**Oordenking # 5 : Judas beklink die skrikwekkendste saketransaksie in mensegeskiedenis. Dis 2 dae voor Jesus se kruisdood op GOEIE VRYDAG.**
AGTERGROND:
Kajafas was die Joodse hoëpriester, die enigste een wat een keer per jaar toegelaat is om die ALLERHEILIGSTE gedeelte, in die kern, van die tempel te betree. Vanuit sy vername posisie was hy dan ook die een vir wie Jesus die grootste bedreiging ingehou het. Hoewel hy die meesterbrein agter die komplot teen Jesus was, was sy waarneembare betrokkenheid onmerkwaardig. Hy was net die aansteker van die haatvlam in ‘n omgewing gevul met hoogs-onstabiele vlambare gaswolke (opgeklitste godsdienstige leiers).
Judas was aangewys as die tesourier (beursdraer) van Jesus se bediening wat impliseer dat hy oor kennis en vaardighede beskik het wat die ander dissipels nie gehad het nie. Hy het waarskynlik formele opleiding ontvang en ‘n bestaan gemaak as ‘n vindingryke sakeman voordat hy by Jesus se geselskap aangesluit het.
BETREE DIE VERHAAL:
Dis ‘n rustiger dag, Jesus en Sy dissipels reis nie, soos die voorafgaande dae, na Jerusalem nie, maar vertoef in Betanië vir die dag.
Jesus en Sy dissipels aanvaar die uitnodiging om na die huis van Simon, die melaatse, te gaan vir ete. Terwyl hulle almal rondom die etenstafel kuier, kom daar ‘n vrou binne. In haar hande hou sy ‘n albasterfles vas terwyl sy reguit na Jesus toe loop. Sy breek die fles oop en gooi die inhoud daarvan oor Jesus se kop uit. Onmiddellik word die hele vertrek gevul met die die geur van duur nardusolie en eers, vir ‘n kort oomblik, daal ‘n versmorende stilte op almal neer voordat ‘n groot geraas uitbreek. Déjà vu.
In hulle gedagtes, word die drietal Maria’s (Jesus se ima, Maria Magdalena en Maria van Betanië) dadelik teruggevoer na Saterdagaand by Lasarus se huis toe sy suster, MariaB, olie op Jesus se voete uitgegooi en Hom gesalf het. Hulle onthou presies wat hierdie handeling beteken en hulle huil onbeskaamd oor die vooruitsig van Jesus se dood en begrafnis wat nou met ‘n tweede bevestiging verseël is. Die swaard in Maria (ima) se siel sny dieper en seerder terwyl MariaM en MariaB ook nou begin rou oor die yslike Lewensverlies van die Man Wie hulle lewens vir altyd verander het.
“Is al jou varkies op hok, vrou? Het jy enige begrip van hoeveel hierdie olie werd is en hoe waardevol die opbrengs vir die armes kon wees?”
“Waar kry iemand soos jý die geld vir hierdie duur olie?”
“Jy is versteurd, vat die pad, gaan weg!”
Die manne skreeu vir die vrou met soveel opgeboude woede dat die spoeg wat nie die wêreld vol spat nie, wit skuim in hulle mondhoeke vorm. Daar is net twee manne wat skreeu, maar die intensiteit van hulle stemme druk die geraasvlakke in die gevaarsone vir trommelvlies-skade in. Daar is groot verskrikking en verwarring in die gesigsuitdrukkings van die ander om die tafel, maar hulle hou die gebeure dop met skokgedrewe verlamming. Dit lyk aanvanklik of Judas ook net ‘n waarnemer is, maar dan verskyn daar skielik ‘n vuurrooi brandende boosheid wat diep uit sy binneste uit deur sy oë skyn en hy spring van sy stoel af op met die ratsheid van ‘n wilde roofdier voordat hy blitsvinnig by die deur uithardloop.
“Los haar uit, sy het niks verkeerd gedoen nie! Sy is nie versteurd nie, sy is getrou en gehoorsaam en haar geloof is merkwaardig! Kom terug, liewe dogter, dit wat jy gedoen het, is vir My tot groot seën.”
“Ek het dan Saterdagaand so mooi aan julle verduidelik hoe mooi en heilig hierdie handeling is. Verstaan julle dan nie? Begryp julle dan steeds nie wat voorlê nie? Ook hierdie vrou salf My liggaam vooruit met die oog op My begrafnis. Luister nou mooi na My woorde; waarookal in die hele wêreld My evangelie verkondig gaan word, gaan daarmeesaam vertel word van hierdie twee vroue. Dit sal ‘n ewige herinnering wees aan die heilige dade wat hulle vir My gedoen het!”
