met ‘n sin vir humeur* en haar tong innie kies….soortvan
Konstante kuberruimte-knetter
waar kwasi-geleerde kletskouse
met klipkoue harte koorsagtig
kwebbel, kekkel en kraai
Kras oor liefde
Kil oor lewe
Krities oor mense
Ketters van geloof
Kwaadstokend en konkelend
Hulle knoei en kerm en
dan kook, kneus en knoop
hulle die waarheid
Uit die keurgraad konkelaars,
is daar die kwakpredikers—
hulle klits die kwaadkliere van
gewone gelowiges die styfste op
Bangbroeke en lafaards
wat wegkruip agter die
menswaardigheidskending van
vrouehaat en vetspottery
Hulle verag vroue en
hulle verneder vetties,
want vetsug is mos altyd
gelyk aan vraatsug
Hulle het trofeevroutjies
met oulike kuiltjies
op blosende wangetjies
in onskuldige glimlaggies
Kalm kaalvoetmensies
in krimpelienrokkies,
met krullers in die haartjies
en koekrollers in die handjies
Kinderkapteintjies
en kombuisfeëtjies
wat kook, kleremaak
en kunsklassies kies
Ondergeskik, weerloos,
sagte stil skoonmakers,
skaduwandelaars,
mooi en manipuleerbaar
Ek is ‘n vrou en ek is vet
Ek het nie vraatsug nie
Ek is nie ‘n kaalvoetmensie nie
Ek is nie ‘n trofeevroutjie nie
Ek voel vasgekeer
in ‘n wêreld wat kranksinnig geword het…
Klouvas my koeldrank, ek kwit! (Afrikaanse verwerking van Hold my beer, I quit!)
*Die ernstiger en kwaaier vorm van ‘sin vir humor’ — dit is humor met ‘n werklikheidsskop






Lulu, hier raak jy nou vandag iets aan waaroor daar tans op baie vlakke nagedink behoort te word. Met watter intellektuele, emosionele, geestelike en fisiese uitdagings het Christina Koch as gekose en uitmuntend opgeleide lid van die Artemis II ruimtevaarderspan voor, tydens en gedurende veral die laaste fase van die Orion-tuig se terugkeer na die aarde te kampe gehad? Is vroue met die wilskrag, visie en passie van Christina Koch die uitsondering op die reël? Of weet almal van ons dat elkeen van ons die mens moet wees wat God in gedagte gehad het toe Hy ons in die moederskoot gevorm en geken het? Dankie vir die aansteek van ‘n vlam diep in ons binneste, en dat jy dit op so ‘n uitsonderlike wyse doen!
Liewe Maretha, baie dankie vir jou insiggewende bydrae en jou mooi waarderingswoorde! Ek glo nie dat die Christina Koch’s in ons wêreld die uitsondering op die reël is nie, maar ek vermoed dat vele van hulle dalk bang en huiwerig is. Dit is my eer en voorreg om daardie vlam aan te steek!🔥