GRUWELIKE GOEIE VRYDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Oordenking # 7 : Die verskriklikste Vrydag op aarde – GOEIE VRYDAG. Jesus word gekruisig.**

 

VOORWOORD:

Met hierdie Lydensweek-reeks, wou ek so graag uitwys net hoe diep Jesus se liefde en meegevoel was vir mense, en spesifiek die vertrapte randfigure van die samelewing, tydens Sy aardse lewe. Ek glo dat ek gedeeltelik daarin kon slaag, maar dat die omvang daarvan veel meer omvattend is as wat ek of enigiemand anders ooit in woorde sou kon uitdruk. Sy onbeskryflike ontferming oor vroue het my nog altyd verbyster en ek glo dat die gesondmakende vertroostingsboodskap wat dit bring, tydloos van aard is.

Toe ek oorspronklik, in 2023, LIEFDE DEUR LYDING geskryf het, het my pad gekruis met Anzelle (skuilnaam), ‘n kosbare vrou wie ‘n stukkie van haar lewensreis met my gedeel het. Dit was ongetwyfeld die stukkendste deel, maar dit het so onverklaarbaar mooi ingepas en vervleg geraak met my eie belewenis dat ek verlede jaar ook ONVOORWAARDELIKE LIEFDE DEUR ONBESKRYFLIKE LYDING (lees dit hier) kon skryf. Anzelle is ‘n gelowige vrou wat bykans haar lewe lank rondloop met die verskriklikste seer van kleindogtertjieverkragting. Jesus was reeds van vroeg af haar Verlosser en Saligmaker, maar sy het gesukkel om haar dogtertjieseer met Jesus se verlossingsdaad te versoen omdat Hy ‘n man is. My kruisreis het haar op haar eie reis na Jesus se kruis toe geneem. Daar het sy bewusgeword dat, terwyl Hy ontbloot, naak en vernederd aan ‘n kruis gehang het, Hy die diepste skaamte in haar siel kon ken en voel. Anzelle kon haar sieldiepskaamte in Jesus sien en sy kon dit met Hom versoen.

Anzelle was ‘n slagoffer van weggesteekte geweld, en meer spesifiek, die “dubbellem-kapmes” weergawe daarvan. Weggesteekte geweld gebeur in die einste toevlugsplekke waar weerlose mense op hulle veiligste behoort te voel en veroorsaak skade AAN mense se liggame. Dis nie sigbaar nie en word meestal nie gerapporteer nie. Hierdie geweldsmisdade vind plaas binne klein gemeenskapsverband-stukture (gesinne, families, skole, klubs, kerke, woonbuurte, ens.). Die “dubbellem-kapmes” weergawe hiervan gebeur in seksuele geweld, soos verkragting, en veroorsaak skade AAN en IN mense se liggame. Dit is ‘n groeiende epidemie wat verwoestende skade aan slagoffers se liggame aanrig. Daar bestaan selfs ‘n groot waarskynlikheid dat, soos in Anzelle se geval, die onherstelbare skade aan die slagoffers se liggame, ‘n lewenslange vonnis kan wees.

As iemand wat taamlik vertroud is met splagchnizomai, het Anzelle se storie my diep aangegryp. Sy stap ‘n dieper pad saam met Jesus waar sy verstaan dat Hy nooit belowe het om haar van pyn en lyding te spaar nie, maar waar sy Hom kan vertrou om ALTYD by haar te wees wanneer dit gebeur, want Hy het dit wel belowe. Sy verloor nooit hoop vir ‘n genesingswonderwerk nie, maar sy het geleer om om die seer en struggle in haar eie onvolmaaktheid te embrace, ongeag of die wonderwerk gebeur of nie. Anzelle het met Jesus connect op dieselfde wyse as wat die vroue in Sy tyd op aarde met Hom connect het. Soos hulle, is haar onwrikbare geloof in en onstuitbare diens aan Jesus ‘n aanduiding van dieper insig in die omvang van Sy kruisdood as hulle toegang tot ‘n volmaakte ewigheid saam met Hom.

