DAPPERSTE, DEERNISVOLSTE & DIERBAARSTE DRIETAL

POSTED BY

Lulu van Aswegen

‘n persoonlike vertelling van die waarheidswaardigheid wat hulle in doodsdonker gebring het

 

—die diagnose, die begin : betree die doolhof van breinkanker, 68 maande gelede—

 

Covid19 het reeds die wêreldkitaar geslaan

en elke sterfling op aarde bedreig toe

breinkanker op ons familie toegeslaan het en

sy ysterkloue in ‘n weerlose geliefde ingesink het.

C71.9 malignant neoplasm of the brain, chirurgies

onbereikbaar, katastrofies-vasgemessel aan die

breinstam van my 25-jarige darling daughter-in-love,

my saggeaarde oudste seun se beeldskone bruid en

my skrander tweejarige kleinseun se model-mamma.

 

—die behandelingsplan, die volgende stap : die padkaart uit die doolhof uit—

 

Ongenaakbare volbreinbestraling elke weeksdag

vir ‘n uitmergelende sewe weke net voor Kersfees.

Gewapen met ‘n padkaart en vasberade hoop

om ‘n pad te vind uit die kankerdoolhof uit.

Die hoop dat die padkaart se pille en kernstrale

die kanker se tjank sal aftrap waar ons nie kon sien nie,

want ons kon wel sien dat dit hopeloos-kragteloos was

teen die bose aanslag van die toenemend verwoestende

simptome wat die lewe uit ‘n jong vrou uitgewurg het.

 

—die pie-in-the-sky-believe-in-unicorns-stap : doolhof word in duisternis gedompel, die padkaart word vervang met ‘n flitsie—

 

Opvolgskanderings word elektronmikroskopies

ingezoom om gewas-inkrimping van ‘n

enkele mikromillimeter waar te neem,

terwyl mense-oë kan uitzoom en

steeds nie die agteruitgangsprentjie van

hartverskeurende ellende kan vryspring nie.

In die donkerduister, flitsie innie hand, word

‘n desperate soektog van stapel gestuur —

vind die stroombaanbreker, verstel die skakelaar

en herstel die lig innie doolhof.

Waar is daai breker, kan daar regtig weer lig wees?

Die doolhof het ons ingesluk…

 

—die werklikheidsbesef-stap in die flou lig van die papbatteryflitsie : soos gestuurdes, betree die drietal ons donkerduisternis, 60 maande gelede—

 

Hierdie doolhof is ons geliefde se laaste aardse blyplek,

daar is nie ‘n stroombaan of ‘n breker of ‘n skakelaar nie

en dit is heeltemal okay, want ons gaan leer hoe om

die lewe van iemand wat doodgaan, te koester. Ons gaan

leer hoe om die murg uit die lewebene uit te suig terwyl die

bloed, sweet, trane, snot, etter, plasma en rugmurgvog spat.

Hierdie drietal is loshande die dapperste, deernisvolste

en dierbaarste mense wie ek ken — hulle het ons beleef op

ons beste en op ons slegste. Saam met ons, het hulle gelag, gehuil,

gebid, geskreeu, gevloek, gesoebat, getreur en uiteindelik, oorgegee.

Hulle het haar op die hande gedra en van haar ‘n tydskrifvoorbladnooi

en ‘n digter gemaak. Sy het 26 jaar oud geword, maar sy het hierdie

stukkende kant van die ewigheid verlaat en oorgestap na die volmaakte

kant van die ewigheid toe twee maande voor haar 27e verjaardag.

 

Met liefdevolle herinnering aan my geliefde Carli van Aswegen (30 Maart 1995 – 25 Januarie 2022)

Met onbeskryflike hartsdankbaarheid, ‘n eervolle vermelding en huldeblyk aan ons dinamiet-drietal van Hospice Bloemfontein:

Hanneke Lubbe

Linette Peltzer

Dalene van Jaarsveld

Lees gerus ook HOSPICE — ‘N REGUITPRAATBENADERING hier 👇🏼https://luluvanaswegen.com/2026/05/hospice-n-reguitpraatbenadering/ 

die dood het geklop,

die dood het gedreig,

die dood het geroof en geplunder,

die dood het gemartel,

die dood het geslag,

die dood is nie genaakbaar nie,

maar die dood het nie gewen nie

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post