Daar is hartseer, moedeloosheid en teleurstelling in Jesus se stem, maar dis steeds sag en vertroostend. Met steeds-onwrikbare deernis en geduld leer Hy hulle, soos altyd. Hy herhaal ook weer alles wat Hy Saterdagaand gesê het. Sy geliefde dissipels se trane en sigbare ontroering laat Hom nie onaangeraak nie, dit breek Sy hart. Hy kan ‘n nuwe knop voel vorm in Sy keel en Hy weet dat hierdie knop daar is om te bly…aan hierdie kant van die kruis wat oor minder as 48 uur van nou af alles gaan verander. Met blink trane in Sy eie oë glimlag Hy vir hulle en hulle beleef dit soos warm, stywe sielsdrukkies.
By die hoëpriester, Kajafas, se huis word ‘n dringende vergadering gehou. Die kontrakmoord-peloton (hit squad) is teenwoordig en hulle is vurig warm onder die kraag. Die gemoedere van die teenwoordiges loop hoog en Kajafas moet verskeie kere sy stem verhef om te verhoed dat die vlambaarheid ontaard in ‘n weghardloop kern-kettingreaksie. Hulle stem almal saam dat Jesus van Nasaret doodgemaak moet word, maar daar is meningsverskille aangaande presies hoe dit uitgevoer behoort te word, die een voorstel meer veragtelik as die ander.
“Ons kan Hom nie van kant maak tydens die fees nie, want dit sal die volk oproerig maak.”
“Ons sal onder die radar moet bly met ons plan.”
“Ons benodig die dienste van ‘n sluipmoordenaar…”
Net voordat Kajafas weer moet ingryp, klop die spreekwoordelike antwoord op hulle dodelike dilemma aan die deur. Judas Iskariot stap die vergadervertrek binne. Hy lyk taamlik gespanne en sy liggaamsbewegings is styf, amper meganies. Maar in sy oë flikker daar ‘n bloedstollend-ysige glinster van vlymskerp vasberadenheid en hy is daar met die skrikwekkendste sakevoorstel in mensegeskiedenis.
“Ek sal Hom aan julle uitlewer as julle my daarvoor betaal. Hoeveel is julle bereid om te betaal?”
“Dertig stukke silwer.”
“Dis reg so. Ek laat julle dadelik weet waar en wanneer Hy weg van die skare af gaan wees sodat julle Hom in hegtenis kan neem. Gryp die Een Wie ek soen.”
OOREENKOMS BEKLINK! Die kwaai vergadering verander in ‘n feestelike partytjie waar wyn oorvloedig geskink en bedien word terwyl luidrugtige heildronke ingestel word. Binnekort sal die probleemProfeet van Nasaret se doppie geklink wees sonder dat hulle die dienste van ‘n peperduur sluipmoordenaar gaan benodig. Een van Sy eie getroue volgelinge het ooreengekom om Hom teen bespotlik-goedkoop vergoeding op ‘n spreekwoordelike silwer skinkbord aan hulle te oorhandig.
Judas Iskariot, mees geskoolde apostel, getroue volgeling, skerpsinnige sakeman, beursdraer, invloedryke leier, vriend, raadgewer, binnekring-vertroueling en geliefde dissipel van Jesus verlaat Kajafas se huis sonder om deel te neem aan die seëvieringe. Hy het so pas die belangrikste en berugste saketransaksie van sy hele lewe beklink en dit gaan hom daardie lewe kos. Hy het sy Messias uitverkoop en homself skuldig gemaak aan die ernstigste graad van hoogverraad van alle tye.
Judas het sy siel aan die duiwel verkoop…
§—Oordenking # 6 : LAASTE DONDERDAG volg môre—§
“Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar ‘n vrou met ‘n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: ‘Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.’ En hulle het teen haar uitgevaar. Jesus het egter gesê: ‘Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.’”
Markus 14:3-9 AFR20
“Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is, een van die twaalf, ingevaar. Hy het weggegaan en met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag onderhandel oor hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. Hulle was bly, en het afgespreek om hom geld te gee. Hy het ingestem, en aanhou soek na ‘n gepaste geleentheid om Hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare.”
Lukas 22:3-6 AFR20
“Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: ‘Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word.’ In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: ‘Nie tydens die fees nie, sodat daar nie ‘n oproer onder die volk ontstaan nie.’ Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: ‘Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?’ Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy ‘n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.”
Matteus 26:1-5, 14-16 AFR20






”Hy het sy siel aan die duiwel verkoop.” Dieper kan geen woorde die leser raak nie. ‘n Man, ‘n mens soos ons, het die genade van God versmaai. HERE, skryf hierdie keuse diep in ons harte, dat ons dit nooit sal vergeet nie. Dankie, Lulu, vir die pad waarop jy ons neem..
Dankie Maretha!