Ek en jy en Anzelle bly in ‘n stukkende wêreld en niemand van ons word vrygestel of kwytgeskeld van pyn en lyding nie. Ons kan egter uitsien na ‘n volmaakte lewe sonder pyn en lyding aan die anderkant van die ewigheid omdat Jesus die hoogste prys daarvoor betaal het.

Hierdie oordenking is gewy aan daardie prys….

WAARSKUWING:

Hierdie inhoud is onverdun-reguit met die uitbeelding van die wreedheid, maar dit skiet steeds vêr tekort in vergelyking met die gruwelike werklikheid van daardie noodlottige dag. Die oorgrote meerderheid van geloofskenners meen dat Jesus heeltemal kaal (as uiterste vorm van blootstellende skaamte) aan die kruis gehang het. Die oorgrote meerderheid van medici in eweknie-geëvalueerde navorsingspublikasies meen dat Sy uiteindelike dood veroorsaak is deur ‘n katastrofiese kardiovaskulêre gebeurtenis, soos ‘n massiewe hartaanval of ‘n noodlottige hartweefselskeur.

Jesus (was) is letterlik HARTVERSKEUREND lief vir jou en my en Anzelle!

 

BETREE DIE VERHAAL:

Dis Vrydag en hier staan Jesus voor Pilatus met ‘n waansinnig-woedende, skreeuende skare Jode agter Hom. Hulle bloeddorstige moordlus van die gisteraand bereik skielik ‘n ontploffende hoogtepunt terwyl hulle mekaar aanhits en opsweep. Met ‘n barbaarse bende-kreet skreeu hulle, KRUISIG HOM, KRUISIG HOM! Maar daar in die moordbende-skare is daar dan soveel mense wat Hom net Sondag volmondig en heelhartig verwelkom het met lofgesange en palmtakke terwyl hulle klere in die pad voor Sy donkie uitgegooi het. Nou wil hulle Hom dood hê.

Pilatus ontvang ‘n dringende waarskuwing van sy vrou af om nie deel te neem aan die doodsvonnisvoltrekking van Jesus nie. Hy reageer daarop deur, voor almal, sy hande in onskuld te was. Maar hy sneuwel onder die geweldige politieke druk en uiteindelik gee hy toe aan die barbaarse skare se eis om ‘n misdadiger vry te laat en Jesus te kruisig. Jesus word uitgelewer aan uiters-sadistiese Romeinse soldate om, op die wreedste wyse denkbaar, meedoënloos gemartel en vermink te word voordat hulle Hom uiteindelik gaan vermoor.

Hy word heeltemal kaal uitgetrek, aan ‘n houtpilaar vasgemaak en stukkend papgeslaan met spykerstokke en ‘n sweep wat bestaan uit verskeie leerstrikke waaraan stukkies metaal en been vasgemaak is. Op elke plek aan Sy liggaam waar hierdie strikke tref, ruk dit stukke vleis uit totdat Hy lyk soos ‘n bloederige massa mensvleis met gebeente wat plek-plek sigbaar is. Hy is onherkenbaar as ‘n mens.

Daarna word Hy soos ‘n dier aangejaag na ‘n koppie toe terwyl hy onderwerp word aan nog wrede spot en vernedering. Bo-op die koppie word Hy op ‘n kruis vasgespyker en in die lug in gehys waar Hy moet hang totdat Hy dood is. Die spykers is ongeveer 18cm lank en hoewel dit met die inkap in Sy gewrigte en voete geen bene breek nie, dring dit wel die beskermende omhulsels van verskeie senuweeverbindings binne. Dit het die skerpste pyn denkbaar tot gevolg, soos witwarm weerligstrale skiet dit van die spykerwonde af regdeur Sy hele sentrale senuweestelsel totdat dit in Sy brein ontplof. Hierdie voortdurende brein-ontploffende weerligstraalpyne gebeur met elke beweging van Sy liggaam. Dit is genadeloos.

