MISGEKYK OM RAAKGESIEN TE WORD

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Hierdie werk is fiksie. Dis ‘n storievertelling gebaseer op die storie van Hagar, aangepas vir ‘n moderne konteks. Hagar was ‘n Egiptenaar en sy was die moeder van Ishmael, maar sy was ook die enigste persoon in mensegeskiedenis wat die voorreg geniet het om aan God ‘n naam te kon gee.

.

 

Die brose bejaarde vrou se vlak asemhaling is onegalig en haar vel is koud. Haar seun sit langs haar bed met haar hand in syne en hulle is omring deur ‘n groot groep geliefde familielede wat vêr gereis het om hulle matriarg te kom groet. Almal se tranerige oë is gerig op die sterwende vrou en dan, net voordat sy haar laaste aardse asem uitblaas, verander haar lewelose gesigsuitdrukking skielik handomkeer en sy spreek die onvergeetlike woorde wat haar lewensstorie afsluit.

.

 

Tamara, die blasvelmeisie wat uit die buurt aan die verkeerde kant van die treinspoor kom, het op 15-jarige ouderdom vir die invloedryke glanspaartjie Meneer Awie en Mevrou Saartjie begin werk. Hulle was bleekvelmense wat die God van bleekvelmense gedien het. Bleekvelmense en hulle God was nie toeganklik vir blasvelmense nie. Tamara het gou agtergekom dat Meneer en Mevrou net gesteld was op dit wat sy vir hulle gedoen het en nie wie sy was nie en daarom het sy van die begin af uitgeblink in haar werk. Sy het gou die guns van Mevrou Saartjie gewen en na afloop van haar bevordering tot hoofhuishoudster, het sy nie net met getroue verantwoordelikheid die sake van die huishouding bestuur nie, maar ook met belangstellende geduld die nuwelinge opgelei. Tamara het dit reggekry dat haar werksprestasies feitlik altyd haar werkgewers se verwagtinge oortref het en dit het die miskyk-seer hanteerbaar gemaak. Hoewel Tamara gereeld blootstelling gekry het aan haar werkgewers se binnewêrelde omdat sy hulle binnekamers moes skoonmaak, het sy hulle kwesbaarheid met die hoogste graad van vertroulikheid hanteer. Sy het geweet van onvervulde nageslagsbelofte wat hulle God aan hulle gemaak het en ook van hulle groeiende worstelinge daarmee soos wat hulle ouer geword het. Tamara het haar afstand gehou, want hulle sake het niks met haar te doen nie. Dit was totdat dit ALLES met haar te doen geword het.

 

Op ‘n afdag, drie maande na haar twintigste verjaardag, kry Tamara gereed om op ‘n eerste afspraak saam met ‘n aantreklike jong man te gaan. Nog voordat sy haar kamerdeur agter haar toetrek, kry sy ‘n dringende boodskap dat sy moet instaan vir ‘n siek diensmeisie tydens ‘n deftig-intieme middagete vir Meneer en Mevrou. Sy kanselleer haar afspraak en meld aan in die eetkamer waar sy spoedig gereedstaan om te bedien. Tamara sou nooit daardie eerste afspraak herinstel of enige ander afsprake nakom nie, want ‘n plofbare argument tussen Meneer en Mevrou ontspoor skielik soos ‘n wegholtrein en die afgryslike ontploffing verander Tamara se lewe onherroeplik.

 

In die naam van die bleekvelmense se God, spring beide Tamara se werkgewers se spreekwoordelike torre van hulle proppe af, en word sy eers uitgelewer aan onuitspreeklike wreedheid, vernedering en walgende misbruik wat opgevolg word met voortdurende verwytende verwerping. Enkele weke later word die bestaan van ‘n groeiende gruwelverwekking diep binne-in Tamara se buik bevestig en die wedersydse veragting tussen haar en Mevrou bereik breekpunt. Tamara vlug vêr weg na ‘n verlate vlakte in die middel van nêrens waar sy op ‘n klip onder ‘n koelteboom die bleekvelmense se God vir die eerste keer ontmoet. Hy raak haar aan met Sy ontfermende liefde en Hy belowe om vir haar en haar babaseuntjie te sorg. Sy glo Hom en, in gehoorsaamheid aan Sy opdrag, gaan sy terug na haar werkgewers toe. Op Tamara se 21ste verjaardag word haar babaseuntjie, Enzo, gebore. Sy bly by haar werkgewers aan totdat hulle haar finaal wegjaag net voordat Enzo vyf jaar oud word. Weer vlug sy na die verlate vlakte in die middel van nêrens en, vir ‘n tweede keer, ontmoet sy dieselfde God, maar nou die God van ‘n blasvelvrou.

