Op julle troudag
.
Aan my liefste kleinsus en haar nuwe huweliksmaat,
.
Vandag is ‘n baie spesiale dag in julle lewens en ek is so dankbaar oor die voorreg wat ek het om dit met julle te kan deel. Ek het hierdie skrywe sekerlik alreeds meer as 20 keer oorbegin, maar die uiteindelike gedagte van ‘n persoonlike briefie, sit net die heel gemaklikste in my hart.
Let, op jou vyftigste verjaardag, Maandag 21 Julie 2025, het ek ‘n huldeblyk aan jou gebring en vandag wy ek hierdie skrywe toe aan jou en Sarel se huwelik en julle lewe saam. Teen die tyd dat ek hierdie gaan voorlees sal julle reeds Mnr en Mev Theron wees – BAIE GELUK!
.
“Om lief te hê en te koester, van hierdie dag af totdat die dood ons skei.” Belofte gemaak deur Parra en Hartjie aan mekaar op 9 Desember 1995:
Die aangrypende, egte liefdesverhaal van Parra en sy Hartjie wat op 27 April 1994 by ‘n stembus, hier in Secunda tydens Suid-Afrika se heel eerste demokratiese verkiesing begin het, is op 1 April 2024 voltrek toe Parra sy laaste asem uitgeblaas het. Op daardie hartverskeurende dag het die dood vir Parra en Hartjie van mekaar geskei. Parra was skielik vir altyd weg en Hartjie moes, met ‘n papbattery-flitsie, in ‘n pikdonker doolhof van rousmart met versmorende lug haar weg vind na ‘n wispelturige stroombaanbreker om die lig van alleenlewe weer aan te skakel. Hartjie kon aanhou liefhê en koester, maar sy kon nie meer deur Parra liefgehê en gekoester word nie. In die donker doolhof moes sy sinmaak uit hierdie winduitslaan-waarheid. Hartjie het die skakelaar gevind en aangeskakel. Die lig het ‘n vertroostende nuwe werklikheid gebring. Hartjie sal altyd vir Parra liefhê en die kosbare herinneringe aan hom, koester. Hartjie sal altyd Parra s’n wees, maar Hartjie is net ‘n stukkie van Sulette. Toe Hartjie die lig aangeskakel het, kon Sulette weer haar lewe hervat en begin om ander stukkies van haarself te ontdek terwyl Hartjie veilig en onbedreigd haar finale harts-ereplekkie ingeneem het.
“Om lief te hê en te koester, van hierdie dag af totdat die dood ons skei.” Belofte gemaak deur Lief en Blom aan mekaar op 26 Julie 2025:
‘n Splinternuwe liefdesverhaal wat op 2 Februarie 2025 op die aanlynplatform Koer begin. ‘n Nuwe stukkie van Sulette word Sarel se mooi blou-oog Blom, die engel waarvoor hy gebid het. Sarel word Sulette se Lief, die nuwe lewe-deel-maatjie-antwoord op haar huilende smeekgebede en die gesondmakende pleister op haar teer hart. Hierdie kosbare liefdesverhaal is vars en nuut en gaan ontvou soos wat Lief en sy geliefde Blom saamgroei in wedersydse liefhê en koester. Watch this space!
.
Ek is hoogs passievol oor die huwelik as die heiligste Goddelike instelling op aarde. Ek glo heelhartig dat niks anders so gesondmakend en geseënd kan wees soos ‘n huwelik wat werk, nie. Let wel, ek het gesê ‘n huwelik wat WERK, nie een wat VOLMAAK is nie! Niks aan die stukkende kant van die ewigheid, is volmaak nie. Eweneens, glo ek dat daar niks anders so vernietigend en vervloek kan wees soos ‘n huwelik wat nie werk nie. Dis ‘n EENheid van TWEE gelykes wat elk ALLES van hulleself gee en bring om mekaar te bedien in ‘n onselfsugtige vennootskap. Daar is geen plek vir Narcissus of sy spieël nie. Dis soos Woolies se meuldoppie-botteltjies growwe sout-en-peper – daar is beide sout en peper in een bottteltjie, maar sout bly sout, peper bly peper en albei is speserye. Dis ook soos ‘n blok Top Deck chocolate – bruin en wit in een blok, maar albei is chocolate. In ‘n huweliksbootjie is daar twee gelyke sitplekke langs mekaar, twee spane en een strategies-geplaasste staanplek vir die bevelvoerende kaptein. Maak Jesus die Kaptein van julle boot en vertrou Hom vir rigtingaanwysing. Gryp dan elkeen ‘n spaan, plant julle sitvlakke in die sitplekke en begin roei. Doen dit so gou as moontlik sodat julle kan leer saamroei in die stil, kalm waters, want die storms gaan kom.
Ek gaan nou ophou preek en verklaar dat ek in julle hoek is as vurigste fan & cheerleader van TeamTheron. Gaan groot voordat julle huistoegaan en CHEERS op ‘n blink toekoms!
.
Met al my liefde van
Julle ousus






Liewe Sulette, Sarel, Lulu, Wouter, Sulette se ouers en elke familielid aan beide kante…hoe diep en diepsinnig is Lulu se huweliksdagboodskap een Sulette en Sarel as huwelikspaar! Hoe eg, hoe eerbiedig, hoe wys en liefdevol! Met ons hele hart bid Hennie en ek julle ook die seën van die HERE toe. Vanoggend vroeg het ek vir Hennie van die VREUGDE in my ouerhuis vertel: ‘n VREUGDE ten spyte van ses hartaanvalle en die sewende, waarmee ons pa beproef is en waaraan hy gesterf het. Daar was die VREUGDE van harpmusiek op ‘n tafelharpie, Sondae ná kerk. Daar was die VREUGDE van spesiale dae met lekker kos. Daar was die VREUGDE van reise na Suid-Wes [Namibië] en Mosambiek [Maputu]. Daar was die VREUGDE van planttyd en oestyd. Daar was die VREUGDE van huisgodsdiens en lagstories in die kombuis. Daar was die VREUGDE van saamwees met die radio aan op Soetmelksvlei, en ‘n bord tuinvrugte as aandete op die skoot. Daar was die VREUGDE van ons pa se gevangenisbediening [as ”gek”polisieman.] Daar was die VREUGDE van harde werk in en om die huis. Weet julle wat, Sarel en Sulette? VREUGDE in ‘n huwelik kan nooit net van een kant en een party af kom nie. As enigeen van die twee sy/haar VREUGDE in God verloor, verdwyn die vreugde uit die huwelik en sal die ander party in rou oor die verlies daaraan wees. Mag God vir julle albei VREUGDE in HOM gee, en dit vir die res van julle lewe in beide van julle laat brand, Liefde, Hennie en Maretha .
Liewe Maretha, baie dankie vir jou kosbare bydrae met deurwinterde wyshede. Jou en Hennie se huwelik van 55 jaar 6 maande en 2 dae WERK so VREUGDEvol mooi en almal van ons kan by julle leer, BAIE DANKIE vir julle deugsame voorbeeld! 🎁❤️