Tesame met die voortdurende weerligstraalpyne, ondervind Hy ook ondraaglike pyn van die hewig-bloeiende slagtingswonde aan Sy stukkende lyf wat skaaf teen die growwe kruishout asook van die doringkroon wat met stokke in sy kopvel ingeslaan is. Laasgenoemde pyn word verder vererger deur onsuiwerhede vanuit die stowwerige grond waar hulle Hom vasgespyker het aan die kruis. Hy is ook verder geteister deur vlieënde boorinsekte wat teer op die oë en oop wonde van ‘n slagoffer wat magteloos aan ‘n kruis hang. Teen hierdie tyd in Sy onbeskryflike lyding steek Sy stukkende liggaam verskeie omdraaipunte vir spontane herstel verby en betree verskeie van sy lewensonderhoudende stelsels ernstige vlakke van skok.

Maria (ima), MariaM, Salomé, Martha, MariaB, ‘n paar ander vroue en Johannes, Jesus se geliefde dissipel, huil onbedaarlik waar hulle aan die voet van Jesus se kruis staan. Ondanks al die onuitspreekbare pyn en lyding wat Hy verduur, praat Hy nog een keer, saggies amper onhoorbaar, met hulle. Sy eerste opdrag is aan Sy ima en Johannes, dat hulle van nou af ma en seun sal wees. Die volgende opdrag is aan die res waar Hy hulle aan mekaar toevertrou as lede van ‘n nuwe geloofsfamilie, om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefhet.

Jesus Christus, Seun van God, Seun van die mens, Messias van die mensdom, sterf aan die kruis. Sy verbysterend-gruwelike lyding is verby. Die hele wêreld word geskud en vir ure lank in pikdonkerte gehul. Die voorhangsel van die tempel skeur oop en die ALLERHEILIGSTE word heeltyds toeganklik vir ALLE gelowiges. Nie meer net een keer per jaar aan Kajafas en ander hoëpriesters nie. Die klinkering van Judas se terugbesorgde omkoopgeld weergalm deurlopend-onverklaarbaar deur die tempel. Judas se berou het sy derms sodanig geknoop dat hy homself met ‘n tou om sy nek aan ‘n boom gaan hang het. Hy is dood en sy derms het uit hom uitgebars. Daar is GEEN partytjie by Kajafas se huis nie.

Maar Jesus is dood en dit bring skielik ‘n hopelose Godsverlatenheid mee wat soos ‘n onsigbaar-vergruisende loodkombers neersak op Maria (ima), MariaM, Salomé, Martha, MariaB en ander vroue wat sake van ‘n entjie weg af dopgehou. Hulle harte is stukkend en hulle kan glad nie onthou hoe Jesus hulle meer as een keer vertel het dat Hy weer gaan opstaan uit die dood nie. Hulle Jesus is dood en hulle voel so verlate en so alleen. Die Romeinse soldate aan die voet van die kruis, dieselfde sadistiese martelaars wat Hom meedoënloos vermink het, verklaar meteens vreesagtig; HY WAS WAARLIK DIE SEUN VAN GOD! Hulle is op daardie stadium ongetwyfeld knypspierverlammend-bang as gevolg van die skrikwekkende gebeure. Maar die oorweldigende skuldbesef dat hulle die Seun van God gemartel en vermoor het, ontwaak skielik katatoniese vlakke van wegvreetvrees in hulle.

Tetelestai, dit is volbring!

Jesus Christus, Seun van God, het elke seer van elke mens wat al ooit geleef het, nou leef of nog ooit gaan leef aan Sy eie lyf geVOEL. Hy het boonop geweet dat die seerste seer eintlik skeiding tussen mens en God is en daarom het Hy Homself oorgegee om ALLE sleg, seer en stukkend tot in die boosste graad op Homself te neem en die doodsprys daarvoor te betaal. Hy is gestroop van ALLE waardigheid (Goddelik en menslik) en Hy is wreedaardig gemartel totdat Sy hart, letterlik, geskeur het.

