HOSPICE — ‘N REGUITPRAATBENADERING

POSTED BY

Lulu van Aswegen

Vanuit die Afrikaanse pen van ‘n passievolle Engelssprekende sterflingskrywer wat graag die oningeligtes wil inlig en ontneem van geloofwaardige ontkenning.

 

Dood is nie net ‘n onvermydelike deel van die lewe nie, dis eintlik die enigste deel van lewe waarvan ons (pun intended) doodseker kan wees.  Dalk kom dit nie binne ure of dae of maande of selfs etlike dekades nie, maar dit gaan verseker kom.  Persoonlik dink ek dat ons soms so behep raak met die noukeurigste beplanning van goed waarvoor ons geen waarborg gegun word nie, maar ons sluip skaam en stil verby die een ding waarvan almal van ons gewaarborg is.  Dis tyd om op te hou stilbly en sluip — ek en jy, liewe leser, en elkeen van ons geliefdes gaan iewers in die toekoms sterf.  Dit kan ‘n skielike sterfte wees of dit kan ‘n sterwenstyd wees wat volg op ‘n noodlottige diagnose.

In die geval van ‘n gegewe sterwenstyd, oorweeg gerus die volgende:

Hoe lyk die omgewing rondom jou wanneer jy onomkeerbaar sterwend is?

Weet jy hoe die omgewings rondom jou geliefdes moet lyk wanneer hulle onomkeerbaar sterwend is?

Hospice is ‘n veilige, hoopvolle hawe vir sterwendes waar groot moeite gedoen word om hulle pynbeheer- en lewenskwaliteitsbehoeftes aan te spreek in ‘n omgewing wat hulle begeer en bepaal.  Daar staan ‘n multi-dissiplinêre mediese span gereed om hulle te bedien met die nodige hulpbronne om aan hulle gemak, rustigheid, waardigheid en lewensvreugde in die doodsnikke van hulle lewens te bring.

Hospice se multidissiplinêre span bestaan uit toegewyde top-gekwalifiseerde spesialisdokters, verpleeg- en terapeuties-ondersteunende personeel.  Hulle spesialiseer in palliatiewe sorg, die betrokke mediese dissipline waar behandeling nie meer kan genees nie, maar wel gemak kan bring.  Die bediening van hierdie tipe behandeling vereis iemand met ‘n gesonde verganklikheidsbewustheid en ‘n werklikheidsbesef van hulle eie sterflikheid.  Ongelukkig blyk dit vir my dat palliatiewe sorg die weeskind van die mediese dissiplines geword het — dit word uitgeskuif na die stowwerigste weggesteekte hoekies aan die einde van die langste, donkerste gange van die samelewing waar die ligging, lug en lig swak is.  Dis eintlik nogal taamlik ironies aangesien die behandelingsuitkomste van hierdie spesialiste 100% foutloos is — hulle berei hulle pasiënte voor op sterfte en begelei hulle dan na die groot ewigheidsoorgangsgrens toe.

Ek glo dat dit tyd geword het om die groter samelewing se algemene wanopvatting rakende Hospice en die werksaamhede aan te spreek en ek poog om dit met hierdie skrywe te doen.

Daar is superheroes by Hospice, maar hulle behoort tot ‘n uiters skaars en spesiale soort.  Hulle vlieg nie rond in kleurvolle onderklere met flappende manteltjies, belaglike swaar hamers en ruimte-swaarde wat die sleg laat uitmekaarspat en alle seer laat wegsmelt nie.  Hulle is ook nie ‘n soort siestoggie-squad opgemaak uit bejaarde beskuit- en koeksustertannies en/of bloedjong, onervare stokkielekkerstrepie-sussies (candy stripers) nie.  Hulle is gewone mense met die nederigheid om alle mense met menswaardigheid te behandel en hulle is loshande die dapperste mense wat ek al ooit teëgekom het.

Hospice se diens is beskikbaar aan alle sterwendes met bevestigbare onomkeerbare toestande en kan deur ‘n dokter, die pasiënt self of familie aangevra word.  Geen onderskeid word getref met betrekking tot geslag, geloof, geskiedenis, ras, kultuur, beroep, familie, banksaldo of besittings nie.

Ons lewe in ‘n tyd van beduidende behandelingsdeurbrake, verskeie waarvan beskikbaar is vir die meeste van ons in die geval van noodlottige diagnoses.  Natuurlik sal elkeen van ons alles in ons vermoë wil doen om die lewe van ‘n geliefde te wil onderhou en daar is, wesenlik, niks verkeerd daarmee nie.  Daar is egter ‘n paar blou brommers in hierdie braaibroodjie-begeerte om in gedagte te hou.

