…aan die stukkende kant van die ewigheid
You ARE the weakest link, goodbye!
Ek vermoed baie sterk dat bykans almal wat hier lees, hierdie woorde nie net onthou nie, maar kan VOEL en HOOR. Dis die skerp woorde wat uitgeskakelde deelnemers aan ‘n TV-vasvraprogram moes aanhoor en dis gewoonlik, met snerpende gevoelloosheid, deur die kilkoue stem van ‘n uitdrukkinglose marmergesigvrou oorgedra. Eina!
Tot en met 2006 het Pluto planeetstatus geniet, maar toe besluit slim sterrekundiges om hierdie status te herroep. Pluto is uit die kring van planete uitgeskop en moes inval by die minderwaardige dwergplanete. Die rede hiervoor kom (met vermaaklike eenvoud) daarop neer dat Pluto ‘n soort ruimte-opgaarder (space hoarder) is wat nie oor die vermoë beskik om sy eie wentelbaan skoon te hou van ruimte-gemors (space junk) nie. Deur antropomorfiese lense gesien….arme Pluto!
My gunstelingkleur is skarlakenrooi, maar ek het onlangs die mooiste pienk papierjoernaal as geskenk ontvang van ‘n kosbare vriendin af. Dit het my ernstig laat nadink oor my eie vooroordele. Die eerste een is dat ek pienk as minderwaardig teenoor rooi beskou — rooi is altyd dreunend en dringend, terwyl pienk stil en saggies is. Die tweede een is dat ek nooit meer met ‘n pen/potlood in my hand skryf op papier nie, ek ‘skryf’ alles op my iPad — my eens tikmasjienvolmaakte handskrif is nou soms net ‘n lelike gekrap en dis ongetwyfeld minderwaardig teenoor iPad se esteties-volmaakte uitleg. Daar bestaan eintlik ‘n nou verbintenis tussen rooi en pienk — pienk is rooi wat met wit vermeng is. Amper asof wit die hardheid van rooi kan versag om pienk te gee. Maar daar is wít en daar is wìt — die eerste bring suiwerheid/egtheid en die tweede plak/verf toe. Ek oorweeg egter net die eerste wit, die een wat nie die werklikheid of die waarheid verbloem, verdraai of vermink nie
Ons bevind onsself in ‘n wêreld met baie rooi — dis die kleur van gevaar, waarskuwing, bedreiging, skuld, mislukking, bloedvergietende geweld, vernedering, vergelding, stilstand, uitsluiting, hitte en verleentheid. Uitgeskakelde deelnemers aan eersgenoemde TV-program word bedien met ‘n groot, rooi, onsigbare GEEN TOEGANG teken wat die doppie klink op verdere deelname en hulle dan huistoe stuur. Pluto het voor 2006 nog op die lys van planete verskyn totdat die sterrekunde-rooipen ingelê is en ‘n groot, rooi kruis deur Pluto getrek is. Die meeste van ons is goed vertroud met die gedagte daaraan dat ons een oomblik opgeneem is in ‘n spesifieke groepering net om die volgende oomblik te ontdek dat ons uitgeskop is. My Apple Watch herinner (rooi waarskuwing) my nogal gereeld daaraan dat my gait unstable is, met ander woorde, ek is nie meer so vas op my nommer-2-voete nie — net so, uitgeskop uit die sirkel van uitnemende balans uit. Dit word egter dieper ingevryf wanneer ek boonop herinner (rooi waarskuwing) word daaraan dat ek nog te jonk is vir die betrokke simptoom — net so, uitgeskop uit die sirkel van aanvaarbare veroudering uit. Dis amper asof hierdie rooi daarop ingestel is om ons te verinneweer en dan te laat uitstaan soos ‘n (rooi) gloeiend-ontsteekte vinger tussen ander gewone en gesonde vingers. Gelukkig hou Apple Watch ook rekord van al my getroue wit-pogings, soos om gereeld te oefen, stadiger/versigtiger te loop en genoeg goeie slaap te kry. Hierdie is sommer net een ligter voorbeeld vanuit my eie lewe ter illustrasie van ‘n verskynsel wat oral voorkom. Rooi bedreig ons sekuriteit, dit veroorsaak pyn en ons staan voor ‘n keuse — óf ons erken die pyn en hanteer dit met wit-pogings, óf ons ontken die pyn en vergeld rooi met rooi.