 

§—Oordenking # 8 : STIL SATERDAG volg môre—§

 

“Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: ‘Eli, Eli, lemá sabagtáni?’ Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe het Jesus weer met ‘n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: ‘Hy was werklik Seun van God.’ Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.”
Matteus‬ ‭27‬:‭45‬-‭46‬, ‭50‬-‭51‬, ‭54‬-‭56‬ ‭AFR20‬‬

“Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos ‘n skaap wat ter slagting gebring word, soos ‘n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Ná onderdrukking en ‘n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref.”
Jesaja‬ ‭53‬:‭3‬-‭8‬ ‭AFR20‬‬

“En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan Pilatus uitgelewer. Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.” Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!” Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was. Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat. Daar was ‘n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens ‘n opstand. Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het. Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat. Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?” Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word. Die soldate het Hom weggelei, die paleis, naamlik die pretorium, binne, en die hele kohort soldate byeengeroep. Toe trek hulle vir Hom ‘n purperrooi mantel aan, en sit vir Hom ‘n doringkroon op wat hulle gevleg het, en begin Hom spottend groet: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het Hom herhaaldelik met ‘n riet oor die kop geslaan, op Hom gespoeg, en knielend aan Hom eer bewys. En nadat hulle Hom bespot het, het hulle die purperrooi mantel afgehaal en sy boklere vir Hom aangetrek. Hulle lei Hom toe weg om Hom te kruisig. Hulle het ‘n verbyganger, ‘n sekere Simon van Sirene, wat van die platteland gekom het, die vader van Aleksander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra. Hulle bring Jesus toe na die plek Golgota, wat, as dit vertaal word, ‘Kopbeenplek’ beteken. Hulle wou Hom wyn, gemeng met mirre, gee, maar Hy het dit nie geneem nie. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy boklere deur daaroor te loot oor wie wat sou neem. Dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het. Die inskripsie van die aanklag teen Hom is bo Hom aangebring: “Die koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Ha! Jy wat die •tempel afbreek en in drie dae opbou, red jouself! Kom af van die kruis!” Op dieselfde manier het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!” Ook hulle wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.”
Markus‬ ‭15‬:‭1‬-‭27‬, ‭29‬-‭32‬ ‭AFR20‬‬

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Lulu, Hennie en ek het vanoggend die Stasies van die Kruis, soos aangebied in Pellissier-gemeente en waarvan jy die leeueaandeel rakende die teks gehad het, gaan stap. Nee, ”stap” is nie die regte woord nie. Ons het in ons harte gesteier en met ons voete gestap, soos die groot, tot stomheid geslane skare. Soos hier, het jy die geweldige ontferming van Jesus Christus jeens vroue beklemtoon. Ek het saam met al die ander betraande kruisgangers tydens die vertoning van ‘n klein grepie van THE CHOSEN innerlik gesit en huil. O, die ontferming en begrip, die WEET, van Jesus Christus tydens sy aardse bediening. O, sy diepste kennis van wat in ons aangaan…. En toe, die stukkie uit Passion of the Christ, ‘n filmweergawe van wat jy hier beskryf. Ons kon nie bly kyk nie, Lulu. Maar wat ons gesien het, het saamgekom huis toe. Die lyding van Jesus is opnuut in ons weefsel en bewussyn. Ons kan maar net vir die HERE dankie sê dat Hy jou gekies het om gedurende Paasfees 2025 so ‘n geweldige getuienis tot eer van sy naam deur woorde en deur die uitbeeldings tydens die Stasies van die Kruis te skep. DANKIE, HERE! Dankie, Lulu!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie vir jou egte waardering en mooi woorde, Maretha! Dit was my groot voorreg om te kon deel hê aan my geliefde Pellissier Gemeente se Paasstasies van 2025. ✝️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post