SALWINGSATERDAG : OP DIE VOORAAND VAN LYDENSWEEK

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Die eerste oordenking in my Lydensweek-reeks begin by die Saterdagaand voor PalmSondag toe Maria van Betanië vir Jesus gesalf het.**

 

VOORWOORD:

In 2023 het een van ons dominees in my geliefde Pellissier Gemeente my gevra om ‘n stukkie te skryf oor my belewing van Jesus se kruis wat aansluit by die tema LIEFDE DEUR LYDING. Hy wou dit in sy preek gebruik. Ek het diep gaan grawe in verskeie bronne (Teologies, histories en medies) en dit het my op ‘n reis geneem wat hart oopgeruk en my siel deurboor het. Ek het geskryf, die dominee het gelees en die dominee het gepreek. Op 14 Maart 2024 het ek dit verwerk en op VrygekoopteBaanbreker (op my webwerf) geplaas onder die titel ONVOORWAARDELIKE LIEFDE DEUR ONBESKRYFLIKE LYDING (lees dit hier). Toe ek aan die einde van 2024 deur een van ons ander dominees gevra is om die teks vir 2025 se Paasstasies te skryf, was die inhoud van my vorige skrywes die beginpunt van ‘n nuwe reis. Weer het ek diep gaan grawe en weer is my hart oopgeruk en my siel deurboor.

Die volume van alles wat ek geleer en geskryf het, kon onmoontlik in al die Paasstasies pas, so ek het besluit om ‘n gedeelte van dit wat nie in die Paasstasies kon inpas nie, saam te vat in ‘n reeks oordenkings gewy aan Lydensweek en dit hier te deel. Liewe leser, gordel styf vas, want hierdie is nie ‘n pretrit in ‘n feëverhaalpretpark nie – dis wreed en dis wonderlik! Hoewel ek die gebeure waaroor ek skryf, so goed moontlik nagevors het en my begeerte is om bowenal Skrifgetrou te wees, kom hierdie perspektief vanuit my eie belewing van hierdie verhaal waarin ek myself heelhartig ingevleg het.

 

BETREE DIE VERHAAL:

Jesus en Sy dissipels kuier almal rondom die tafel by Lasarus se huis terwyl Martha hulle bedien met die aandete wat sy voorberei het. Daar is niks ongewoon daaraan dat Maria nie vir Martha uithelp met die bediening nie, maar Martha doen dit nou met ‘n blye hart. Voordat Jesus op ‘n vorige geleentheid ingegryp het, het sy wat Martha is, altyd met ‘n swaar hart bedien. Dit het haar kwaadgemaak dat Maria nie doen wat sy (Martha) van haar verwag nie en Jesus het haar gehelp om haar verwagting van Maria te verander. Sy het na Hom geluister. Inteendeel, Maria is nie aanvanklik daar saam met almal rondom die tafel nie, maar wanneer sy ‘n rukkie later wel by hulle aansluit, is daar ‘n oorweldigende dringendheid in haar lyftaal. Die uitdrukking op haar gesig weerkaats ook dieselfde dringendheid, maar dis vermeng met ‘n soort verheldering wat die indruk skep dat sy iets veel kosbaarder en heiliger raaksien as net haar geliefdes aan die etenstafel. In haar hande hou sy ‘n fles nardus-olie ter waarde van ongeveer R300,000 vas.

Maria loop reguit na Jesus toe waar sy dit oopmaak en alles uitgiet op Sy voete. Sy salf Hom met die olie en vee dit met haar hare af. Die reuk van die nardus-olie versprei vinnig deur die hele vertrek en toe Judas Iskariot dit ruik, weet hy dadelik wat dit is en hoeveel dit werd is.

“Wat ‘n skandelike vermorsing! Die opbrengs uit die verkoop van hierdie duur olie kon eerder aan die armes geskenk geword het!”

Judas se humeur ontplof en hy berispe Maria met ‘n skynheilige krultrek-klaaglied wat eintlik net ‘n opgeklitste vloermoer is. Judas is die uitvoerende rentmeester van Jesus se bediening, maar (in die geheim) agter die skerms verryk hy homself uit die beursie waarmee hy toevertrou is. Jesus kan Judas se hart aanvoel en wanneer die twee met mekaar oogkontak maak, besef Judas dit en dit haal al die warm lug uit sy lugkasteelballon uit. Hy gee toe aan Jesus.

“Los haar uit, Judas! Hierdie handeling van haar is heilige voorbereiding vir My begrafnis. Die armes gaan altyd hier saam met julle wees, maar Ek gaan nie meer lank hier saam met julle wees nie…”

Jesus weet presies wat vir Hom voorlê, maar Sy geliefde dissipels is uiters geskok deur Sy woorde en hulle kyk mekaar verward aan. Voor vanaand, het Jesus reeds op drie vorige geleenthede vir Sy dissipelgehoor ingelig dat Hy gaan ly omdat Hy oorgelewer gaan word om gemartel en vermoor te word. Die implikasie van Sy dood vanuit die melding van Sy begrafnis, is dan geleentheid nommer vier, maar hier sit almal nou bedroef, verward en in skok. Maria se hart is ongetwyfeld nog propvol eerbied en ontsag vir haar Verlosser omdat sy die eer gehad het om Hom te salf en haar gemoed verkeer in ‘n toestand wat nie menslik verklaar kan word nie. Haar naamgenoot Maria, Jesus se ma, se droefheid is sigbaar dieper as al die ander s’n, want sy onthou Simeon se woorde tydens baba Jesus se toewyding by die tempel destyds en sy kan voel hoe ‘n swaard haar siel binnedring.

Die dringendheid waarmee Maria vanaand ingekom het, het reeds soos die geur van die reukolie, die atmosfeer gevul en daarmeesaam is daar nou ook die bewustheid van ‘n groot onsigbare donkerwolk wat begin inrol. Niemand kan dit keer nie. Jesus sien hulle kommer en droefheid raak en hoewel Hy nog baie op Sy hart het om met hulle te deel, weet Hy dat dit nie vanaand gaan gebeur nie.

 

§—Oordenking # 2 : PALMSONDAG volg môre—§

 

“Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. Daar het hulle vir Hom toe ‘n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria ‘n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: ‘Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?’ Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy ‘n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. Daarop het Jesus gesê: ‘Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.’”‭
Johannes‬ ‭12‬:‭1‬-‭8‬ ‭AFR20‬‬

“Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. “ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak.”
Johannes‬ ‭16‬:‭6‬-‭7‬, ‭12‬-‭13‬ ‭AFR20‬‬

“Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: ‘Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.’”
‭‭Lukas‬ ‭2‬:‭34‬-‭35‬ ‭AFR20‬‬

 

Subscribe

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. Charles James

    Baie dankie Lulu! Jou skryfwerk is ‘n besondere bediening!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Charles!

      Reply
  2. MJ Maartens

    Lulu, ek sit hierdie bedieningskryfwerk nou en lees terwyl ons op pad terug huis toe is. Hoe groots is dit om hiermee gevul te mag word, om hieroor te mag nadink terwyl die Karoolandskap aan weerskante in stilte gebaai lê… Alles gestroop om die impak van Jesus se laaste aardse roete op pad na Golgotha te mag bedink! Dit spreek tot in my siel. Dankie.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post