDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Oordenking # 2 : Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem gebeur op hierdie Sondag. Dis 5 dae voor Sy kruisdood op GOEIE VRYDAG.**

 

AGTERGROND:

Ongeveer drie jaar gelede het Jesus Sy openbare bediening begin deur verskeie dissipels te roep om Hom te volg. Hulle is nie die podiumpresteerders of balkiebegaafdes van die samelewing nie, hulle is gewone mense wat alles gelos het om saam met Hom te reis terwyl Hy hulle leer.

Jesus het dit van die begin af duidelik gemaak dat Hy gekom het om te bedien en nie om bedien te word nie. Hy het ooraloor verkondig dat Hy nie gekom het vir gesonde, gewilde en goeie mense nie, maar vir die minderwaardigstes – die weerloosste wurmmense van die samelewing. Die siekes. Die blindes. Die dowes. Die doofstommes. Die kreupeles. Die verlamdes. Die besetenes. Die vroue. En uiteindelik ook die nie-Jode (heidene).

Die swaarkry en lyding van die vertrapte randfigure wat deur die samelewing weggegooi is, het Jesus nog altyd aangegryp en dit ontwaak splagchnizomai-meegevoel diep binne-in Hom. Hy sien hulle raak, Hy raak aan hulle, Hy connect met hulle, Hy maak hulle gesond, Hy bevry hulle en Hy herstel hulle menswaardigheid. Hulle dien en bedien Hom met volle, diep deursigtige oorgawe. Hy bring nie net HOOP vir hulle nie, Hy word hulle HOOP.

Hy IS die Messias, die Een op Wie die Jode geHOOP het, maar Sy bediening dui duidelik aan dat Hy nie lyk of optree soos wat hulle van Hom verwag het nie en Hy gooi keer op keer die spreekwoordelike appelkar van tradisies en mense-reëls heeltemal om. Sy heel eerste openbare bekentenis as Messias verklaar Hy aan ‘n Samaritaanse vrou en haar gevolglike getuienis bekeer bykans ‘n hele dorp.

Die nuus van Jesus se wondertekens en leringe het vroeg reeds vinnig, soos veldbrande, versprei en mense van oraloor het na Hom toe gestroom, maar dit het die godsdienstige leiers toenemend begin bedreig. Hulle kan Hom nie beheer nie en hulle aanvanklike ongemak het gegroei tot oorweldigende vrees. Die laaste dae van Sy bediening op aarde het nou aangebreek en die bedreiging wat Hy vir hulle inhou, is reeds baie naby aan ‘n dodelike breekpunt.

 

BETREE DIE VERHAAL:

Jesus en Sy dissipels vertrek uit Betanië uit oppad Jerusalem toe. Daar is waarskynlik weinig min small-talk-chit-chat tussen die dissipels, want hulle herkou nog ernstig aan dit wat gisteraand by Lasarus se huis gebeur het en wat Jesus daaroor gesê het. ‘n Hele ent voor Jerusalem, stuur Jesus solank twee dissipels vooruit stad toe om ‘n spesifieke jong donkie te gaan haal en na Hom toe te bring. Die twee dissipels voer Jesus se opdrag getrou uit en hulle bring die donkie na Hom toe. Teen hierdie tyd is Jesus en Sy geselskap aan die buitewyke van Jerusalem.

Jesus ry Jerusalem binne op die rug van hierdie donkie, die nederige vredesdier waarop niemand nog ooit gery het nie. Daar heers groot opgewondenheid onder die skare mense wat Hom verwelkom in Jerusalem. Die oorgrote meerderheid van hulle is Jode en hulle oorweldigende vreugde kom vanuit die vervulde begeerte om hulle Messias uiteindelik te kan verwelkom nadat hulle reeds vele geslagte lank op Hom wag. Hulle ontvang Hom met ‘n koninklike ontvangs soos wat koning Dawid destyds ontvang is en in die pad, voor die donkie, gooi hulle palmtakke en klere neer terwyl hulle triomfantelike eerbewys-krete en lofgesange tot Jesus rig.

“Hosanna aan die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Jesus op ‘n donkie, teenstrydig anders as koning Dawid destyds op ‘n indrukwekkende oorlogshings, kom nie lewend terug van ‘n oorlog af waar vyande doodgemaak is nie. Inteendeel, Hy kom om doodgemaak te word sodat Sy kinders lewend uit hierdie wêreld in ‘n volmaakte ewigheid kan instap. Hy gaan die dood oorwin en wanneer Hy weer terugkom, sal die swier van Sy oorlogshings en Koninklike ontvangs, in die heel oortreffendste trap wees!

