SMILE VIR CARLI

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Skildery deur Scharon Campbell.

 

Twee jaar. 730 dae. 17,520 uur. 1,051,200 minute. Dis die tyd wat verloop het sedert jou plekkie leeg en jou stemmetjie stil geraak het. Op ‘n geraamde skildery in my kantoor is jou eie handskrif verewig. Dis die gediggie wat jy vir my geskryf het vir my 49e verjaardag in 2021 en ek gaan dit vandag deel:

 

SMILE
My Darling
my Liefie
my Ster
aanhoudend
altyd
lig jy my op.
Vir die res
van my lewe
hoe ookal lank
of kort
weet ek
wie my
persoonlike
soldaat is.
My persoonlike
psigiater, vegter, beste vriend.
Geen hoeveelheid dankies
sal genoeg dankie
ooit wees nie.
My liefde vir jou
loop oor en oor
ek wens ek kan
meer doen as dankie sê,
maar dit is buite
my beperkinge.
So Mom,
my sweet,
pragtige, volmaakte ma
dankie
dankie vir wie jy
is vir my
dankie vir alles wat jy doen vir my
vir my man
vir my seuntjie.
Jy is werklik
onvervangbaar.

 

Jy het hierdie gediggie die titel SMILE gegee, want jy het gesê dat my glimlag elke oggend wanneer ek jou kamer binnegekom het, jou dag opgehelder het en dat die woord smile, uitgespel in blinkertjies op my pajama-hemp, dit bevestig het. Ek het daardie einste pajama-hemp aangehad tydens my toespraak op jou roudiens. Ek kon nie daardie dag smile nie. Ek sukkel regtig om te smile vandag ook, terwyl ek hierdie stukkie skryf, want ek mis jou tog so baie, my dierbare geliefde Carli-kind…. Jy is my heel eerste daughter-in-love, die heel eerste Mev. Van Aswegen junior van die AssieTribe en die mamma van my heel eerste kleinkind.

 

Dankie vir die pragtige, hartsdiep gediggie! Jou handskrif is oppie skildery teen my kantoormuur, jou gesiggie op ‘n ander geraamde Time magazine voorblad teen dieselfde muur, jou naam is verewig op ‘n trofee in Dad se glasvertoonkas, jou blonde hare en blou oë is vasgepen in Micah, maar jou unieke menswees is veilig weggebêre in die kluis van my hart. Lief jou altyd. Mis jou altyd. Mom xoxoxo.

 

PS: Ek sal oefen om te smile, veral op 25 Januarie.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post