Lewensonderhouding in hierdie betrokke arena is altyd kunsmatig van aard en dit het ‘n yslike invloed op verskeie faktore, soos die sterwende se lewenskwaliteit, die rekeningpligtige se bankbalans, die diensverskaffer se winsgrens, ens.  Soms is die marteling net nie die moeite werd vir lydende sterwendes nie en behoort dit gestaak te word.  Soms is die merkbare toename in lewenskwaliteit ‘n genadegeskenk en behoort dit voortgesit te word.  Ongelukkig is die bankbalans en winsgrens die swaargewigte in hierdie betrokke bokskryt en wanneer die bankbalans dor en leeggetrek is, dan staak alles en die diensverskaffende sakeryk beweeg aan na groener weivelde.  Hierdie wisselwerking kan nie akkuraat bepaal en bestuur word nie.

Daar bestaan ongelukkig ook ‘n kleinerige groepie dokters wat die noodlot aanhou behandel, ongeag van die lewensgrootte sterwenswerklikheid, die spreekwoordelike olifant in die spreekkamer.  Hier vermoed ek die bestaan van ‘n ernstige geval van opperwese-waansin waarin hierdie dokters ‘n gevaarlike soort waarheidswegkruipertjie speel met weerlose sterwendes.  Geen behandelende dokter, al is hy/sy quadruple-board-certified en al het hy/sy 27 spesialisgrade summa cum laude verwerf, beskik oor die vermoë om lewe natuurlik te skep of onderhou nie.  Inteendeel, hulle beskik oor presies dieselfde vermoë as selfs die mees ongeskoolde sterfling, om lewe in ‘n oogwink te beëindig.  Die hartverskeurendste deel is dat hierdie dokters hulle weerloosste pasiënte ontneem van die geleentheid om met waardigheid by Hospice te sterf.

Ek wil afsluit met ‘n analogie wat ek by jou, liewe leser, wil laat.  In hierdie lewe is ons almal soos spelers op ‘n Monopoly-bord.  Ons word meegesleur in ‘n op-en-af-rit waar ons moet woeker, wikkel en weeg om ‘n lewensbestaan te maak.  En dan, skielik eendag, tref daardie noodlottige diagnose ons en ons moet aanhou speel terwyl ons dit verwerk.  Hospice is soos ‘n dubbeldoor-KANS-kaartjie — die een wat jou reguit tronk toe stuur sonder om by BEGIN verby te gaan asook die een wat jou tronkvonnis onmiddellik kan ontbind.  Maar Hospice is nie ‘n tronk nie, dis ‘n veilige hawe terwyl die res van die bord waar die bat-crap-crazy-rat-race-of-everyday-life afspeel, die eintlike tronk is.  BEGIN verteenwoordig noodlot-behandeling.  Die Hospice KANS-kaartjie gee aan die eienaar toegang tot die diens op sy/haar eie voorwaardes asook die bygevoegde keuse om BEGIN in of uit te sluit op hierdie aanvaardingsreis.

Ek hoop regtig dat ek daarin kon slaag om die hart van Hospice by jou te kon tuisbring.  Vir die rekord, indien ek eendag self ‘n sterwenstyd gegun gaan word, het ek reeds my Hospice KANS-kaartjie in veilige bewaring, gereed om in te cash.  Vanuit persoonlike ondervinding, het ek my bedenkinge aangaande die bedrywighede by BEGIN, maar glad nie oor Hospice nie.

Dankie aan elke Hospice verteenwoordiger, ek sien julle raak en ek waardeer julle! Ek dink julle verdien centre stage op die mediese verhoog en nie die simpel, minderwaardige backstage passes wat julle tans mee tevrede moet wees nie!

Lees gerus ook my eie persoonlike vertelling aangaande Hospice, DAPPERSTE, DEERNISVOLSTE & DIERBAARSTE DRIETAL hier 👇🏼  https://luluvanaswegen.com/2026/05/dapperste-deernisvolste-dierbaarste-drietal/?preview_id=987509360&preview_nonce=00229b348b&post_format=standard&_thumbnail_id=987509361&preview=true

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes poems, reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. Maretha Maartens

    En ek het gelees, Lulu, in hartgrondige instemming. Saam met jou salueer ek die dapperste, deernisvolste, dierbaarste drietal. Baie dankie dat jy die lig laat val op ‘n ander opsie— professionele, deernisvolle palliatiewe sorg — wanneer die einde in werklikheid die BEGIN is van alles wat ons ooit in die Woord van God lees. DANKIE!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha, vir die geleentheid vir my om ook saam met jou te stem. Op grond van Hospice se grondslag om nêrens te diskrimineer nie, het ek vanuit neutraliteit geskryf. Maar as ‘n vrygekoopte Jesus-navolger wat werklik uitsien om eendag van hierdie stukkende kant van die ewigheid af oor te stap in die volmaakte kant van die ewigheid in, is daardie Hoop onbeskryflik! ✝️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post