 

Tamara het nooit regtig gepraat oor die gebeure van daardie gruwelike nag in Meneer se kamer of die gebeure van haar ontmoetings met die Lewende God Wie haar lewe gered het nie. Sy het vir Enzo onbeskryflik liefgehad en haarself heelhartig toegewy aan hom en hulle nageslag. Die Lewende God, Tamara se God, se ontferming oor hulle het geen einde geken nie en Hy het haar elke dag van haar lewe opnuut daaraan herinner.

.

 

Enzo sit op een van die sagte uitskopstoele in die snoesige sitkamer. Die winterson stroom ongehinderd deur die groot glasvensters en Enzo kan voel hoe die sonskyn sy blootgestelde lyf opwarm. As dit maar net tot diep in sy binneste ook kon skyn, tot op die koue kloue van rousmart wat sy hart beetgekry het. Op sy skoot is Matamara se joernale en daarin is haar hele lewensverhaal opgeteken, in haar eie handskrif en woorde. Hy wil so graag sy ma se hele storie lees, want hy weet dat dit soveel van sy eie herinneringe sal bevestig en in konteks plaas. Maar haar onlangse afsterwe het ‘n groot krater in sy hart gelaat en dit is nog so rou en seer. Hy voel soos ‘n weeskind, al is hy ‘n 59-jarige pa van 17 kinders (aangetroude kinders ingesluit) en oupa van 7 kleinkinders. Hy het geen idee hoe lank sy geliefde Rojeanne hom dopgehou het voordat sy ingekom het met tee en Tenniskoekies op ‘n skinkbord nie. Rojeanne is die bruid van sy jeug wat net verlede week saam met hom hulle 40ste huweliksherdenking gevier het. Rojeanne skink vir hulle tee en dan kom wurm sy haarself langs hom in. Die sagte omgee van haar onvoorwaardelike liefde saam met die warm tee verlig die ysgreep op sy hart net genoeg vir hom om die eerste joernaal oop te maak. Rojeanne staan op, skuif die skinkbord eenkant toe en gaan sit op die koffietafeltjie voor Enzo. Sy neem sy hande in hare, en sonder om ‘n woord te spreek, nooi die teerheid in haar oë hom uit om te begin lees en te praat.

 

Daardie dag se sessie in hulle sonnige sitkamer was net die eerste van ‘n hele reeks diepduiksessies oor die bestek van etlike maande waarin Enzo en Rojeanne die merkwaardige nalatenskap van Tamara ontdek het. Tamara, die minderwaardige blasvelmeisie wat deur meerderwaardige bleekvelmense misbruik, mishandel en misgekyk is. Tamara, die uitgelewerde swanger blasvelmeisie oor wie die bleekvelmense se God Homself ontferm het. Tamara, die blasvel-enkelouer van ‘n seuntjie Enzo, wie die guns van die bleekvelmense se God gewen het. Tamara, die vrou wie se menswaardigheid in ere herstel is toe sy met die Lewende God ontmoet het. Tamara, die blasvelvrou wat besef het dat die Lewende God nie net die bleekvelmense se God is nie. Tamara, die matriarg wat haar nageslag voorgestel het aan die Lewende God, die God van alle nasies.

.

 

Tamara het Matamara geword toe vyfjarige Enzo die naam aan haar toegeken het en almal het haar so genoem. Die bleekvelmense se God het Tamara se God geword toe sy die enigste persoon in mensegeskiedenis geword het om ‘n naam aan Hom toe te ken. Hierdie naam is die woorde waarmee sy haar lewensverhaal afgesluit het.

 

EL ROI, DIE GOD WIE MY RAAKSIEN!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. MJ Maartens

    O, Lulu, mag elke vrou met ‘n geskiedenis soos dié van Hagar en jou Tamara die Naam van God daar uit die verre, verre verlede NOU hoor opklink: EL ROI… die God wat MY raaksien. Mag elkeen, ongeag die aard van ‘n diep verborge persoonlike leed, die Naam van die HERE só hoor. Dankie hiervoor!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie, liewe Maretha! Mag dit inderdaad wees presies soos jy verklaar! ❤️

      Reply
  2. Charles James

    Liewe Lulu, weereens ‘n puik stuk skryfwerk! Mag elkeen wat verwerp voel weet “El roi” – God sien my raak en Hy het
    My lief!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie, liewe Charles! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post