TV-nuusflitse en koerantopskrifte herinner ons om elke hoek en draai daaraan dat ons pens en pootjies gedompel is in ‘n wêreld waar rooi met rooi vergeld word. Miljoene mense verkeer in pyn as gevolg hiervan. Winskopie-wit-oplossings word op elke platform uitbasuin deur geslepe, winsgedrewe smouse in verskeie vorme van werklikheid (actual, virtual, augmented & artificial). Maar, getrou aan die aard van slangolie-oplossings, is hierdie slangolie-oplossings gereeld nie eers wit nie en meestal glad nie eers oplossings nie. Dis egter die gevaarlike snert wat die smouse van slangolie-geloof kwytraak wat die skerpste in my krop steek. Ek verduidelik graag met ‘n Pluto-vergelyking. Hierdie tipe slangolie bepaal dat Pluto net moet glo dat hy steeds ‘n planeet is en dat hierdie geloof ‘n soort towerstokkie verskaf wat al die wentelbaanhindernisse wegtoor. Kul jou hier, kul jou daar en siedaar! Eintlik trek hierdie misleiding my siel in ‘n skroefklamp vas, want ek het al gesien hoe yslike hindernisse soos lewensverlies, bankrotskap, kanker, rampe en verkragting towerstokkies versplinter en verwoes.
Jesus Christus is die Voleinder van ons geloof, Hy het ons vrygekoop van sonde en dood. Geloof in Hom is geen towerstokkie nie, dit is volledige oorgawe aan Hom en ‘n verootmoedigende verbintenis om Hom te volg. Hy het mensgeword en onder ons kom woon — ‘n Pluto mens met ‘n lewenswentelbaan vol hindernisse. Hy het geen towerstokkie van verwaande magsmisbruik gehad nie, want Hy IS God. In ‘n rooiwarm Jerusalem het ons Verlosser en Vredevors, op die rug van ‘n vaal donkie, aangekom waar Hy verwerp, verlate, verbrysel, vermink en toe vermoor is. Hy het uit die dood uit opgestaan en na die hemel gevaar waar Hy vir ewig verheerlik sal wees. Eendag gaan Hy terugkom op ‘n vlekkelose wit perd, geklee in skarlakenrooi-bloeddeurdrenkte klere en Hy gaan vir ewig regeer in Sy volmaakte Koninkryk sonder hindernisse. Tot dan, terwyl ons in hierdie rooi wêreld, iewers tussen die vaal donkie en die vlekkelose wit perd leef, het Hy vir ons die Heilige Gees, ons Vertrooster en Spesiale Helper, gegee om ons toe te rus met ware wit gereedskap wat menseverstand te bowe gaan — geloof, hoop, liefde en vrede.
Ons Vader in die hemel, laat U Naam geheilig word, laat U Koninkryk kom. So baie dankie vir Jesus se versoeningsgeskenk en die Heilige Gees se geskenkversameling van ware wit gereedskap in ‘n rooi wêreld. So baie dankie vir al my deurwinterde geloofsgenote wat so getrou U rigting aanwys in pragtige pienk waar hulle ware wit bring in ons rooi wêreld in. So baie dankie vir my kosbare vriendin wat die pragtige pienk papierjoernaal aan my gegee het. Help my asseblief om, soos my geloofsgenote, ware wit te bring deur my woorde in ‘n rooi wêreld sodat ek ook pragtige pienk gedagtes kan neerpen met my bewerige hand in onvolmaakte handskrif. In Jesus se kosbare Naam. Amen.






Hierdie was weer baie goed geskryf, diep geraak. Die woorde het my geneem van glimlag tot trane.
Dankie liewe Charnetta!❤️
Hierdie het my net so diep geraak, Lulu. Jy het my pas met ander oë na dié basiese kleur laat kyk. Hoe ROOI, hoe GRYS, hoe SWART maak die mens die aarde. Die kleur van mag en geweld is luid en skel en rooi. Oral sien ons rooi ligte wat die toekoms, ook vir ons nageslag, aanbetref. Maar wanneer ons opkyk, wanneer ons Hom sien vir Wie jy aan ons uitwys, is daar geen grys, swart en geweldsrooi meer nie. Dan sien ons die gewaarborgde toekoms op grond van wat die Lam van God vir ons gedoen het. DANKIE hiervoor, Lulu.
Dankie, liewe Maretha, dat jy saam met my so diep oor die lewe nadink!