DIE JAMMERSTE JAMMER

POSTED BY

Lulu van Aswegen

van ‘n ma aan haar geliefde kind/ers

 

Ek is so baie jammer…

 

Vir al die kere wat ek nie—

daar was om jou handjie vas te hou en jou lyfie vas te druk nie

Vir al die kere wat ek nie—

die vrees en seer in jou ogies kon raaksien nie

Vir al die kere wat ek nie —

net alles gelos het om langs jou te sit en luister terwyl jy jou hart oopmaak nie

Vir al die kere wat ek—

jou laat voel het dat jy onsigbaar of minderwaardig of ‘n mislukking is

Vir al die kere wat ek—

jou nie eerste gekies het nie

Vir al die kere waar—

my tong skerper as my deernis was

Vir al die kere toe ek—

jou moes glo en dit nie gedoen het nie

Vir al die kere wat ek—

jou laat voel het soos enigiets minder as die onskatbaar-kosbare geskenk wat jy is

 

Vandag kyk ek na jou, ‘n volwasse mens, en ek sien ‘n onskatbaar-kosbare volwassene.

 

Ek kyk ook diep deur jou volwasse oë tot binne-in jou menswees en

ek sien die sprankel van lewensveerkragtigheid ten spyte van al my fenomenale foute en flaters en

ek sien ook die stukkendseerletsels as gevolg van al my fenomenale foute en flaters

 

Niemand van ons kan tyd terugdraai nie, maar ek wil hê dat jy weet dat indien dit moontlik was, ek dinge soveel anders sou doen.

 

Ek wil graag saam met jou reis die toekoms in,

ek wil graag die vlam van jou sprankel aanblaas en

ek wil jou graag ondersteun op jou herstelpad van gesondword van jou stukkendseer.

 

My mamma-hande is nou oumahande en jou kinderhandjies het grootgeword om mamma/pappa-hande te wees vir jou eie kinderlyfies.

Laat jou stukkendseerletsels toe om jou te weerhou daarvan om my foute en flaters te herhaal en

Laat jou sprankel toe om jou te herinner daaraan dat jy jou eie foute en flaters gaan maak, maar dat ons Here se guns, genade en ontfermingsliefde elke oggend nuut en vars is

 

Onthou net asseblief altyd…

Ek is in jou hoek

Ek is liewer vir jou as wat ek ooit in woorde kan uitdruk

EK IS SO BAIE JAMMER!

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post