Wanneer sommemaak nie saakmaak nie!
.
Vir die volgende paar weke is OMGEE, AL KOS DIT ONS die gemeente-tema van ons bedieningsbedrywighede in my geliefde Pellissier Gemeente. Ek deel graag vandag my gedagtes rondom hierdie tema.
.
Die meeste van ons is reeds van kindertyd af vertroud met die konsep van GEE en KRY. As daar GEE is, moet daar mos KRY ook wees. Ons GEE geskenke en/of skenkings wanneer ons GEE sodat iemand anders kan KRY. Wanneer ons GEE met die uitsluitlike doel om iets daaruit terug te KRY, is dit ‘n GEE-KRY saketransaksie. Hier is ‘n GEE en KRY in een rigting en dan ‘n terugGEE en terugKRY in die teenoorgestelde rigting. Woolies GEE vir my uitgestalde boksies Lindt-balletjies op hulle winkelrak en ek KRY dit van daar af. By die kassiere GEE ek my geld as terugbetaling en Woolies KRY genoeg van my geld terug om nog vier boksies te bekom om die een te vervang. Ek moes SOMMEMAAK om die koste van my aankoop te bereken voordat ek voortgegaan het met die transaksie. Dieselfde transaksie was uiteindelik bevredigend vir my en beduidend winsgewend vir Woolies.
Daar is wesenlik niks fout met die GEE-KRY beginsel nie, dis immers waarop handeldryf geskoei is. Ongelukkig word dit ook uitgebuit deur die gulsigheid van magshonger invloedryke mense wanneer hulle die GEE-KRY balans manipuleer om sodoende bykans niks te GEE nie, maar bykans alles te KRY.
In ons wêreld slaan die beginsel van GEE-KRY die kitaar en as ons, as gelowiges, eerlik met onsself is, dan dans ons ook maar gereeld op hierdie kitaar se ritme. Met slimmerige SOMMEMAAK-vaardighede, laat ons ons GEE en KRY goed lyk. Daar is die GEE met die versteekte KRY. Dis wanneer ons mildelik geskenke of skenkings GEE en dan met ongeskrewe, onuitgesproke verwagtinge hoop dat ons geskenke, geldelike- of gunsvoordele sal terugKRY. Daar is nie noodwendig iets verkeerd hiermee nie solank as wat ons dit nie voorhou as GEE nie, maar eerder vervang met GEE-KRY. Maar daar is egter ook die kere wat ons ander mense se vrygewige GEE verander in GEE-KRY in. Dit gebeur wanneer ons aandring op terugGEE omdat ons ongemaklik met KRY is. Hierdeur regverdig ons ons KRY deur iemand anders te ontneem van die voorreg om net te kan GEE.
.
Jesus se hartklop vir mense is nie op dieselfde ritme as die wêreld se GEE-KRY kitaar nie. By Hom is dit mense wat SAAKMAAK. Hy het reeds lank terug die heel moeilikste graad van SOMMEMAAK uitgevoer voordat Hy Sy lewe geGEE het as hoogste losprys vir menselewens. Sy opdrag is nie net dat ons met vrygewigheid GEE aan mekaar en ander nie, maar dat ons vir mekaar OMGEE. GEE is moontlik sonder OMGEE, maar OMGEE sonder GEE is nie moontlik nie. OMGEE verg dat ons nie net ons beursies, stoorkamers of ingesteldheid oopmaak om geld, goedere of guns te GEE nie, maar ook ons harte oopmaak om kwesbaar genoeg te wees OM ‘n stukkie van onsself rondOM dit wat ons GEE te bind voordat ons dit GEE. OMGEE verg dat ons betrokke en teenwoordig is in ander mense se lewens. Dit is ontfermend en onselfsugtig en word uitgevoer deur middel van liefdesgedrewe dade van GEE.
Wanneer ons GEE-dade aangedryf word deur voorwaardelike phileo (uitgespreek fie-LY-ou) liefde, dan bestaan daar steeds die geneigdheid vir ons om SOMME te MAAK sodat ons moontlik iets terugKRY. Wanneer ons GEE-dade aangedryf word deur onvoorwaardelike agape (uitgespreek a-GHAA-py) liefde, dan is GEE (in die suiwerste vorm) afgesny van KRY en MAAK net die mense (ontvangers) SAAK.
Die natuurwet wat die behoud van materie onderskryf bepaal dat materie nie geskep of vernietig kan word nie, maar slegs verplaas kan word van een vorm in ‘n ander een in. Agape liefde is ‘n bietjie soos materie. Dis ons Skepper se suiwerste liefde wat Hy toeganklik gemaak het vir ons. Ons kan dit nie beheer, stuit, of verander nie, maar ons kan gewillig wees om geleiers daarvan te wees sodat dit deur ons vloei.
As gelowiges het ons ‘n verantwoordelikheid om goeie en getroue rentmeesters te wees met dit wat aan ons toevertrou is. Die inhoud van ons beursies, stoorkamers en selfs die brandstoftenk van ons ingesteldheidsbeheerkamers is begrensd. Dit beteken dat die GEE van ons hulpbronne in ons OMGEE wel vereis dat ons SOMME moet MAAK om, in geregtigheid, gehoorsaam te bly aan ons Goddelike roeping. Maar sodra ons SOMME die SAAK begin oorskadu en/of verdring, dan raak ons OMGEE eintlik maar net GEE.
Soms moet ons SOMMEMAAK aangaande dit wat ons wil GEE, maar die mense vir wie ons wil GEE, MAAK altyd SAAK. Mag ons Here Jesus aan ons die wysheid GEE om altyd die SAAK bo die SOMME te ag sodat ons kan OMGEE soos wat Hy behaag!






Liewe Lulu, hoe nodig is hierdie spesifieke tema in ons geloofslewe op die smal weg anderkant die nou Poort! Diep in ons ou natuur sit die gee-kry beginsel mos nog soos ‘n onkruidplant met ‘n wortelstelsel wat skrik vir niks. Jesus Christus KRY eintlik niks van ons wat ooit aan hemelse standaarde sal beantwoord nie… en Hy gee en gee en gee en gee. Moet asseblief nooit ophou met hierdie faset van jou roeping nie: dat jy die waarheid sal bly skryf. DANKIE!
Dankie liewe Maretha, ek waardeer jou waardevolle deelname en getroue ondersteuning so baie! ❤️