Maar Jesus is ook heeltemal bewus daarvan dat daar onder die Jode die verwagting bestaan dat Hy, as hulle Messias, ‘n oorlogsheld is wat hulle van die juk van Romeinse oorheersing gaan bevry. Die dissipels in Jesus se reisgeselskap weet reeds dat Hy nie ‘n oorlogsheld is nie, maar hulle herstel nog van gisteraand se “skoknuus” oor Sy begrafnis en ander in die skare wonder oor Sy oorlogvoeringstaktiek en weermagsamestelling.

Daar gaan GEEN Jode vs Romeine oorlog wees nie. Die Joodse godsdiensleiers gaan hulle eie Messias uitlewer aan die Romeine en hulle gaan Hom doodmaak.

Soos wat Jesus deur die stad ry, maak Hy oogkontak met soveel mense as wat vir Hom moontlik is. Hy sien hulle raak en Sy hart is vol deernis vir hulle. Daar is diegene met wie Hy ‘n diep connection deel omdat Hy hulle lewens onherroeplik verander het. Hulle geloof in Hom is onwrikbaar en hulle is uitverkoop daaraan om Hom te dien. Daar is diegene wat Hom gevolg het, van Hom geleer het en vele van Sy wonderwerke aanskou het. Hulle geloof in Hom is sterk en hulle is ywerig om Hom te dien. Daar is ook diegene wat gedeeltelik deel gehad het in Sy leringe en sommige van Sy wonderwerke aanskou het. Hulle wil graag heelhartig in Hom glo, maar die geraas van verontwaardigend-bedreigde godsdiensleiers laat hulle twyfel en hulle kan Hom nog nie met volle oorgawe dien nie. Vandag is egter die dag wat almal van hulle, in eengesindheid, hulle stemme saamvoeg om Jesus, hulle Messias, te loof en prys.

Maar in die skare is daar ook diegene wat gehoor het van Sy leringe en wonderwerke en selfs daarvan gesien en beleef het, maar wat hulle harte verhard het. Hulle het besluit dat Hy ‘n vals profeet, towenaar en selfs die duiwel self is. Hulle verwerp Hom, Sy teenwoordigheid bedreig hulle en die doodmaakplan-ratte in hulle koppe draai teen die spoed van wit lig. Hulle is stil en neem die gebeure noukeurig waar.

Die optog eindig by die tempel waar Jesus eers ‘n rukkie vertoef om rond te kyk. Daarna vertrek Hy en Sy dissipels terug Betanië toe om by Lasarus se huis te gaan oornag.

 

§—Oordenking # 3 : SWEEPKLAP MAANDAG volg môre—§

 

“Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels met die opdrag: ‘Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle ‘n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ Hulle het gegaan en ‘n donkievul gevind, vasgemaak by ‘n deur buite op die straat, en hom losgemaak. Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: ‘Waarom maak julle die donkievul los?’ Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep: ‘Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom, dié van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste!’ Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf.”‭
‭Markus‬ ‭11‬:‭1‬-‭11‬ ‭AFR20‬‬

“Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was ‘n wit perd! Hy wat daarop sit, word Getrou en Waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë was soos ‘n vlammende vuur, en op Sy kop was daar baie krone. En Hy dra ‘n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. Op Sy klere, by Sy heup, is ‘n Naam geskryf: ‘Koning van die konings, en Heerser van die heersers’.”
Openbaring‬ ‭19‬:‭11‬-‭14‬, ‭16‬ ‭AFR20‬‬

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. Charles James

    Baie dankie Lulu vir die verfrissende insigte oor Jesus se intog in Jerusalem. Ook die mooi kontras tussen die Messias en Dawid se koningskap.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Charles!

      Reply
  2. MJ Maartens

    Wat my die diepte geraak het, Lulu, is jou suiwer Skriftuurlike stelling dat Jesus dit van die begin af duidelik gemaak het dat Hy nie gekom het om bedien te word nie, maar om te dien. Dat die Seun van God, God, die Seun, gekom het om uitgeworpenes, randfigure en ongerekendes te dien soos wat geeneen van ons hulle nog ooit gedien het nie. Terwyl ek dit skryf, dink ek aan eie selfverheffing: wat maak MY anders as ”n uitgeworpene, ‘n onaanvaarbare sondaar voor GOD? Dankie, HERE, vir hierdie oordenking.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post